In 2002 het Viv en Robyn Patz die korporatiewe lewe in Johannesburg gegroet en diep in die Knysnawoud kom woon. Hulle het aanvanklik in ’n woonwa gebly en oor die jare heen Teniqua Treetops opgebou tot een van die gewildste blyplekke langs die Tuinroete.

Die boomhuise, wat tot sowat 8 m hoog in die inheemse woud staan, met uitsigte oor die Outeniekwaberg, is gewild onder wittebroodpaartjies. Maar hier is ook eenhede vir gesinne.

Teniqua Treetops is trots ekovriendelik: Jy drink rëenwater en was met rivierwater en die enigste grassnyers is die perde. 

Gaan stap deur die woud, soek Knysnaloeries, groot-rooibandsuikerbekkies en glasogies of swem in die Karatararivier. Hier is ook ’n speletjieskamer, klimrame en ’n swembad by Robyn en Viv se huis. Indien jy die omgewing wil verken, is Sedgefield se strande skaars 15 minute se ry weg. Jy kan ook 3 km van die plaas af die Garden Route Trail Park se bergfietsry- en drafroetes aanpak.

Maar die meeste gaste verkies om by die boomhuise uit te span omring deur eeue oue melkhoutbome, geelhoutbome en fynbos en die woud se stiltes. En waar die grootste aksie vir die dag ’n paar skoenlappers is wat op die stoep verbyfladder...

Geriewe: Hier is 8 ruim boomhuise, ten minste 100 m van mekaar af. Die boomhuise is volledig toegerus met ’n tweeplaatstofie, mikrogolfoond en ’n Weber op die stoep. Die slaapkamers is in luukse tente (met elektriese komberse) en die badkamers het glasvensters. 

Wat pla? As jy ’n fobie vir spinnekoppe het, gaan jy dalk onkant betrap word deur ’n reënspinnekop in jou bad. Maar onthou, dis ’n inheemse woud... 

Hoe kom ek daar? Teniqua Treetops is sowat 20 km noordoos van Sedgefield. Volg die Karatara/Ruigtevlei-afdraai op die N2 tussen Sedgefield en Knysna vir 15,5 km tot by die plaashek. 

Koste: Vanaf R1 870 p.n. (vir 2 gaste) en R2 783 p.n. (vir 4 gaste). Die pryse styg aansienlik in spitsseisoen – sien die webwerf. Maak seker jy bespreek maande vooruit vir skoolvakansies. Dis selfsorg, maar in somermaande kan jy aandetes bespreek. 

Kontak: 044 356 2868; teniquatreetops.co.za