Ek en my vrou, Cara, het albei ons eie mooi herinneringe van Yzerfontein se munisipale kampterrein. Ons ruil soms stories uit van daai eerste soen en kattekwaad in die skoolvakansie. Dit is seker 15 jaar sedert ek óf sy laas daar was en daarom het ons besluit om weer daar te gaan kamp en te sien hoe die kampterrein verander het sedert ons jongdae – vir ’n bietjie nostalgie.

Vertel ons meer oor die kampterrein

Die kampterrein is baie soos ons dit onthou, selfs deur die rooskleurige bril van ons herinneringe. Ons het ’n staanplek naby aan die see gekry met genoeg bome vir koelte. Dit was maklik om kamp op te slaan, want jy sukkel nie om jou penne in die sand-en-skulpiesgrond in te slaan wat die meeste van die kampterrein bedek nie.

Die opvallendste eienskap van ons staanplek was dat ons ’n braai met ons bure moes deel. Hoewel dit seker nie in almal se smaak val nie, was dit vir ons opwindend om vreemdelinge te leer ken en vinnig vriende te raak terwyl ons ’n vuur, kole en drankies deel.

Myns insiens is kampmense ’n unieke soort mens met baie dinge in gemeen – hulle is meestal gesellig, mededeelsaam en op soek na dieselfde vreedsame ervaring wat ontspanning betref.

Ek en my vrou het elke dag op die strand gaan lê. As jy ons nie hier raakgeloop het nie, was ons op ons fietse met die kuspad langs na Yzerfontein se hawe op pad, sowat 2 km suid van die kampterrein. Hier is restaurante en kroeë langs die kuspad waar jy middagete en drankies teenaan die see kan geniet.

Hoe lyk die ablusiegeriewe?

Hier is vier ablusieblokke – een grote en drie kleineres. Die toestand van die een naby ons staanplek was heel skaflik, veral as ’n mens in ag neem dit is ’n munisipale kampterrein, maar ek dink tog die ablusiegeriewe kort ’n bietjie aandag, veral omdat dit so ’n gewilde kampplek is.

Jy kry darem ’n persoonlike stel sleutels vir die ablusieblokke. Dit laat ’n mens veiliger voel as jy of jou vrou in die middel van die nag ’n draai moet loop.

Is hier ’n kampwinkel?

Hier is ’n algemene handelaar stapafstand van die hoofhek af – op die hoek van Park- en Volstruisstraat. ’n Mens hoef dus nie ver te soek vir voorraad nie. Daar is ook allerlei winkels in Yzerfontein se middedorp.

Ons het ’n heerlike ervaring by Yzerfontein se kampterrein gehad, selfs 15 jaar ná ons vroeëre besoek. Ons sal dit beslis aanbeveel as jy hou van ’n vol samesyn teenaan die see.

Meer inligting

Kontak: 022 451 2211; swartland.org.za; yzftnpark@swartland.org.za

GPS: S33.33962 E18.16338