Foto: Fred Stolper, Stolper & Seuns

Die gemeente het aanvanklik in ’n “noodkerk” byeengekom, op ’n erf wat aan die gemeente geskenk is. Dié gebou is later as kerksaal, skool en ook as tronk gebruik tydens die Anglo-Boereoorlog.

Die gemeente het in 1904 besluit om geld in te samel vir die bou van ’n nuwe kerkgebou in Schröderstraat, die dorp se hoofstraat. Die bouwerk het uiteindelik in 1911 begin, en die hoeksteenlegging was op 8 Julie 1911.

Al die boumateriaal moes van Prieska af (die naaste treinstasie) gery word met transportwaens, teen ’n koste van 10 sjielings per 100 pond. Prieska was sowat 20 uur te perd van Upington af! Die kerk het sowat £7 000 gekos en die banke en ander toebehore sowat £2 000. Die kerkhorlosie is direk uit Nederland bestel en die toring is sowat 36 m hoog.

Die kerkgebou is uiteindelik op 13 April 1912 ingewy – 1 700 lidmate het die erediens bygewoon!

Die kerksaal links van die kerkgebou is in Maart 1951 gebou. In 2013 het dit afgebrand toe ’n sipresboom langs die kerk deur weerlig getref is en aan die brand geslaan het. Dit is sedertdien herbou op dieselfde plek.

Die foto is rondom 1960 deur Fred Stolper geneem. Die fotowinkel Stolper & Seuns bestaan al sedert 1948, toe Fred se pa, Fritz, dit gestig het.

Bron: Eeufees-brosjure, NG kerk Upington (2011)


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #143 (September 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.