Die nuwe elektriese tremdiens het geloop van Markplein (op die foto) tot by die treinbrug in Siemertweg.

Die eerste perdetrem is in 1891 uit Markplein getrek en teen 1893 was daar sowat 18 km se tremlyne. Dié diens was egter beperk tot die stadsentrum, Fordsburg, Braamfontein, Jeppe, Belgravia en Doornfontein.

Teen die vroeë 1900’s is daar egter begin om planne te maak vir elektriese straatkarre, wat bo die dak aan ’n trolliestelsel vas was om krag by drade in die lug te kry. Die werk het in 1904 in alle erns begin – ’n kragstasie is ook gebou om die nodige elektrisiteit te verskaf.

Teen 1905 was daar al kraglyne gelê vir sowat 40 km se dubbel- en 4,8 km se enkelspoorlyne. Ná die eerste elektriese tremrit in Februarie het die tremstelsel al meer gewild geraak en aanhou uitbrei: Teen die einde van daardie jaar was daar 14 roetes, en sowat 30 jaar later het meer as 200 trems diens gedoen in Johannesburg. Die markgeboutjies aan die oorkant van die plein op die foto is later platgeslaan om plek te maak vir die trem-eindpunt.

Daar was egter deur die jare heelwat tremongelukke en trems wat ontspoor het, en ná die Tweede Wêreldoorlog tot in die laat jare vyftig het Johannesburgers ’n volgehoue teentremveldtog gevoer. Al hoe meer mense het motors gehad en toerusting het verouder, wat verder tot die ondergang van dié vervoermiddel gelei het.

Teen 1956 is besluit dat die meeste trems deur die loop van die volgende sewe jaar met trolliebusse vervang moes word. Op 18 Maart 1961 het die burgemeester, Dave Marais, die laaste elektriese trem bestuur.

Bronne: Johannesburg Then & Now deur Marc Latilla, uitgegee deur Struik Travel & Heritage, ’n druknaam van Penguin Random House (Lees die onderhoud met die skrywer hier – Red.); johannesburg1912.wordpress.com


Stuur vir ons jou ou foto’s van toeka se dae na suzaan.hall@media24.com. Ons gebruik dit dalk in die tydskrif en jy het die kans om ’n eksemplaar van Johannesburg Then & Now te wen. Sluitingsdatum: 31 Januarie 2019

foto
Johannesburg Then & Now