Springbok
Vakansiepret op Springbok

My pa, C.J. van Rensburg, het dié foto in die skoolvakansie van 1964 se derde kwartaal geneem. Hy was Springbok se fotograaf en het in daardie dae graag met sy Linhof Technika foto’s geneem – die negatief was 4x5 duim-enkelvelfilm en dit kon ook 120-rolfilm vat. Ek onthou egter dat my pa in 1964 vir hom ’n Hasselblad 500c gekoop het, en dit kan wees dat hy dié foto as ’n oefenlopie met die nuwe kamera geneem het.

In daardie dae was daar nog nie selfone, digitale kameras, TV en sulke vermaaklikhede nie – ons moes onsself besig hou met cowboys-en-kroeks in die berg, hout aandra vir die buiteoond, vlieërs bou, tyre-rol, albasters speel, kennetjie, bok-bok, kaskar bou... En soms het die gier jou beetgepak om iets spesiaals te bou – soos dié fiets.

Dit is ’n BSA-dikwielfiets en die ombouing was heel maklik: Eers het ons die saal, voorvurk en stuurtang verwyder. Daarna draai jy die fiets se raamwerk om sodat die pedale nou sit waar die saal eers was. Jy doen dieselfde met die voorwiel se vurk en dan verleng jy die saal- en handvatselstang met staalpyp.

Dis my broer, J.C. van Rensburg, wat die fiets ry. Daardie houtplankie in sy hande is die remme wat ons ook ’n bietjie ge-modify het. Die praktiese doel van só ’n projek was nie ter sprake nie, ons het dit gedoen vir die blote lekkerte daarvan en om te sien of ons plan sou werk. (In die geval van die hoë fiets was die kans ook boonop goed dat J.C. hom sou disnis val!)

Die outjie wat langs my draf, is Pietjie Taljaard – die bure se seun. (Pietjie woon deesdae op Upington.) Ons moes die fiets vang sou J.C. skielik moes stop. Daardie tuinmuurtjie in die agtergrond was die opklim- en wegtrekplek.

Ons soek jou kiekies

Het jy mooi ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na kyra.tarr@media24.com