Hartenbos, meer as 70 jaar gelede  

Wessel Oosthuizen van Pretoria vertel: My pa, ook Wessel, het vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë gewerk en daarom het ons gesin ’n vrypas gekry om per trein te reis vir ons Desembervakansie – al die pad van Pretoria af tot op Hartenbos. Met ons eerste vakansie daarheen was ek agt jaar oud.

Die treinrit self was heerlik. Die trein was vol Spoorweg-amptenare en hulle gesinne. Baie van hulle het só na Hartenbos gereis omdat motors nog nie so volop was nie. Ons het twee dae gereis en twee nagte op die trein geslaap. Ek onthou veral hoe mooi en lekker dit vir my was as ons daar by die berge naby George kom en hulle die sterk Garratt-lokomotief vooraan moes sit vir die opdraandes. As kinders was ons ook baie opgewonde as ons sien daar kom ’n tonnel – dan moes die vensters vinnig toegemaak word om te keer dat die hele trein vol rook word!

Op Hartenbos gekom, het die ATKV ons en ons bagasie op die stasie kom haal en ons na ons blyplek vervoer – een van die huisies wat ’n mens op die foto’s sien. Dit was omtrent ’n trek: Die huisies het katels gehad, maar nie beddegoed nie en ons het elkeen ons komberse en lakens opgerol en met ’n band vasgemaak. Daarby het ons met groot staaltrommels gereis. Ek kan nie onthou of die huisies breekware gehad het nie, maar ons moes beslis ons eie potte en panne saamvat.

Die huisies was redelik primitief met twee vertrekke. Die een was ’n slaapkamer en die ander een ’n kombuisie met ’n eetplek en sitkamerdeel, as ek reg onthou. Daar was nog nie krag nie, maar ’n primusstofie vir kosmaak.

hartenbos
SOMERVAKANSIE. Wessel se neef Willem Delport het dié foto’s van Hartenbos in 1948 met ’n bokskamera geneem.

Die boere van die omgewing het elke dag met ’n vragmotor gekom en heerlike vrugte en groente en ander vars produkte in die straat verkoop. Ons het oorgenoeg beskuit en koekies van die huis af gebring.

Vir ons seuns – ek en my twee ouer broers – was die vakansie ’n fees. Daar was baie sandduine rondom die huisies – daar waar daar vandag net huise staan – en ons het lekker gespeel. Ons het natuurlik ook op die strand en in die see baljaar. Vandag speel die kinders strandkrieket, maar daar was oorgenoeg plek om veldkrieket te speel – sommer met ’n tennisbal en ou ’n plank.

Ek onthou ook dat ons van die vygies teen die walle op die strand gebruik het as ’n bloublasie een van ons gebrand het. Jy het die brandplek met die vygies gevryf en dan het dit ophou brand – ’n boereraat wat werk!

Ons eerste vakansie, toe dié foto’s geneem is, was in 1948. Dit was net ná die oorlog en die mense het maar nog swaargekry. Daar was nie oorvloed nie, maar dit wat ons gehad het, het ons goed gebruik. Ons het ná hierdie vakansie nog ’n paar keer gegaan, ook toe Hartenbos begin groter word het. Ek en my vrou, Thea, was seker omtrent vyf jaar gelede laas daar. Nou is die plek ’n groot stad, en heeltemal te vol. Ek wil nie meer oor Desember daar wees nie; daar is net te veel mense.

Sedert ons afgetree het, verkies ons om eerder in Februarie te gaan – dis stiller en die klimaat is in elk geval op sy beste tussen Februarie en April.


*Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #175 (Mei 2019) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien. 

ONS SOEK JOU KIEKIES
Het jy mooi ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Of foto’s van hoe jou dorp destyds gelyk het? Stuur dit na kyra.tarr@media24.com, en jou foto verskyn dalk in die tydskrif.