Weg se assistent-redakteur Esma Marnewick skryf:

"Die Stormsriviermond-ruskamp in die Tuinroete- nasionale park is een van daardie ikoniese bestemmings wat jy minstens een keer in jou lewe móét besoek. Ek was gelukkig genoeg om hier vakansie te hou toe ek net twee jaar oud was. Al ding is, ek onthou net mooi niks daarvan nie.

Ek moes by my ouers gaan aanklop oor dié foto’s. En ongelukkig kan my ma en pa ook nie veel onthou nie – dis immers byna 37 jaar gelede!

Ons het in die bos gestap – my pa moes my heelpad dra en my ma van agter af aanpor, want sy was swanger met my suster. Verder het ons by die see gebraai en gekyk hoe stappers vertrek op die bekende Otterstaproete.

Ons was daar met springgety. Die twee dinge wat albei wel baie duidelik onthou, is dat die slag van die branders teen rotse die houthut behoorlik laat bewe het! En dat ek (glo) blou moord geskree het op die hangbrug.

Intussen was ek al twee keer weer in dié ruskamp, maar albei kere was die parkmense besig om die hangbrug te herstel...

Ja-nee, dis tyd om my kinders soontoe te neem en my vrees te oorwin."


ONS SOEK JOU KIEKIES
Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na kyra.tarr@media24.com.