Die Ou Lettere- en Ou Chemiegebou is die oudste geboue op die Universiteit van Pretoria se kampus.

Die hoeksteen vir die Ou Letteregebou is op 3 Augustus 1910 gelê nadat die destydse koloniale sekretaris, genl. J.C. Smuts, £ 40 000 begroot het vir die bou van ’n kollege.

Die universiteit (toe nog die Transvaalse Universiteitkollege) kon in September 1911 by die twee geboue intrek – in daardie stadium was daar 62 studente, 7 professore, 6 dosente en 1 sekretaresse. En daar was net twee studierigtings– lettere en wetenskappe.

Vir die trek is die meubels in strooi verpak.

Volgens oorlewering het studente die strooi in ’n hooimied teen die gebou se buitekant gestapel – dit was ’n matras vir die dapperes wat by die balkon wou afspring!

In 1951 is nóg ’n Lettere-gebou opgerig en studente begin praat van die “Ou” Lettere-gebou.

ARGIEF VAN DIE UNIVERSITEIT VAN PRETORIA
Foto: Sam Reinders

Die horlosie in die toring moes elke week met die hand opgewen word. Tot ’n paar jaar gelede het prof. Alex Duffey, ’n voormalige dosent, tot in die dak geklouter en oor ’n smal loopplank tot by die meganisme geloop. Daar is egter ’n stokkie voor dié gevaarlike toertjie gesteek.

Bronne:Universiteit van Pretoria se argief;“The Old Arts Building turns 100,” deur Nicholas Clarke in Tukkie, Desember 2010

ONS SOEK JOU KIEKIES.
Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na kyra.tarr@media24.com