foto’s Kyle Kock
4x4-Bestemming
4x4-Bestemming

Jy het pas in die KwaZulu-Natalse Suidkus uitgespan en elke ledige uur agter die braairooster geniet. Elke nou en dan het jy wéér gespog met die Bokke se Wêreldbekerkroon terwyl die kinders in die branders baljaar.

Vóór jy begin oppak, gaan sit en oorweeg die paaie en roetes waar daar sand en klip onder die bande is en waar die uitsig jou sal omboul. Dit gaan jou waarskynlik agt dae neem om by die huis te kom (ingesluit is die opleidingsessie by die laaste bestemming), maar sien dit so: Jy vermy al daai irriterende tolhekke en die meeste van die duisende Suid-Afrikaanse toeriste wat die langpad terug huis toe aanpak.

Spring weg in Kingsburgh en kies koers in die rigting van Gauteng. ’n Rit deur suikerrietplantasies met die R603 bring jou by die Gwahumbe-spa-en-lodge uit – ’n luukse oord wat ook ’n verskeidenheid roetes vir 4x4-entoesiaste bied. Draai links van die R602 af in die rigting van Mid-Illovo (by S29.911744 E30.583025); net ná die enigste vulstasie op die dorp skiet jy dan links na Gwahumbe.

Bel vooruit en bespreek plek in ’n eenheid waar kamerdiens verskaf word, of as jy saam met ’n groep avontuurlustiges is, bespreek die hele boskamp wat slaapplek het vir tien mense.

Die hek is onbeman, maar die ontvangspersoneel laat jou inkom wanneer jy die interkomklokkie lui. Wanneer jy deur die hek is, sal jy ’n paadjie al langs die heining aan die linkerkant sien – dis die een wat jou by die rivier en piekniekgrot sal uitbring. Maar hou vir eers reguitaan, hou regs by die vurk en volg die pad tot by die ontvangskantoor, waar jy met ’n verfrissende warm handdoek verwelkom sal word om van die ergste KwaZulu-Natalse humiditeit ontslae te raak.

Nadat jy die tarief vir die veldroete betaal het (R90 p.p. en R70 per voertuig), kry jy ’n kaart wat die reservaat se besienswaardighede aandui. Soos jy by die verwelkomingsgebied uitry, besef jy die roete begin op ’n bergrant. Hou links as jy die taaier opsie verkies wat 4x4-modus vereis. Jy kan ook regs swenk en eers die Mzigi-kamp, Thirsty’s Deck en die waterval besoek – padpredikante sorg dat jy dié maklik vind.

Dis nog nie nodig vir 4x4 nie, maar haak jou ewenaarslot – die toestande was gunstig met ons besoek en daar was dus nie veel probleme nie.

Draai regs by die T-aansluiting. Jy sien sommer dadelik hoekom dit aanbeveel word dat jou voertuig ’n goeie grondvryhoogte moet hê. Moenie oorhaastig wees nie, want daar is geleentheid om wild te besigtig. Die sebratroppe is redelik gewoond aan voertuie en sal nie sommer hoef in die wind slaan as jy aangery kom nie.

Vat nou die pad na Thirsty’s Deck – ’n uitkykpunt waar jy ’n onbeperkte uitsig het op die krans wat bo Hippo Pool uittroon.

Die roete lei jou na die Mzigi-boskamp, waar jy in baie basiese strooidakhutte kan bly. Jy moet die hele kamp bespreek, maar dit kos jou nie veel meer nie as verblyf vir twee mense in een van die luukse opsies waar drie maaltye ingesluit is. Die boskamp het ’n uitsig op ’n stroom en tussen die vyf hutte is ’n lapa. Regs, soos jy die kamp binnery, is ’n kombuisie, spoeltoilet en warmwaterstort in dieselfde klein gebou, en links ’n braaiboma.

Die lowergroen blaredak wat Mzigi omring, beteken jou pad gaan waarskynlik kruis met dié van ’n kameelperd, al kouende aan iets ver buite jou bereik. Net ná die kamp is ’n pad wat na links swenk. Dit neem jou oor die stroom – wat jy van die boma af kan besigtig – en op teen ’n wal aan die oorkant. Dis hoe jy die piekniekplek en waterval bereik, waar jy straks ’n troppie duikers kan sien wei net voor hulle in die ruigtes verdwyn. Dan steek jy dieselfde stroom oor – maar hier is dit dieper.

As jy dieselfde pad terug volg en al die pad aan die regterkant hou, moet jy 4x4 haak, want die roete neem jou al die pad tot by Hippo Pool. Daar is nog twee plekke waar jy water moet oorsteek, en as dit onlangs gereën het, sal die modder dít ’n interessante ervaring maak. Die seekoeie het hulle skaars gehou met ons besoek, maar die wildebeeste het ’n hanetree van ons af rustig in die lang gras gewei.

Vat nou die pad na Thirsty’s Deck – ’n uitkykpunt waar jy ’n onbeperkte uitsig het op die krans wat bo Hippo Pool uittroon. Met ’n langlenskamera sien jy hoe roofvoëls geduldig wag vir hulle volgende maaltyd daar onder. En as die natuur sou roep, kan jy ’n draai loop in die Loo with a View – ’n buitetoilet net ’n paar treë van die uitkyk- en piekniekplatform af.

Hou regs by die vurke in die pad om die rivierroete-afdeling te bereik. Dit is waar jy die meeste op laestrek sal staatmaak, want dit is die rotsagtigste deel van die roete.

Ná ’n reënbui is dit plek-plek glad, maar oor die algemeen oorskry die roete nie ’n vlak 3-gradering nie. As jy nie iets lafs aanvang nie, sal jy oukei wees. As jy vasval, gaan jy R400 moet opdok om gehelp te word.

Die pad neem jou na die Cave-piekniekplek. Dis nie eintlik ’n grot nie, maar eerder ’n oorhangrots waar jy kan uitspan om jou toebroodjies en koffie te geniet. Afhangende van hoeveel tyd jy op die roete van 11 km deurbring, hoe lank jy stilhou vir iets te ete of om wild te besigtig, gaan die tog jou tussen 2 uur en 4 uur besig hou. Oornag daar en verkwik jouself in die omgewing.

Vermy die hoofroetes die volgende dag deur een te neem wat op die oog af ’n kortpad is na die nabygeleë Killarney-4x4. Hou regs in die rigting van die R603 en vermy die versoeking van die vinniger roete wat jou GPS voorstel.

Kies eerder die MR489-grondpad wat jou deur klein dorpies lei, voor jy links draai op die MR589. Hou verby die Denny-sampioenaanleg en draai links, weg van die N3 in die rigting van die Shongweni Farmers Market. As jy nie haastig is nie, kan jy stilhou en kyk wat by die 150 stalletjies op aanbod is – hier is heerlike vars produkte. Jy kan ook sommer iets te ete kry of proviand aanvul, want Killarney is om die draai.

Jy behoort nie die afdraai na Killarney-4x4 te mis nie, want daar is verskeie padpredikante wat jou van die MR551 af tot by die Nshoweno-treinstasie lei, vóór jy links draai in Killarney se rigting.

Daar’s ’n kort grondpad wat ’n ruk lank al met die treinspoor langs loop voor dit die natuurlike kontoere van die heuwels begin volg. Die pad eindig na links, waar die geriewe is, maar hou reguitaan na die hek en meld aan by die kantoor, waar jy ook ’n kaart sal kry van die 200 ha-eiendom.

Dit kos R110 per voertuig vir ’n dagbesoek óf per nag as jy kamp. Volwassenes op dagbesoek moet R60 p.p opdok (R30 vir o.12’s), of R110 en R55 onderskeidelik om te kamp. Geen kaartgeriewe is beskikbaar nie; bring dus genoeg kontant. Tot onlangs toe nog was die plek te koop, maar 4x4-entoesiaste kan hulle sterre dank dat die eienaars besluit het om dit oop te hou.

Jy moet tent opslaan om gemaklik in die kampterrein-en-piekniekplek – oorkant die swemband met sy rotsformasies, massiewe lapa en ablusiegeriewe – te slaap. Hier en daar is kragpunte en baksteenbraaiplekke, en jy sal waarskynlik ’n verlengkoord nodig kry as jy elektrisiteit soek.

Killarney-4x4 word basies in drie duidelike afdelings verdeel: Crocodile Area, Nightmare’s Creek en Sandpit. Eersgenoemde is aan jou linkerkant soos jy met die heuwel af na die kampterrein toe ry. Dele daarvan word as ’n vlak 2-hindernisroete gegradeer, maar as daar onlangs reën geval het, kan die modderputte as vlak 4 beskou word, want jy gaan nie dáár deurkom sonder breë bande, vernuftige vaardighede en die nodige momentum nie.

Moet nou nie dwars wees nie– ry deur een van Killarney-4x4 se modderbaddens. Só lyk jy sommer deel van die 4x4-pret sonder om die idee te skep dat jy dalk op die kantlyn staan.
By Killarney-4x4 is iets vir almal. Of jy nou ’n groentjie is of ’n klipvreter van formaat, bring die gesin saam vir ’n dag of ’n naweek en kom spring in die bergpoel, kom gly af op die glybaan, óf gooi ’n vleisie op die vuur.

Vind by die ontvangskantoor uit watter dele buite perke is – die grootste deel van Nightmare’s Creek was met ons besoek gesluit. Dis taamlik ruig en daar is al voorheen versoek dat minstens twee voertuie saam vertrek. Die een pad na die uitkykpunt wat wel oop was, het nie veel laestrek geverg nie en dit was nie nodig om die banddruk te verlaag nie. Oor die res van die roete kan ons nie kommentaar lewer nie.

Dit voel of jy Killarney verlaat as jy huise aan jou linkerkant begin gewaar, maar aan die bopunt, reg voor ’n ry van hulle, draai jy dadelik links en dan wéér links tot op ’n grasperkie van waar jy ’n lieflike uitsig het oor bedrywighede in die kampterrein en die stertkant van die laaste afdeling, Sandpit.

’n Groot deel van die eiendom word deur Sandpit gedek, en dis ook hiernatoe waarheen die meeste besoekers daagliks koers kies. Soos die naam aandui, is die hindernisse letterlik heuweltjies en klein lowerbedekte duine, maar jy gaan ook ’n rivier moet oorsteek. Glo maar gerus die roetekaart wat aandui dat die suidelikste oorsteekpunt ’n 4-5-gradering het. Ons het ’n verkeerde afdraai geneem en ons skielik voor ’n muur van rotse bevind. Dit het 100 m in trurat geverg vóór ons kon omdraai. Moenie jouself bluf nie: Hierdie is klouterterrein.

Die res van Sandpit is ’n heerlike speelplek waar jy groepe sal teëkom wat vir die naweek kom kamp, sowel as mense van die omgewing wat op dagbesoek is. Killarney se hekke open om 08:00 en sluit om 18:00, maar as jy die naweek oorslaap, kan jy uiteraard tot ounag rondrits.

Wees gewaarsku: Daar is geen herwinningsdiens na-ure nie; moet dus nie per ongeluk jou duur nuwe ryding in die rivier gaan parkeer nie. Dit gaan jou die volgende dag R250 kos om jou wiele te herwin, en ook net as daar ’n insleepvoertuig beskikbaar is.

Ná Killarney is jou 4x4-opsies taamlik beperk wat veldry-uitstappies betref, maar jy kan die skilderagtige roete na die Karkloof-reservaat oorweeg. Dit gaan jou minstens twee uur neem met die N3 langs, maar jy hoef mos nie Maandag al in die stad te wees vir daardie belangrike vergadering nie. Kies dus die langer ompad wat jou verby Impendle neem – dit is sowat vier uur se ry.

Dis meestal ’n goedgegradeerde teerpad as jy van die N3 afdraai op die R617, aansluit by die P127-1 en net voor Impendle, by S29.610159 E29.875961, links draai op die Stoffeltonpad. Kort nadat jy die Nzingarivier oorsteek, draai regs en volg die gelyknamige pad. Die teerpad eindig ná die hoërskool, maar die grondpad wat daarop volg, is heel gangbaar.

By die vurk in Lower Lotheni-weg, hou regs teen die bult uit en hou aan met die pad in die rigting van Nottingham Road. Jy steek weer die Nzingarivier oor, dié slag oor ’n smal bruggie. Die uitsig wat jy op dié ompad het, maak dit die moeite en tyd werd. Jy is nou na aan die hartjie van die Middelland en sien al hoe meer suiwelplase.

As jou maag grom teen die tyd dat jy Nottingham Road bereik, maak ’n draai by die Bierfassl-restaurant vir eg Oostenrykse en Beierse geregte en die plaaslike Notties-bier. Of hou koers na die N3 en gaan hap ietsie by Linga Lapa – dié plek is bekend in die omgewing vir sy slaghuis en steaks.

Maak die tenk vol by die BP oorkant die pad en kry sommer voorraad vir die pad by die plaasstal daar vóór jy met Curry’s Post-weg by die P-145 uitkom en dan links draai in Karkloof se rigting. Die grondpad is heel gangbaar tot by die vierrigtingkruising. Jy hou reguitaan en volg die padpredikant wat “Karkloof Reserve (West)” wys. Deur die hek is dit nog 1,5 km tot by die Rockwood-lodge se ontvangskantoor.

Om in die Karkloof-reservaat te ry moet jy in die Rockwood-lodge bly. Daar is verskeie verblyfopsies – twee skaars ’n klipgooi van die ontvangskantoor af. Die Farm Cottage en Farm House is neffens mekaar en het onderskeidelik slaapplek vir vier en agt. Hulle bied allerhande luukshede om jou verblyf te vergemaklik, maar die kinders sal straks in die speelterrein buite wil kerjakker. Luister na die waarskuwings en hou die kleingoed weg van die ngunibeeste wat op die plaas geteel word; hulle is allermins troeteldiere.

Om by die Forest- en Mountain-lodge uit te kom (wat slaappplek vir ses het), het jy ’n goeie grondvryhoogte en 4x4-modus nodig. As jy Forest kies, moet jy vier strome oorsteek terwyl jy dit al dieper waag in wat basies as ’n digte woud geskryf kan word – takke hang plek-plek só laag dit vee die stof van jou voertuig af.

Dit is só diep in die boendoes dat jy beperkte selfoonontvangs het (die Vodacom-sein was morsdood met ons besoek). Op pad ry jy verby KZN Wildlife se kantore, maar moenie jou bekommer oor die veldwagters as jou plek bespreek is nie. Wees eerder op jou hoede vir die bergfietsryers in die reservaat, want die fietspaadjies kruis plek-plek met die 4x4-roete. As jy fiks genoeg is, stap na die Godwini-waterval naby die Forest-lodge – dit gaan jou ongeveer 40 minute neem.

Die Mountain-lodge is in die oostelike deel van die reservaat, waarvan ’n deel vóór ons besoek onder ’n veldbrand deurgeloop het, met stompe wat die pad plek-plek versper. Dis ’n taai roete en sommige dele is baie ruig – maar oor die algemeen oortref die roetes in Karkloof nooit ’n graad 3-gradering nie. Die tweede afgeleë lodge is die volmaakte wegspringplek om Canopy Falls te besoek en ook vinnig toegang tot die Karkloof Canopy Tours se foefieslaaidritte te kry – maar jy moet eers ’n sleutel by ontvangs oppik. Dis nuttig om dié sleutel te hê, want daarsonder word ’n afdraanderit van 1 km skielik ’n 20 km-lange rit uit die reservaat en dan terug na die amptelike ingang.

Karkloof Canopy Tours bied 10 kabelritte waarvan die langste een minstens 200 m is – en dit neem jou deur die naasgrootste inheemse woud in Suid-Afrika. As jy nie so avontuurlustig is nie, maar kans sien vir ’n stappie in die woud daar onder, neem jou kamera saam en probeer die kleurryke dog skugter knysna- of bosloerie afneem.

Draai regs nadat jy by die amptelike ingang uitry om Karkloof Falls ’n bietjie meer suid in die pad af te besoek. Nadat jy die Sappi-plantasie binnery, is dit 6 km tot by die piekniekplek en uitkykplatform. Toegang is gratis en dis ’n gawe plek om die omgewing mooi te besigtig voor jy weer die pad vat.

Hervat jou reis noordwaarts deur terug te ry langs Karkloofweg, wat ’n grondpad word voor die afdraai na die Bushwillow-woonwapark. Die papierreuse Mondi en Sappi is in die omgewing gesetel; wees dus op die uitkyk vir groot, stadige handelsvoertuie, al is die pad se gradering só goed jy kan straks soos die negemalige tydrenkampioen Sebastian Loeb in ’n Finse woud voel.

As jy nog nie genoeg 4x4-avontuur beleef het nie, besoek Stoney Ridge-4x4 in die rigting van Colenso. Volg die R622 in Mooirivier se rigtig en vermy die N3 deur die R103 te neem wat parallel met die N3 loop. Van Estcourt af – maak somer hier tenk vol – draai regs in Hardingweg in die rigting van die R74. Die pad neem jou deur die Weenen-natuurreservaat.

Padpredikante waarsku jou teen wild wat die pad kan oorsteek; verminder dus jou spoed en neem jou tyd. Draai links by die T-aansluiting en, by S28.803051 E29.944696, regs in die rigting van die Stoney Ridge Off-Road Academy. Waar die grondpad vurk, hou regs en oor die droë rivierbedding voor jy die tentkamp bereik.

Hierdie stuk doringveld van 2 300 ha is waar John Rich gesertifiseerde 4x4-opleiding van vlak 1 tot vlak 3 aanbied. Die kursus sluit in lesings en begeleide ritte, sowel as gevorderde herwinning en wenasgebruik. As jy nog nie voorheen hier was nie, wees gewaarsku dat John-hulle nie enige ander sertifisering erken nie – as dit dus julle groep se eerste besoek is, bel vooruit en reël ’n opleidingsnaweek.

Die terrein wissel van gelyk grondpaaie en sagte, sanderige heuweltjies tot modder, plekke om ’n rivier oor te steek en ware asknopers. As jy reeds John se kursus voltooi het, kos dit jou R300 om rond te rits op die bykans 200 km se 4x4-roetes. Daar is ook ’n terrein wat geskik is vir 4x2-voertuie met ewenaarslotte.

Onthou jou kamera en verkyker, want die massiewe reservaat is die tuiste vir ’n groot verskeidenheid wild en voëls. Pak maar behoorlike toerusting in – die grootste deel van die kursusroete kan beskou word as ’n taai graad 4-vlak.

Moenie jou bekommer oor waar jy jou kop gaan neerlê nie, want daar is tentverblyf en ’n groot boma waar diegene wat opleiding ondergaan of hulle vaardighede kom slyp, saam kan ontspan en iets eet.

Stoney Ridge het ook staproetes, hengelplekke, bergfietspaadjies en binnebandritte op die rivier as die weer dit toelaat.

Jy kan natuurlik die roetes ook vóór jou seevakansie aandurf of tyd inruim om by enige van die genoemde plekke te bly en die res dan te gaan ontdek soos dit jou pas.

Kontak

Gwahumbe-spa-en-lodge:  031 781 1082;  gwahumbe.co.zainfo@gwahumbe.co.za

Killarney-4x4:  031 769 2427;  killarney4x4.co.zakillarney4x4@mweb.co.za

Rockwood-lodges:  031 502 4043;  rockwood.co.zainfo@rockwood.co.za

Stoney Ridge-4x4:  073 697 5108;  stoneyridge.co.zajohn@stoneyridge.co.za

Wat jy moet weet

Kan ek die roete op my eie ry? Die meeste daarvan, ja, behalwe Stoney Ridge waar jy eers John se opleidingskursus moet voltooi vóór jy daar mag speel.

Hoe lank sal dit neem? Jy kan dit oor ’n langnaweek kafdraf, maar ons stel voor jy beplan ’n week en ’n half in die Middelland sodat daar genoeg tyd is om die omgewing te verken, die besienswaardighede te geniet en behoorlik te ontspan.

Waarmee moet ek ry? Verkieslik ’n volwaardige 4x4-voertuig met laestrekratte en ’n ewenaarslot. Jy kan sommige van die terreine aanpak as net die agterste ewenaarslot geaktiveer is, maar as toestande rof raak, gaan jy alle hulp tot jou beskikking nodig hê. ’n Goeie grondvryhoogte is ononderhandelbaar.

Hoeveel brandstof het ek nodig? Brandstof is geredelik beskikbaar op al die roetes en jy sal nooit verder as 70 km na die naaste vulstasie hoef te ry nie.

Watter toerusting moet ek inpak? By die meeste van die bestemmings hoef jy nie eens jou voertuig se banddruk te verlaag nie. Miskien vir die sagte sand by Killarney 4x4. By Stoney Ridge moet jy behoorlike herwinningstoerusting byderhand hê