Al die paaie was grondpaaie, daar was nie krag nie en die tente het net staalkatels met klapperhaarmatrasse gehad. Ons het destyds in Benoni gebly en die wildtuin minstens een keer per jaar besoek.

Op die eerste nag van elke skoolvakansie het die motors in ’n ellelange tou voor die Numbihek gestaan, in afwagting op die oomblik vroeg die volgende oggend wanneer die hek sou oopmaak. Ons kinders het in die pad gespeel terwyl vuurtjies oral gebrand het – die mense het langs die pad vleis gebraai en piekniek gehou.

’n Parkeraadwerker by die Numbihek, 1956.

In dié jare was die noorde van die wildtuin nie in die somer oop vir besoekers nie, en ons het altyd by Skukuza of Pretoriuskop gekamp. By die ingangshek na die Skukuza-kamp was daar ’n baksteengeboutjie met twee vertrekke. Die een was die kantoor waar jy ingeboek het, en by die ander een het jy jou klapperhaarmatrasse gekry.

Die kamp het ronde tente gehad wat klaar opgeslaan was. Daar was staalkatels en olielampe binne-in – geen yskas of koelbokse nie!

Die foto met die tente is by die Skukuza-kamp geneem – die tente is vooraf opgeslaan.

Saans is een groot houtvuur gemaak en die kole is uitgeskep op staal-asblikdeksels vir elkeen wat wou braai; daar was geen driepote om die roosters op te rus nie – net stene.

Soms het ’n mens snags ’n hiëna op soek na vleis in die kamp gekry. Die manne het die vleis in sakke aan ’n tou oor ’n boomtak opgehys sodat die nagdiere nie daarby kon uitkom nie.

Later het die grondpad tussen Skukuza en Onder-Sabie sulke kort stukkies teer gehad om te toets watter uitwerking die teerpad op die diere het. ’n Parkeraadwerker het by die laagwaterbrug gesit waar die pad na die noorde oor die Sabieriver gegaan het. Hy het die motors wat oor die brug ry, getel deur vir elke motor ’n klip in ’n groot blik te gooi.

Leeus en olifante was volop op die pad tussen Skukuza en Onder-Sabie en ons het gejil van plesier as die bobbejane op die motors spring en sommer vir ’n paar myl saamry.

Baie motors het ’n watersak gehad wat oor die syspieël of aan ‘n haak aan die chroomvoorbuffer gehang het. Dit was drinkwater – die wind het in die ry oor die sak gewaai en die water afgekoel. Wildtuinbesoeke was werklik ’n avontuur... die goeie ou dae!

Koos en sy vrou, Irene, is afgetree en toer sedert April 2016 deur die land met hulle woonwa.

ONS SOEK JOU KIEKIES.
Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na suzaan.hall@media24.com