Ook seker dié dat selfs die hoofstraat se argitektuur in meer as ’n eeu nie veel verander het nie. Bygesê, om boumateriaal op dié afgeleë eiland in die Suid-Atlantiese Oseaan (soos die kraai vlieg 3 100 km noordwes van Kaapstad, die naaste hawe!) te kry, was nie speletjies nie.

Hoewel daar altyd ’n handjie vol mense hier gewoon het sedert die Portugese dié eiland in Mei 1502 ontdek en die Britse Oos-Indiese Kompanjie dit eeue lank as ’n verversingspos gebruik het, is daar slegs in eenvoudige wonings belê. Jamestown soos dit vandag lyk, het eers werklik in die vroeë 1800’s ontwikkel nadat die Britse kroon in 1834 die bewind by die Oos-Indiese Kompanjie oorgeneem het.

Die eerste geboue was van hout en het nie lank gehou nie: ’n Onderskepte slaweboot van Brasilië is in 1840 in die hawe uitmekaar gehaal en saam met die planke het ’n termietplaag toe ook aan land gekom. Daarna is steen- en gietysterkonstruksiewerk toegepas en die huidige geboue word aan hulle Georgiaanse boustyl gekenmerk.

St. Helena is ’n vulkaniese berg met weinig beboubare grond. Die vallei waarin Jamestown ontwikkel het, is een van die min plekke op die eiland wat ontwikkeling toelaat: Dié lang, dun dorpie is skaars drie strate breed, met die Hoofstraat wat onder van die hawemuur af in die vallei oploop.

Die foto’s is van die middel van die Hoofstraat af in ’n noordelike rigting (see se kant toe) geneem. Kom ons stap straataf, eers met die regterkantste sypaadjie langs:

Die Consulate Hotel (1) met sy mooi ystertralies op die voorstoep het vroeër die Royal geheet. Die naam se oorsprong is onseker maar nie onvanpas nie: St. Helena het in die 1700’s ’n prominente rol in die walvisjagbedryf gespeel, met onder meer Amerika, Denemarke, Noorweë, Frankryk en Nederland wat almal diplomate op die eiland gehad het. In een van die slaapkamers op die boonste verdieping is die mas van ’n ou handelskip as latei in die struktuur van die gebou ingespan.

Die liggeel kantoorgebou langsaan behoort nog al die jare aan die Solomon-familie (2). (As St. Helena Dallas was, was hulle die Ewings.) Saul Solomon is in 1790 deur ’n Britse skip op pad na Indië vir dood op die eiland gelaat. Dié jong man het gesond geword en een van die prominentste sakemanne geword, met belange as koerantman, skeepsagent en middelganger vir die walvismoonthede. Dis die einste Solomons wat die Royal Hotel in die laat 19de eeu gekoop en herdoop het. Die ligblou gebou is al geslagte lank die Corker- familie se woonhuis (3) en die huidige inwoner, Tracey Corker, bedryf ’n algemene handelaar en toermaatskappy in die voorkamer.

Die mooi klipgebou langsaan, Essex House (4), dateer uit 1729 en huisves deesdae St. Helena se regeringskantore. Dit is een van die besbewaarde voorbeelde van argitektuur uit die Oos-Indiese Kompanjie-era. Hiernaas staan twee woonhuise (5).

Volgende kry ons die ou Broadway-woonhuis wat nou deur St. Helena se Nasionale Trust (6) gebruik word. Ágter hom staan ’n stoor wat tussen 1940 en 1988 as die Paramount-bioskoop ingespan is. Hier’s ook in 1984 ’n dans gehou toe prins Andrew die eiland besoek het. Slegs op die Toe-foto is ’n gebou met ’n vlagpaal voor. Dit was van 1836 tot 1908 die Amerikaanse Konsulaat; die gebou is sowat ’n eeu gelede gesloop.

Die gebou aan die onderpunt van die straat is die nuwe Porteous House (7) (die Toe-foto wys die oorspronklike Georgiaanse gebou neffens die Kasteeltuine). Napoleon het sy heel eerste nag in ballingskap op St. Helena hier geslaap.

Die Porteous was aanvanklik ’n losieshuis en later die woonhuis van dr. John Charles Dunn, voordat Henry Porteous, die Oos-Indiese Kompanjie se tuinier, dit gekoop het. Ná sy dood het die huis verskeie eienaars gehad totdat dit in April 1865 deur ’n brandstigter vernietig is. Die bouval is 70 jaar later gesloop en in die oorspronklike styl oorgebou. Die groot boom (8) agter die huis is ’n Chinese baniaanboom wat al van die 1750’s af in die Kasteeltuine groei.

Aan die linkerkant

van die straat is die ou Solomons-handelaar (9) (dis deesdae steeds ’n winkel, maar heet nou Warren se Winkel). Die dubbelverdieping met die rooi dak was Yon’s Café en is nou Wellington House (10) – ’n gastehuis en ’n winkeltjie in die kelder.

Die daaropvolgende twee liggeel geboue was die woonhuise van onderskeidelik die Truebody- en Breton-gesin en is deesdae munisipale behuising (11). Daarnaas staan die ou WMCA-gebou (12) (nou ’n kompleks wat ’n restaurantjie, gesondheidswinkel en die Saint FM-radiostasie huisves), gevolg deur Hoofstraat 1,2 en 3 (voorheen die Oos-Indiese Kompanjie se eiendom) wat onlangs in die spoggerige Mantis-hotel (13) met sy vier sterre omskep is.

Die St. James-kerk (14) dateer uit 1774 en staan op die perseel van die oorspronklike “chapel”. Dis die oudste Anglikaanse kerkgebou in die Suidelike Halfrond. Die oorspronklike (vierkantige) kerktoring is weens veiligheidsredes in 1843 verwyder. ’n Spitstoring is opgerig, maar ook dié is in 1980 weer verwyder. Die kerk het uiteindelik in September 2016 weer ’n toring gekry.

Bronne
St. Helena-museum, sthelenaisland.info; sthelenaonline.org; Die Hugh Crallan- argitektoniese verslag van 1974, St Helena Historic Environment Record, Basil en Barbara George.
Ons soek jou kiekies
Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na suzaan.hall@media24.com