Jy en jou reismaats sit stoksielalleen op moedverloor se vlakte. Julle trokkie is kapoet, jou selfoon het nie sein nie (jy het ook nie ’n satellietfoon nie), en die naaste nedersetting lê etlike ure – selfs dae – hiervandaan. Jy het een van twee keuses: Óf julle bly net daar by die voertuig óf jy stap om hulp te ontbied.

In verreweg die meeste gevalle is dit beter dat almal saam by die voertuig bly totdat iemand op julle afkom, maar soms kry jy ’n hol kol op jou maag en jy weet instinktief iemand gaan omkom as jy nié stap nie. Dít is wat jy moet doen as jy bly óf stap.

Bly by jou voertuig

Hopelik het jy onthou om jou reisplan, met al die plekke en datums, vir ’n betroubare vriend of familielid by die huis te gee. As jy nie op ’n afgespreekte datum van jou laat hoor nie, moet daardie persoon seker maak jou reisplan kom by die regte mense by die owerheid uit sodat die wiele aan die rol kan kom.

Water

Water is jou eerste prioriteit, en as dit lyk of julle ’n paar dae op een plek gaan sit, moet jy dadelik begin rantsoeneer. Moet egter nie té streng wees nie – hoe ironies sal dit wees as jy beswyk aan hitteuitputting terwyl daar nog water in die kan is.

Die menslike liggaam het die vermoë om tot 1,5 l water per uur uit te sweet, maar dit is in ekstreme temperature wat jy nie sommer in Suider-Afrika sal teëkom nie. Nietemin moet julle fisieke arbeid gedurende die dag tot die minimum beperk. Lê eerder laag in die ergste hitte, en werk dan vanaand of môreoggend wanneer dit koeler is.

Oorlewing
Oorlewing

Die Britse SAS-oorlewingsgids voer aan jy moet ’n gat grawe, ’n houer daarin plaas, ’n seiltjie oorspan en ’n klip op die seil neersit. Sodoende sal vog oornag in die houer versamel. Ons het dit in die Richtersveld getoets, met beperkte sukses. Die probleem is dat Suider-Afrika ’n droë klimaat het met min vog in die lug. Jy sweet boonop net soveel water uit om die gat te grawe as wat jy gaan opvang.

Plastieksakkies wat om bossies gedraai word om vog te versamel werk dalk in die Soutpansberg, maar ’n Karoobossie gee nie so maklik sy kosbare water prys nie.

Die heel beste raad wat ons kan gee, is om die water wat jy reeds het spaarsaam te gebruik of ’n nuwe waterbron te soek, soos ’n fontein.

Papkuil
Akkers

Veldkos

’n Mens kan betreklik lank sonder kos oorleef – twee weke, met slegs ligte arbeid, is haalbaar, maar waarom moet jy ly as daar veldkos rondom jou is?

Suider-Afrika het talle verlate plase, en selfs in die dorste streke sal jy soms op ’n akkerboom (Quercus robur) afkom wat ’n boer iewers geplant het. Tel droë akkers van die grond af op – hulle moet egter nie vrot wees nie – en skil hulle tot op die vlesige deel af. Syfer die bitter tanniene uit deur die akkers in ’n emmer warm water te gooi.

Wag tot die water bruin word, gooi die water uit en tap dan vars water in (ons neem aan jy’s naby ’n rivier of ’n fontein). Sodra die water helder bly (die hele proses duur ’n dag of twee) is hulle gereed om soos grondbone gerooster en geëet te word.

Die oumense het akkers fyngemaal en brood gebak daarmee, maar jy moet jou eerder op oorlewing toespits as luukshede.

As jy naby ’n fontein of rivier gestrand is, wees op die uitkyk vir papkuil (Typha capensis) – dit kom oral in Afrika voor. Trek ’n paar polle uit en kap die wortels en groen blaargedeeltes af. Die jong, wit stam is eetbaar – rou óf gaar.

Maak soos die Namas van die Richtersveld en vee ’n groot stuk rondom jou kamp skoon.

Gevaarlike diere

As jy by jou voertuig bly, moet jy veral pasop vir skerpioene. Maak soos die Namas van die Richtersveld en vee ’n groot stuk rondom jou kamp skoon en hou dit rondom skemertyd fyn dop. Skerpioene kom graag snags uit en kry jou dan aan die groottoon of hakskeen beet.

Die outjies met die dun stertjie en groot knypers (die Scorpionidae-familie) is skadeloos, maar die menere met die dik stert en klein knypers (die Buthidae-familie) is gevaarlik.

Dit is onwaarskynlik dat ’n volwasse mens sal beswyk aan ’n skerpioen se steek. Daar is egter een spesie, die Parabuthus granulates, wat ’n paar lewens per jaar in Suid-Afrika, Namibië en Botswana eis – ongelukkig meermale kinders. Laat die kleinspan dus hulle stewels laatmiddag aantrek en deursoek die tent deeglik vóór jy hulle bed toe stuur.

Die simptome van ’n ernstige steek is hartkloppings, koors, geweldige pyn en rusteloosheid. Pynpille kan die simptome vererger en jy moet eerder uithou en aanhou tot die pyn vanself weggaan.

Merk die grond
Merk die grond

Merk die grond

As jy by jou voertuig bly, sal dit help om die volgende tekens met klippe uit te pak waar ’n helikopter of ligte vliegtuig dit duidelik kan sien. ’n X beteken jy’t mediese hulp nodig en kan nie uitstap nie, en ’n F beteken jy het kos en water nodig.

Loop en soek hulp

As jy versuim het om jou reisplanne met iemand te deel vóór jy in die verknorsing beland het, of ver van jou beplande roete afgedwaal het en nou op ’n spoor is wat lyk of dit maande laas gery is, moet jy oorweeg om uit te stap.

Los ’n briefie teen jou ryding se voorruit met jou naam, datum en jou naasbestaandes se kontakbesonderhede.

Water

Probeer om die meeste stapwerk vroegoggend of -aand te doen wanneer dit koeler is. Pasop net dat jy nie in die duister skeef trap en ’n enkel swik nie.

Dra soveel water as wat jy kan en, as jy een het, ’n watersuiweringstoestel. In plekke soos die Karoo en Namakwaland gaan jy soms kortpad óór ’n koppie wil neem eerder as om daaróm te loop. Dit is ’n fout. Spaar water deur op plat, maklike grond te slenterstap eerder as wat jy sweet deur te klim en klouter.

Veldkos

As jy by jou voertuig bly, kan jy met min kos klaarkom, en as jy stap, het jy ekstra energie nodig. Hier is ’n paar bossies waarvoor jy op die uitkyk kan wees:   Die katdoring (Asparagus africanus) groei reg oor Suider-Afrika, maar meer dikwels in klowe en rivierlope waar dit koeler en klammer is. Knibbel aan sy sagte takkies, want dit gee nie net ’n klein bietjie water nie, maar ook hope vitamien C.

Jy sal hom herken aan sy klein wit blommetjies, klein groen bessies en varingagtige blare.  

Nóg ’n bossie wat in Suider-Afrika voorkom, is die korentebos (Searcia tomentosa). Soos jy uit die naam kan aflei, het dié plant rosyntjieagtige bessies wat jy kan eet. As hulle groen is, is hulle suur en bitter, maar eet hom bruin en hy is lekker soet.  

Die sade van die kremetartboom (Adansonia digitata) smaak vorentoe, amper soos nougat, en is boonop besonder vullend.

Kyk ook uit vir ghaap (Hoodia gordonii), ook bekend as bokhorings. Dié kom in die droër dele van ons land voor. Dit is ’n stekelrige vetplant met vlesige blomme en jy eet hom net so rou (skil net eers die dorings af). Hy gee nie net water nie, maar demp ook jou eetlus sodat dit voel asof jy pas ’n groot bord kos geniet het.  

In die Namib en Kalahari sal jy in Meimaand die heerlike knolswam die !naba kry. Kyk fyn op die grond waar krakies vorm, asof iets van onder af probeer opstoot: Dit is moontlik ’n skurwe ronde bolletjie wat herinner aan ’n klein aartappel. Gooi hom net so op die kole en skil hom af vóór jy hom eet, óf skil hom rou en kook hom in ’n potjie.

Katdoring
Korentebos
Kremetart
!naba
Ghaap

Gevaarlike diere

Leeus, buffels en renosters is gevaarlik, ja, maar dis meermale ’n slang waarvoor jy moet ligloop. Slegs 11% van die sowat 170 slangspesies in Suider-Afrika is egter potensieel dodelik, en as jy deur een van hulle gepik word, sê Johan Marais, skrywer van die gids Slange & slangbyt, is daar slegs ’n 20%-kans dat jy teengif moet kry.

Iemand wat deur ’n slang gepik word, kom meestal niks oor nie – die noodlot is dus aan jou kant as ’n slang jou pik.

Selfs uiters giftige slange kan hulle giftoediening reguleer en dit is baie min dat ’n slang ál sy gif op jou gaan mors. Dra nietemin stewels, dik sokkies en ’n langbroek as jy gaan stap om hulp te kry.

Die gevaarlikste slange is mambas, kobras, adders en boomslange. Die Kaapse kobra en swartmamba is verantwoordelik vir die meeste sterftes in Suider-Afrika, hoewel die tipe Kaapse kobra wat in Botswana en Namibië voorkom, nie naastenby so giftig is as dié in die Wes-Kaap nie.

Die behandeling vir slangbyt wissel van slang tot slang. Vir party moet jy die wond met ’n drukverband toedraai; vir ander moet jy die wond net so los.

Dit is té ingewikkeld om die verskillende behandelings hier te bespreek. Kortom, volg die volgende gebooie:  

  • Bly kalm, maar tree vinnig en doelgerig op.  
  • Probeer die slang uitken, maar moenie hom probeer vang nie.  
  • Verwyder horlosies, juweliersware en noupassende klere, ingeval swelling ontstaan.  
  • Moenie ’n toerniket aanwend nie.
  • Moenie die wond sny of die gif probeer uitsuig of uitpomp nie.
  • Moenie ys of alkohol aanwend nie.  
  • Lê stil totdat die ergste simptome bedaar.

Ja, dit gaan geweldig seer wees, maar onthou, sterftes weens ’n slang se byt is betreklik seldsaam. Sterkte, ou maat.

Pofadder
Swartmamba
Kaapse kobra

Merk die grond

As jy gaan uitstap, moet jy met klippe ’n enorme pyl naby jou ryding pak wat wys in watter rigting jy stap. Hou by daardie koers en maak elke oggend wanneer jy jou staptog hervat, nóg so ’n pyl sodat reddingswerkers jou kan volg.

Die Bear Grylls-kelkie...

Dié Britse avonturier voer aan in ’n noodgeval kan jy jou eie urine drink. Hou egter in gedagte urine bevat opgeloste metale, baie sout en ’n bietjie bakterieë.

As jou urine helder is, soos kraanwater met net ’n effens kleurtjie, is dit betreklik veilig om te drink, maar as dit goudgeel is, veral donkergeel, moet jy dit glad nie drink nie.

Dié “goeie” urine is omtrent so veilig as seewater – en niemand stel ooit voor jy drink seewater ter wille van oorlewing nie.

Sodra jou trokkie vasgeval het en dit is duidelik jy gaan ’n paar dae hier vertoef, kan jy jou heel eerste, helder piepie in ’n leë bottel opvang en bêre vir ’n noodgeval. Jy kan daai eerste piepie met verdamping distilleer om van die ergste smaak en soute ontslae te raak.

As jy egter wag totdat jou laaste drinkwater op is en jy nóú eers besluit om in ’n bottel te piepie, gaan jou donkergeel urine giftig wees. As jy dít drink, gaan jy waarskynlik opgooi en nóg verder ontwater.

En ja, ’n waterfiltreerder kan inderdaad die opgeboude bakterieë in geel urine verwyder, maar dit kan niks verander omtrent die gekonsentreerde metale, urea en soute nie. Kortom, jy’t één kans, en dit is om van jou heel eerste piepie te gebruik – mits dit helder en betreklik skoon is, en selfs dan is dit slegs vir uiterste gevalle bedoel.

Ons raai jou oor die algemeen af om dit te doen. As jy hormoonbehandeling of medikasie neem vir ’n chroniese siekte, moet jy dit nie eens oorweeg nie.

Leer uit die geskiedenis

1972

’n Uruguayse passasiersvliegtuig stort in die Suid-Amerikaanse Andesgebergte neer. Altesame 5 van die 45 mense aan boord sterf in die ongeluk. Die oorlewendes bly by die wrak, maar 60 dae en 29 sterftes later besluit 3 dapper rugbyspelers om uit te stap en hulp te ontbied.

Altesame 16 uit die 45 word op dié manier gered.

2008 

Die voertuig van ’n Suid-Afrikaanse egpaar breek op Van Zylspas in Namibië. Hulle wag twee dae lank stoksielalleen by hulle ryding terwyl hulle water stadigaan opraak. Terwyl hulle deur die dood in die gesig gestaar word, kom ’n Himba-herder uit die niet te voorskyn. Hy deel sy water met hulle en neem die egpaar na sy kamp in ’n kloof waar gesondheidswerkers hulle later kom haal.

2019 

Drie vriende verken die Australiese Outback toe hulle voertuig in ’n droë rivierloop vasval. Hulle spook 3 dae lank om die kar uit te grawe, maar ná die 7de dag besluit twee om uit te stap en hulp te ontbied. Die derde persoon wat by die voertuig wag, word ná 12 dae gered, maar die twee stappers is tot vandag toe nie gevind nie. 


Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook