Ons het die Cahora Bassa-dam al drie keer besoek en elke keer op ’n ander plek langs die oewer gebly, maar laasjaar het ons besluit om óp die water te bly – in ’n huisboot. Ons volg tiervishengelkenners se raad en besoek die dam in Oktober, die beste tiervisseisoen.

Dis byna twee dae se ry van Lephalale af tot op die dorpie Nhacapiriri in Mosambiek (sowat 1 300 km).

Net buite Nhacapiriri draai ons af op ’n slegte grondpad na Emildo Sada, die huisboot-eienaar, se eiendom aan die suidkant van die Cahora Bassa-dam. Van hier af vaar ons op ’n vlot die sowat 2 km na Emildo se Casa da Pesca Lodge waar die huisboot op anker lê. By die huisboot gekom, laai ons ons kos en klere op ons watertuiste.

Ons vertrek die middag laat na ons eerste vasmeerplek naby ’n huis van waar ons elektrisiteit kry. Die boot het ’n opwekker, maar die ding is nogal raserig.

Teen 4.30 nm. vaar ons met die hengelbote uit na ’n paar nabygeleë hengelkolle – die vislyne soek water! Maar g’n vis wil byt nie en ons keer hangkop terug. Ons kyk hoe die son anderkant die dam verdwyn en kuier tot laat op die dek.

Die volgende oggend staan ons voor die son op. Ons vaar eers na die kol waar die kapentabote vasmeer en die kapentas gedroog word. Dié klein visse is ’n stapelvoedsel vir die plaaslike inwoners. Dis ook ’n gesogte lokaas vir tiervis. Dit raak ’n daaglikse ritueel om vroegoggend eers kapentas te koop.

Ons hengel tot 11 vm. wanneer dit te warm raak, en keer terug vir middagete en ’n siësta tot 3 nm., waarna ons weer vertrek vir ’n hengelsessie tot 6 nm.

Ons is bekommerd en maak seker ons belangrikste besittings soos ons beursies, paspoorte, noodsaaklike dokumente en skoene staan gereed indien ons die huisboot moet verlaat.

Die bootjies vaar na verskeie uithoeke van die dam. Die Cahora Bassa is sowat 40 km breed en 300 km lank (dis van Johannesburg tot by Harrismith!). Rondom ons hou kremetartbome wag oor die bergagtige landskap. Riviere en strome vloei uit alle windrigtings in die dam. Plek-plek staan ’n klompie hutte saamgebondel. In die afgeleë dele sien jy nou en dan wilde diere – waterbokke, koedoes, bobbejane, krokodille, seekoeie, likkewane...

Annamaré met ’n 3 kg-tiervis.
’n Plaaslike visserman doen sake.

Die dam wemel van die tiervis. Hier’s ’n vang-en-vrylaat-beleid by die dam – ons hele gesin is ywerige hengelaars en ons trek tussen een en vier visse elk per dag uit! ’n Tiervis het die spoed van ’n sneltrein en die krag van ’n baber! Dié vis gee gewoonlik ’n sierlike sprong van tot ’n meter hoog uit die water nadat hy die hoek gevat het, en spoeg dan dikwels die hoek uit as dit nie goed geheg het nie.

Die EN02 tussen Catandika en Comacha in Mosambiek.
Die Birchenoughbrug oor die Saverivier in Zimbabwe.

Die Dinsdagmiddag ná middagete skuif ons na ’n nuwe kol, meer noordwes. Van hier af is ons naby die Sandyrivier wat bekend is vir sy reuse-tiervisse. In Desember en Januarie swem die tierviswyfies in die rivier op om eiers te lê sodat die jong visse in die vlak water tussen die oewergras kan skuil.

Ons sien die onwettige nette waarmee die plaaslike bevolking tiervisse, kurpers en babers vang, het drasties toegeneem. Die praktyk word nie beheer nie. Plek-plek word riviere byna toegespan met honderde nette.

Woensdagmiddag steek die wind op. Hengel in dié wind is moeilik en onplesierig. Die huisboot is gelukkig in ’n baai vasgemeer, maar teen skemer is die wind stormsterk. Ons is bekommerd en maak seker ons belangrikste besittings soos ons beursies, paspoorte, noodsaaklike dokumente en skoene staan gereed indien ons die huisboot moet verlaat. In die nag hoor ons hoe die ankertoue kreun en die wind die huisboot teen die klippe vaswaai.

Vissers gaan hulle nette na vir die volgende dag se vangste.
Die huisboot het ons nader aan die tiervisse gebring as waarop ons kon hoop.
En die dek van die toerspan se huisboot.

Die volgende oggend hoor ons twee van die kapentabote wat in die nag uit was, het gesink. Die bemanning is genadiglik ongedeerd. Die wind gaan lê mettertyd en ons vertoef in die baai tot Donderdagmiddag toe ons weer terugskuif na die eerste vasmeerplek. Vrydagmiddag, ons laaste hengeldag, waai die wind weer sterk, en die huisboot vaar terug na die Casa da Pesca Lodge. Ons slaap die laaste aand in die lodge en kuier tot laat saam met die ander besoekers. Ek tuur vir oulaas oor die dam.

Dankie, ou huisboot, dat jy ons veilig gehou het teen die elemente én soveel nader gebring het aan die tiervis se skuilplekke. Ons sien jou gou weer.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #162 (April 2018) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook