Af en toe sien jy hoe iemand op ’n olifant se rug verbyry en vroue in helderkleurige sari’s wat deur die groen landskap sweef.

Die eiland Sri Lanka is die laaste plek op aarde waar jy ’n straat met die naam “Boer Road” sou verwag. Maar elke steen in hierdie straat is destyds deur die Boere-krygsgevangenes van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) daar geplaas.

Ek en my verloofde, Simone Zents, het Sri Lanka in 2019 besoek om by haar ouers te kuier. Ons het die vakansie só beplan dat ons die spoor van dié krygsgevangenes deur Sri Lanka kon volg.

Die Britse magte het gedurende dié oorlog verskeie kampe op eilande soos Bermuda, St. Helena en Ceylon gehad. (Ceylon was tot 1948 ’n Britse kolonie, maar die eiland se naam is eers op 22 Mei 1972 na Sri Lanka verander.) Dié eiland is destyds gekies omdat dit moeilik was om daarvandaan te ontsnap.

’n Paar hutte in die Diyatalawa-tronkkamp soos dit vandag lyk. Die gegalvaniseerde strukture dra steeds die oorspronklike nommers. Die meeste van dié geboue word vandag deur die Sri Lankaanse lëer as administratiewe geboue gebruik.
’n Oorspronklike tronkhut

Die skip met die eerste groep krygsgevangenes aanboord – die Mohawk – het op 9 Augustus 1900 in Sri Lanka geland.

Altesame 5 089 Boere-krygsgevangenes is tydens die oorlog op die eiland aangehou.

Daar was vyf kampe: Diyatalawa, Mount Lavinia, Ragama, Hambantota en Urugasmanhandiya. Ons het net die eerste twee kampe aangedoen.

Vir die destydse gevangenes moet Sri Lanka se vlaktes en koppies hulle baie aan hulle vaderland herinner het. Diyatalawa, oftewel “Boer Town”, was een van die kampe in die binneland van Sri Lanka.

Diyatalawa was in twee nedersettings verdeel: Kruger’s Dorp waar die Transvalers gebly het, en Steyn’s Ville vir die Oranje-Vrystaters. Diyatalawa is deesdae ’n militêre basis. Die geskiedenis rondom die Anglo-Boereoorlog word bewaar omdat die Sri Lankane dit as deel van hulle geskiedenis beskou.

Eben Proos langs die monument wat in 1914 opgerig is ter ere van die Boere wat by Diyatalawa gesterf het.
Die graf van T.J. Kruger in ’n begraafplaas in Borella, ’n voorstad van Sri Lanka se hoofstad, Colombo.

Diyatalawa se oorspronklike hutte (waarin die krygsgevangenes gebly het) staan vandag nog. Die meeste word as administratiewe geboue gebruik en huisves tans die Instituut vir Opmeting en Kartering.

In 1914 is ’n monument opgerig ter nagedagtenis aan die burgers wat in Diyatalawa oorlede is. Die 105 jaar oue monument is nog in ’n goeie toestand, maar die inskrywings is nie meer duidelik leesbaar nie.

Ons het ook boeregrafte besoek in die algemene begraafplaas in Borella (’n voorstad van die hoofstad, Colombo), asook die spoggerige Mount Lavinia Hotel, waar daar ook ’n kamp was. Die hutte bestaan ongelukkig nie meer nie. Die hotel was destyds die woning van die goewerneur-generaal, en die gevangenes kon destyds by die nabygeleë strand in die louwarm seewater bad.

Wat ’n voorreg om meer te leer oor die krygsgevangenes wat ver van hulle vaderland af gesterf het. – Eben Proos  

Bronne: Advancing Heritage Tourism in the Central Karoo: The South African War Battlefields Route deur E. Proos & J. Hattingh; Boere Krygsgevangenes in Ceylon deur P. van der Merwe.

ONS SOEK JOU KIEKIES.
Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na kyra.tarr@media24.com

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook