Deel

TOEKA SE DAE: Krugerwildtuin, 60 jaar gelede

akkreditasie
Uit die argief: "’n Mens het gou besef dis wilde wêreld dié – die klimaat en plantegroei is heeltemal anders as die Vrystaat s’n," skryf Weg-leser Francois du Toit.

Francois du Toit van Windhoek vertel: Elke keer as ek Don Gibson se musiek hoor, dink ek terug aan ons eerste vakansie in die wildtuin in 1962. 

 krugerfoto
Die Du Toits in Skukuza. Links na regs staan ek, my jongste broer Louis, my pa, Tooi, my ma, Anna, en my ander broer Pietie. My niggie Suster du Toit het die foto geneem met ’n kamera wat my pa se neef Assie van Aswegen vir my geleen het vir die vakansie.

Ek was in matriek en het my “eerste liefde” daar ontmoet, ’n plaasmeisie van die dorpie Koppies in die Vrystaat. 

Op pad terug Bloemfontein toe van die wildtuin af, het ons by my ma se suster Issie Pretorius in Vanderbijlpark oorgebly. Sy het ’n paar plate van Gibson gehad. Sy treffer “I can’t stop loving you” het veral tot my tienerhart gespreek. 

Ons gesin, my pa se twee broers en al die neefs en niggies het die Julieskoolvakansie in die Skukuza-ruskamp deurgebring.

My pa se oudste broer, Hennie du Toit, was ’n regte platjie. Hy het ’n rubberslang saamgebring. Die bobbejane het van die karre se dakke afgetuimel van skrik vir dié ding. 

Ons kinders het elke aand voor die restaurant en winkel op die gras gespeel. As ek reg onthou, het ’n sirenetjie so negeuur se kant afgegaan. Dan is al die ligte afgeskakel en moes ons voel-voel in die donker terug rondawels toe. Die bokkies het hulle dan byna vrek geskrik vir ons en laat spaander. 

Die einste oom Hennie het een aand ’n hiëna probeer “vang”. Hy het ’n lang toutjie aan sy groottoon en aan ’n stuk skaaprib, wat ’n ent van die rondawel af gelê het, vasgebind. Hy het só gaan slaap, maar die nag byna sy toon verloor!


Hierdie artikel het oorspronklik in Augustus 2017 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.