Baie van dié diere is deur sir Percy Fitzpatrick van Jock of the Bushveld-faam versamel. Die grond waarop die dieretuin vandag staan, is deur die regsfirma van wyle Hermann Eckstein aan die Johannesburg-stadsraad geskenk om as ’n openbare park te gebruik.

Eckstein het ’n groot rol gespeel in die ontwikkeling van die stad en het onder meer bome laat plant in dié gebied, wat hy Sachsenwald gedoop het. Vandag is dit die buurt Saxonwold.

Van die 81 ha wat die firma geskenk het, wat toe £50 000 werd was, is 54 ha vandag die dieretuin.

Die dieretuin het deur die loop van die vorige eeu aanhou ontwikkel. In 1910 is ’n orkesverhoog gebou waar koperblaasorkeste gereeld musiek gemaak het, en tussen 1913 en 1915 is die olifant- en renosterhuis van klip gebou. Die dieretuin was ’n gewilde bymekaarkomplek vir Johannesburgers.

Teen 1915 is daar ook onder meer Bengaalse tiere, swartbere, lamas en reptiele aangehou. Die dieretuin het ook ’n Oosterse olifant en ’n Baktriese kameel aangekoop waarop besoekers kon ry. Dié ritte was baie gewild, maar nadat ’n olifant in 1964 met kinders op sy rug begin hardloop het, het die dieretuin besluit dis nie meer veilig nie.

Teen die sestigerjare het die behoefte by die publiek ontstaan om die diere in groter, meer natuurlike kampe te sien en het die dieretuin aanpassings begin maak. Deesdae is die dieretuin steeds ’n gewilde bestemming vir gesinsuitstappies.

In 1961 moes besoekers ouer as 16 die eerste keer betaal om die park te besoek. Vandag kos ’n besoek R90 per volwassene en R55 per kind tussen 3 en 12 jaar oud.

Bronne Johannesburg Then and Now deur Marc Latilla, uitgegee deur Struik Travel & Heritage, ’n druknaam van Penguin Random House; jhbzoo.org.za; theheritageportal.co.za; jhbcityparks.com

Dié ritte is sedertdien afgeskaf, maar deesdae kan jy ’n toer doen wat jou wys hoe dinge agter die skerms werk of selfs in die dieretuin kamp vir ’n aand.
Ons soek jou kiekies

Stuur vir ons jou ou foto’s van toeka se dae na suzaan.hall@media24.com. Ons gebruik dit dalk in die tydskrif en jy het die kans om ’n eksemplaar van Johannesburg Then and Now  te wen.

Sluitingsdatum 15 Maart 2019