Skets Alex van Houwelingen

Sowat 20 jaar gelede, terwyl ek nog in Bloemfontein gestudeer het, het ek ’n meisie van Carnarvon in die Karoo ontmoet. Ek het nie ’n idee gehad waar die plek was nie, en ook nie hoe die landskap daar lyk nie. Dalk soos die Kalahari, met sy sandduine en ooptes?

Ek was ’n mynerseun van Virginia net duskant Welkom in die Vrystaat, en die enigste koppies en duine wat ek geken het, was mynhope en slikdamme.

Nadat die universiteit vir die wintervakansie gesluit het, is ek saam met haar Carnarvon toe in haar blou Nissan 1400-bakkie. Anderkant De Aar het ek kennis gemaak met my eerste Karoo-sonsondergang in skakerings van pienk, ligblou en pers. Dié sonsondergang is een van die redes hoekom ek jare daarna gehunker het om terug te keer na die Karoo.

Op Carnarvon gekom, was daar die beroemde Blikkiesbar, die gasvryheid van die inwoners (onder andere die bure, oom Johnny en tannie Driekie), en die oorvloed dorpertjops.

Dié sonsondergang is een van die redes hoekom ek jare daarna gehunker het om terug te keer na die Karoo.

Dié het my maag so laat rek dat ek gevoel het soos ’n weeskind toe ek later terugkeer Bloemfontein toe en weer op ’n studentebegroting moes eet. Maar: die dorp het in my hart gekruip.

Dit was ook hier, maande later met ’n opvolgkuier, waar ek my eerste springbok met ’n .243 geskiet het. Uit ’n jagstoel op ’n klipkoppie – met ’n sweetpakbroek onder my denim, tien patrone in my sak, ’n kosblik met hamtoebroodjies, die snerpende wind wat deur my hare waai en my oë wat moeg gesoek is na bokke op die horison – het ek die eerste keer in my lewe stilte ervaar.

Ware stilte, daar waar jy ’n vrou met ’n altstem in jou kop hoor sing en jouself moet beteuel om nie weg te hardloop nie. Dit het vir my gevoel asof die veldgoggas en gediertetjies ook stilgebly het sodat ek kan luister na haar ysterklip-serenade.

Soos studenteliefde maar gaan, is ek en die meisie uitmekaar. Ek het egter probeer om my bande met die Karoo te behou. Ek het weer een keer saam met ’n vriend gaan jag, en een keer van Kaapstad af op pad terug Bloemfontein toe gestop om hallo te sê. Ek het ’n paar jaar deur e-pos kontak gehou met oom Gerrit en tannie Louisa, die meisie se ouers. Maar ja, uit die oog, uit die hart, en die lewe gaan aan.

Ná my studie is ek vir ’n paar jaar oorsee en toe na die Goudstad om te werk. Af en toe het ek iets oor die Karoo raakgelees, gewoonlik in Deon Meyer se boeke of berigte oor die SKA-projek buite Carnarvon.

Intussen is ek verloof en in die proses sommer ’n baba ryker: Rijger, wat vandag al amper drie jaar oud is. Soms, as ons op die stoep staan van ons woonstel in Parkwood, Johannesburg, wys Rijger met sy vingertjie na die “stelletjies”. Een aand wonder ek: Wat sal hy maak as hy die Karoo se sterrehemel moet sien? Nie dowwe skynsels wat moet baklei om ’n plek tussen die stadsligte en besoedeling nie. Sterre wat aan trosse hang en jou bang maak dat die verskynsel sy betowering sal verloor as jy te veel daarna kyk.

Nog iets hinder my in die stad – as dit reën, ruik jy dit nie. “Hier is nie genoeg grond nie,” het iemand eendag vir my gesê, “te veel geboue, te veel sement.”

Toe het ek geweet: Dis tyd om weer die pad Karoo toe aan te pak, byna twintig jaar ná my eerste besoek.

Ons ry net ná donker ’n spookdorp binne. Daar is net beweging by die polisiestasie

Soos die geluk dit wil hê, het een van my kollegas ’n huis op Loxton. Ek bespreek toe die plekkie (met die gepaste naam Sunnyside) vir tien dae oor Desembermaand. Op my ma se 80ste verjaardag, die oggend voor ons vertrek, sê een van my broer se vriende hy hoop ons betaal nie vir die verblyf nie, “want wie sal nou wil Loxton toe gaan oor Desember?”

Min het hy geweet hoe nodig ons die vakansie gehad het. Ek, my verloofde, Almerie, en kleuter Rijger het toe die 600 km aangepak.

Soos ons ry, duik herinneringe op. Die smal brug by Koffiefontein, die lowergroen plase naby die Vanderkloofdam en die helder water van die Oranjerivier. Maar die windturbines naby De Aar is nuut vir my, asook die sonpanele as jy De Aar van Philipstown se rigting af binnery.

Net buite De Aar op pad na Britstown, vra Almerie dat ek die motor van die pad aftrek. Dit het saggies begin reën. En toe ruik ek dit – stof. Nooit het ek gedink dat ek so ’n eenvoudige verskynsel soos reën op grond sal mis nie.

Donderbuie het rondom ons geval. In ’n stadium val daar ’n bui op een van die lande waar ’n strook son skyn, en dit lyk summier of die stof opslaan van die donderbui.

Ons stop gereeld, en Almerie en Rijger red ’n skilpad uit die pad net voor Victoria-Wes. Daar doen ons die hotel in Kerkstraat aan. By ’n tuisnywerheid agter die hotel koop ons skaapstertjies en tjops om later te braai. Ons eet iets kleins teen baie billike pryse; ons is gewoond aan uitbuitery in Gauteng. Toe pak ons die laaste 70 km na Loxton.

Ons ry net ná donker ’n spookdorp binne. Daar is net beweging by die polisiestasie. Ons moet die sleutel kry by Steve Symms om die huis oop te sluit. Wat ’n verrassing. Die huis, ten volle gerestoureer, laat ons dadelik voel of ons terug is in ’n vergete era.

Ons dae verloop eenvoudig – slaap laat, eet van die vorige aand se braaivleis, lees, gaan stap met die kleuter op sy driewiel in die stofpaaie, braai, slaap. Die volgende dag herhaal jy net weer die proses. Twee hangmatte, gespan tussen reuse-peerbome, is waar ek die meeste van my tyd met ’n boek deurbring.

Een dag ry ons Carnarvon toe om vleis te koop. Tannie Louisa en oom Gerrit woon steeds daar en is blakend gesond. Die Blikkiesbar staan ook nog. Die dorp het nie veel verander vandat ek laas daar was nie.

Op sekere dae word water van Loxton se natuurlike fontein af in vore langs die sypaadjies na die huise se tuine gelei. Ons was gelukkig omdat ons huis ’n swembad gehad het wat met leiwater gevul word – om af te koel wanneer die son bak.

Vir die eerste keer op ons vakansie het dit gevoel asof die dae stadig verbygaan, nie soos vakansies by die see nie. Dáár is dit mos altyd ’n gejaag om by die strand te kom, of by ’n winkelsentrum, of by ’n restaurant.

In Loxton het ons tyd om met mekaar te gesels, sonder ’n televisie of skootrekenaar, of slimfoon wat in die agtergrond raas. Jy is nie bekommerd as jy nie die voordeur gesluit het nie.

Jy loer nie oor jou skouer as jy gaan stap nie. Die gesuis van die wind deur die dennebome het ’n kalmerende, hipnotiese uitwerking op jou.

Een laatmiddag – alleen – klim ek teen die koppie uit wat na een kant uitkyk oor die dorp, en na die ander kant die dorpsdam. Daar in die stilte, in die koelte van die dorpskoppie, het ek gebid vir my gesin, en seën vir die nuwe jaar. Maar ek het ook gebid dat hierdie wêreld ongerep sal bly en dat die stilte nooit sal verdwyn nie. Dat die stad se geraas nooit dié vlaktes sal bereik nie.

Op Kersaand, voor ons vertrek die volgende dag terug na Johannesburg, ry ons ’n ent met die Fraserburg-grondpad. Ek sit die motor af en laai vir Rijger uit sy kinderstoeltjie. Dis ’n wolklose aand. Ek gaan staan voor die motor en wys hom die hemelruim. Sy mond hang oop. Hy wys met sy vingertjie na die hemelruim, en, wat ek kinderlik wou glo, die Drie Wyse Manne.

“Stelletjies” sê hy. En ek weet dié is die beste besluit wat ek in ’n lang tyd geneem het. En ek gaan beslis nie weer twintig jaar wag voordat ek terugkeer nie.