Visvangoord

MOUNTAIN FLY FISHING-KAMPPLEK

Vlieghengel van jou staanplek af

Kampplekke in Magoebaskloof digby Tzaneen is yl gesaai, maar die nuwe Mountain Fly Fishing-kampplek is ’n goeie rede om jou wa te haak. Dis nie net ’n nuwe kampplek nie, maar ook ’n gawe wegkomplek vir vlieghengelaars.

KAMPHUISIE IN DIE BERGE. Magoebaskloof is een van die mooiste streke in die land, maar hier is nie veel kampplekke nie. Die Mountain Fly Fishing-kampplek het nou plek gemaak vir kampeerders, en nader aan die natuur kan ’n mens nie.

Die kampplek is op die plaas Monte Cristo, waar Josie en David Pirie met avokado’s boer. Hier is vyf damme met forel en ’n mens kamp teenaan die grootste een.

Elk van die vier staanplekke het sy eie badkamergeriewe met ’n stort, toilet, wasbak en opwasgedeelte. Die badkamers se warm water kom van ’n donkie waarna die eienaars omsien.

Hier is nie 220 V-krag nie, maar sonpanele hou die ligte aan die gang. (Dis só ingerig dat jy ook jou foon kan laai; onthou net jou foon se USB-kabel.)

Elk van die staanplekke het ’n stuk plaveisel plus ’n groot grasperk. Op jou staanplek het jy jou eie piekniektafel en ’n draagbare braaiplek. As jy nader aan die kantoor loop, is hier ook wifi.

By die kantoor kan jy dinge soos hout, houtskool, vuuraanstekers en ys koop, en as jy om die een of ander rede kortkom, verhuur Josi-hulle vlieghengelstokke en verkoop van die vlieg-aas.

Reënboogforel is meer algemeen in dié waters, maar jy staan ook ’n kans om ’n bruinforel aan die hoek te kry. Kampeerders mag in enige van die vyf damme hengel, maar die vang-en-vrylaat-reël geld hier.

Kortliks | Mountain Fly Fishing

Vis Reënboog- en bruinforel.

Kampplek 4 staanplekke langs ’n foreldam, elk met sy eie plaveisel en groot grasperk.

Ablusiegeriewe Jou eie badkamergebou met ’n stort, toilet en wasbak. ’n Donkie sorg vir die warm water.

Prys Op aanvraag.

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 10 vm.

Kontak  083 255 7817 of 072 698 7813;  pirie@mweb.co.za;  mountainflyfishing.co.za

Hoe lyk die pad? Die laaste 8 km is grondpad wat nie begaanbaar is vir gewone padwaens nie. Hier moet jy eerder in ’n boswa, boswoonwa of tent kamp.

GPS S23.873676 E29.907161

Weg Ry & Sleep David kan ook hand bysit met ’n les of twee as jou vlieghengelvaardighede effens verroes het. Reël net voor die tyd.


SMOORVIS

Vis vir die lus

Hierdie resep is ’n ware randrekker, want jy’t nie so baie vis nodig daarvoor nie. Boonop kan jy die gereg maklik nog lyf gee en meer aartappel bysit.

Jy benodig

  • 1 eetlepel olie
  • 1 klein ui, fyngekap
  • 2 naeltjies
  • 1 wonderpeperkorrel (all spice)
  • 1 lourierblaar
  • ¼ teelepel grofgemaalde swartpeper
  • 1 aartappel, in klein blokkies gesny
  • 100 g gerookte vis, gevlok
  • 2 teelepels fyngekapte pietersielie
  • 1 rissie, fyngekap (opsioneel)

Só maak jy

1 Verhit die olie en soteer die ui saam met die naeltjies, wonderpeper, lourierblaar en peper daarin. Voeg die aartappel by en braai dit versigtig tot sag. Gooi ’n bietjie water by, indien nodig.

2 Voeg die vis, pietersielie en rissie by. Verhit dit tot die gereg deurwarm is, maar moenie té veel daaraan karring nie, anders verbrokkel die vis heeltemal.

Weg Ry & Sleep sê
Smoorvis is net so lekker as jy dit koud eet – jy kan die oorskiet selfs die volgende oggend met ’n bietjie mayonnaise op ’n broodjie eet.



WATER-NUUS

’n Doring in die vlees van vis

Plastiek is al ’n eeu met ons en deel van die alledaagse lewe, maar ongelukkig lei dit tot erge besoedeling, ook in die see. Veral ballonne en ou hengelgerei soos visnette is ’n groot probleem wat die seelewe aan die kortste ent laat trek.

Na raming het twee derdes van alle vis al plastiek ingekry. ’n Mens sou dink Suid-Afrikaners moet juis meer bewus wees van dié probleem omdat die land so ’n lang kuslyn het, maar Suid-Afrika tel glo onder die twintig grootste sondaars wat plastiekbesoedeling betref (met China boaan die lys).

Die syfers is verbysterend: Reg oor die wêreld is daar ’n geskatte 5,25 miljard stukke plastiek in die oseane en dié syfer groei daagliks met tot 15 000 stukke, en die verwagting is dat dit teen 2020 tienvoudig gaan toeneem. Teen 2050 sal die gewig van die plastiek in die water meer weeg as die vis self.

’n Groep wetenskaplikes het ’n gemiddeld van 36 stukkies plastiek in die karkasse van 120 eetbare visse soos makriel, harder, ansjovis en belvis gevind. Plastiek, waarsku hulle, trek gifstowwe in die natuur aan, wat beteken jy kan vergiftig word wanneer jy besmette vis eet.

Voorts toon syfers dat elke mens op die planeet gemiddeld 150 plastieksakkies per jaar gebruik, en dié sakkies is net so deel van die besoedelingprobleem.

Dis hier waar Kenia ’n voorbeeld stel in Afrika. Hulle het plastiek in die breë verbied en wette ingestel wat verband hou met die vervaardiging, gebruik en invoer daarvan. As iemand dié wette oortree, kan hulle ’n boete van tot R500 000 of vier jaar gevangenisstraf opgelê word