Tuinroete

Foto’s: Nellie Brand-Jonker

Tussen Mosselbaai en die Tsitsikammaberge lê ’n strook aarde waar dit lyk of die natuur kans kry om ’n bietjie te spog. Die wêreld is altyd groen, daar is berge en kranse wat omtrent jou asem wegslaan, en dis asof die Indiese Oseaan jou wil vermaak met sy skoonheid.

In die Tuinroete is boonop ’n oorvloed Blouvlagstrande, ’n magdom doendinge en selfs nóg meer voorslagkampplekke. Ons span by drie van hulle uit. 

FOREVER PLETTENBERGBAAI

Prettenbergbaai

Wanneer dit by ligging kom, sien ’n mens dikwels hoe chaletbewoners voorkeur geniet bo kampeerders, maar by dié vakansieplek op die oewer van die Keurboomsrivier is die bordjies verhang.

Hier kan jy met jou wa so te sê óp die water kom kamp, terwyl die chalets met die agterste gestoeltes tevrede moet wees. En met 116 staanplekke van elke kleur en geur is die kans goed dat jy jou kampnessie gaan kan skrop op ’n plek wat vierkant in jou smaak val. 

Of jy met jou visstokke naby aan die water wil kamp, aan die voet van die rantjie rustig wil raak, ’n ogie oor die kinders in die swembad of op die trampolien wil hou, of heel eenkant ’n meer private kampervaring wil hê, jy sal hier geholpe raak.

Die staanplekke is oorwegend dieselfde grootte met genoeg plek om jou groot dubbelaswa op die meeste van hulle in te pas. Hier is egter ’n klompie in die middel van die kampterrein waar die bome naby aan mekaar is en die takke laag hang. Gesels met die ontvangsmense wanneer jy jou bespreking maak as dit vir jou ’n probleem gaan wees.

Die staanplekke verskil ook in terme van wat jy kry. Nie almal het ewe veel gras, koelte of ’n lig nie, maar by elkeen is ’n blousokkragpunt en ’n betonbraaier met ’n rooster.

Die krane staan tussen die staanplekke, maar het nie ’n drein onder nie, wat tot ’n modderplas kan lei as jy nie ’n skottel onder die kraan neersit terwyl jy ’n glas uitspoel nie.

By die staanplekke voor teen die rivier is die koeltebome yl gesaai, veral by die eerste klomp soos jy by die kampterrein inry.

Onthou ook jou stormpenne en -bande, want die wind van die see se kant af kan nogal ongeskik raak. Maar jy staan wel op ’n plaveiselblad met jou braaier voor teen die water. Hier is ook ’n klein strand langs die rivier waar die kinders in die vlak water kan speel. Én jy het die beste uitsig van almal in die oord.

Die eerste staanplekke in die middel van die kampterrein het die meeste koelte, maar min gras. Onthou jou grondseil as jy hier gaan staan. Hulle is ook die naaste aan die kinders se speelplek, en hier is ’n minigholfbaan, ’n swembad (en een vir die kleintjies), ’n vlugbalbaan, twee trampoliens, ’n klimraam en swaaie.

doen wat jy wil. Onthou jou visgerei en kom kyk of jy een van die Keurboomsrivier se blinklywe aan jou hoek kan kry. Of klim in die kar en ry terug in Knysna se rigting en gaan ontmoet die grootvoete by die Knysna-olifantpark. Jy het waarskynlik nog nie só naby aan die wêreld se grootste landdier gekom nie.

Daardie klapgeluid waarmee jy vroegoggend wakker gemaak word, is die kinders wat op die trampoliens spring. Hier is ook ’n groot spreilig wat die donker ná sononder verdryf; dus klap daardie trampoliens saans ook.

Op die staanplekke teen die linkerkant af is jy koelte gewaarborg, maar hier is ook die minste gras en die apies woel in die digte bome.

Tyd om te gaan bad

Die kampterrein se drie ablusieblokke het ’n eenderse uitleg en almal aparte geriewe vir mans en vroue. Dit word deurgaans skoon en netjies gehou.

Die eerste een is die grootste van die drie met vier wasbakke, drie urinale, ses toilette, een bad en vier storte. Die stort is groot met ’n gordyn wat die nat en droë deel skei, maar jy het genoeg ruimte sodat die gordyn nie aan jou lek nie. Hier is ’n seepbakkie en jy sit jou sjampoe op die vensterbank.

In die droë deel is ’n bankie, ’n handdoekreling en hake, en genoeg plek om maklik uit en aan te trek. Die wasbakke het almal groot spieëls, ’n sok vir jou elektriese skeermes en houers met handewasseep.

Die ander twee ablusieblokke is soortgelyk, maar kleiner. Die derde een staan amper aan die verste punt van die kampterrein, naby die staanplekke waar jy die verste weg van alles is.

Groet die grootvoete

Hier is ’n magdom dinge in die omgewing om jou besig te hou. Dis sowat 10 minute se ry tot by enige van Plettenbergbaai se poskaartmooi strande.

Gaan lê vir die dag en sonbaai, eet in een van die restaurante by die see, of bespreek vir julle ’n bootrit. Óf klim in die kar en ry terug in Knysna se rigting en gaan beleef ’n ervaring met ’n olifant soos nog nooit tevore nie.

By die Knysna-olifantpark kan jy saam met ’n trop olifante stap wat uit die natuur gered is. Jy leer meer oor dié diere én kan hulle voer en selfs aan hulle raak. Die park is daagliks tussen 9 vm. en 3 nm. oop en daar vertrek elke halfuur ’n groep. Dit kos R320 p.p. (R230 vir pensioentrekkers en studente; R160 vir kinders 5-12 jaar; gratis vir o.5’s). 

Kortliks | Forever Plettenbergbaai

Kampplek 116 staanplekke waarvan 33 teen die rivier uitgelê is. Alle staanplekke het krag en is nie ver van ’n kraan af nie, maar nie almal het koelte nie.

Ablusiegeriewe 3 netjiese en moderne ablusieblokke.

Prys R101-R172 p.p.p.n. afhangend van wanneer jy kom kamp. In die spitsseisoen betaal jy R908-R1 170 vir die eerste 4 mense en daarna R146 p.p.

Kontak  044 535 2034 of 012 423 5600 (sentrale besprekings);  plett@foreversa.co.za; foreverplettenberg.co.za

Naaste dorp Plettenbergbaai, 8 km.

Hoe lyk die pad? Heelpad teerpad.

GPS S34.000260 E23.398871

Weg Ry & Sleep Hier is spesiale tariewe vir pensioentrekkers wat vir ’n maand lank wil kom kamp, maar dit geld nie in besige tye nie.

Die Landsbergs van Lydenburg het die eerste keer hier kom kamp saam met die Nels van Hartenbos, en almal behalwe die mans het in die Jurgens XT160 en sy tent gepas.

STORMSRIVIERMOND

Tussen die woud en die see

Los die Wes-Kaap vir ’n paar dae agter jou: Mik oos, steek die Bloukransrivier oor na die Oos-Kaap, en gaan kap jou tentpenne in by Stormsriviermond in die Tsitsikamma-natuurreservaat.

Stormsriviermond is een van dié gewildste bestemmings onder Sanparke se besoekers en wanneer jy hier sit met die see op jou voorstoep en die ongerepte Tsitsikammawoud agter jou, verstaan jy hoekom.

Jy kamp só naby aan die see dat jy jou vir die eerste klompie dae van jou besoek net in jou kampstoel wil plak en na die water kyk. En as jy later jou vuurtjie in jou betonbraaier aansteek en die vlamme hoog brand terwyl die son in die weste agter die horison wegraak, dan weet jy jy is op ’n spesiale plek.

Jy is hier vir die natuur, en dit word in oorvloed aan jou bedien. Die geluid van die water onder is ’n konstante witgeraas wat al die kommer en stres van jou alledaagse bestaan wegdruis.

Wanneer jy uiteindelik reg is om die wêreld te verken is hier staproetes te kus en keur vir elke fiksheidgraad. Die Watervalroete is die eerste sowat 5 km van die bekende Otterstaproete en sy beginpunt is ’n paar minute van die kampterrein af. Jy stap op ’n kronkelpad deur die woud en die kans is goed dat jy ’n klompie mak bokkies sal teëkom.

Die Blouduikertjieroete van 3,7 km is reg agter die kampterrein, en as jy in die teenoorgestelde rigting stap – na die restaurant se kant toe – kom jy by die beginpunt van die Stormsriviermondroete, waar jy oor ’n 77 m lange brug oor die rivier stap. Maak seker jou kamerabattery is gelaai.

Kies jou kol

Hier is meer as 80 geplaveide staanplekke en elkeen van hulle is ruim genoeg vir jou wa en stoeptent. Hier is ’n kragpunt en braaiplek vir elke staanplek, maar jy moet jou eie rooster saambring.

Soos ’n mens kan verwag, is die staanplekke voor teen die see duurder as die res, maar as jy ooit geld wou uitgee om jouself en jou mense te bederf, doen dit hier. Daar is ’n spesiale bekoring aan die bulderende branders wat op die rotse breek, met die seesproei wat só hoog opslaan dis amper nie nodig om jou braaivleis te sout nie.

Die kampterrein is op twee terrasse uitgelê, en as jy in die voorste ry kamp, moet jy jou stormbande onthou. Ons was gelukkig met ons besoek, maar het by meer as een mens gehoor hoe onbeskof sake kan raak as die wind die dag in ’n bui is.

By die agterste staanplekke is jy meer beskut, en hoewel jy verder weg is van die water, is dit geensins asof enige van die natuurskoon verlore is nie. Die see strek steeds ver voor jou uit en die lowergroen woud is steeds só naby aan jou jy kan hom amper in jou nek voel blaas.

Ons het naby ’n klein ablusieblok met aparte geriewe en ’n opwasplek gekamp, en eers met ons vertrek besef dis waarskynlik die mees afgeleefde geriewe hier.

Toe ons later deurstap, het ons gesien hoekom Sanparke se ablusiegeriewe so hoog geag word. Die ander ablusieblokke is netjies, modern en skoon. Hier is vyf badkamers in die kampterrein – drie groot en twee klein – dus is jy altyd naby aan een, ongeag waar jy jou kamp opslaan.

Kortliks | Stormsriviermond

Kampplek Meer as 80 geplaveide staanplekke met krag en ’n braaiplek. Onthou jou rooster. Koelte is skraps.

Ablusiegeriewe 5 ablusieblokke wat wissel in grootte. Hoofsaaklik netjies en skoon.

Prys R323-R485 per staanplek vir 2 mense. Daarna kos dit R89 p.p. (R45 vir kinders). Jy betaal ook ’n daaglikse bewaringstarief van R55 (R28 vir kinders).

Kontak  012 428 9111 (sentrale besprekings);  reservations@sanparks.orgsanparks.org

Naaste dorp Stormsrivier, 16 km.

Hoe lyk die pad? Teerpad tot by jou staanplek.

GPS S34.022394 E23.896270

Weg Ry & Sleep As jy in ’n avontuurlustige luim is, kan jy vir ’n kajak-uitstappie in die riviermonding gaan. Dit kos R600 p.p.

Charlotte Peters, Martin Kusel, Daniela Scriba, Michael Lilje en Ellen Filter is Tuks-studente wat saam kuslangs tot in Kaapstad reis.

BUFFELSBAAI-WOONWAPARK

Omring deur die see

Hoewel Buffelsbaai as dit by grootte kom, beswaarlik met plekke soos Plettenbergbaai of Knysna kan saamgesels, hoef hy wat natuurskoon betref, nie ’n aks terug te staan vir enige bestemming nie. Dis maklik om aan dié klein dorpie te dink as bloot ’n handjie vol vakansiehuise, ’n kafee, pizzarestaurant, woonwapark en twee strande op ’n piepklein lappie aarde, maar wanneer jy eers jou staan hier gekry het, sien jy hoekom jy sukkel om in die besige seisoen hier plek te kry.

Buffelsbaai lê in die Goukamma-reservaat, knap voor Knysna as jy van die Kaap se kant af met die N2 ry. Die woonwapark is op ’n klein skiereiland aan die punt van die baai uitgelê; dus is hier geen tekort aan seefrontstaanplekke nie.

Jy word basies omring deur water, met ’n droomuitsig oor die Indiese Oseaan.

Die twee kante van die kampterrein strek weerskante teen die water af tot by ’n punt die verste van die hek af, amper in die vorm van ’n driehoek wat plat lê. Op enige van dié staanplekke het jy ’n onbelemmerde uitsig oor die water.

Onthou jou verkyker, want die dolfyne speel sommer hier reg voor jou stoeptent.

Buffelsbaai

Die 85 staanplekke het almal gras, ’n kragpunt en baksteenbraaier (sonder rooster), met krane naby om koffiewater te tap. Hulle het ook gruisblaaie waarop jy jou wa waterpas kan maak en jou stoeptent kan opslaan.

Dis onder dié einste stoeptent waar jy jou tyd met ’n boek verwyl met die gedruis van die water in jou ore. Of vat die kinders en stap na Buffelsbaai se strand, gaan durf die branders op jou plank aan of sit aas aan jou hoek.

Hier is ’n handjie vol staanplekke in die middel van die kampterrein, maar hulle het nie ’n gruisblad of betonbraaier soos die voorste staanplekke nie.

In die middel van die kampterrein is ’n klein klimraam om die kinders te vermaak, maar dis duidelik met al die ander doendinge speel hy tweede viool. Hier is ook nie ’n kampwinkel nie, maar jy kan hout by die ontvangskantoor koop en die winkel op die dorp is nie ver nie.

Onthou om te onthou

Buffelsbaai se twee ablusieblokke staan in die middel van die kampterrein, maar met ons besoek was net een van hulle oop. Die ander een word glo net in die besige tye oopgesluit.

Die ablusieblok die naaste aan die hek het aparte geriewe vir mans en vroue, en daar is niks om oor te kla nie. Dis modern, geteël, skoon, groot genoeg en het alles wat jy kan nodig kry. Die storte is groot, die water spuit sterk en jy staan nooit óp jou buurman by die wasbakke terwyl julle tande borsel nie.

Daar was ook nie met ons besoek enige probleme met warm water nie.

Twee baie belangrike dinge wat jy op jou kamplys móét skryf wanneer jy hier kom kamp, is jou blinkseil en stormtoue. Hier is nie ’n koelteboom in sig nie, en die wind en weer is net so onvoorspelbaar soos jou tienerdogter se humeur.

As jy effens vir die wind wil wegkruip, moet jy probeer om by die staanplekke regs van die ingang te kamp, maar dan het jy nie juis ’n uitsig nie. En dis per slot van sake hoekom jy hier is.

Kortliks | Buffelsbaai-woonwapark

Kampplek 85 staanplekke; dié teenaan die see het ’n gruiskol wat met gras omring is en dié tussenin is op gras. Hier is geen koeltebome nie.

Ablusiegeriewe 2 skoon en netjiese ablusieblokke. Net een word buite seisoen gebruik.

Prys R300-R750 per staanplek vir 2 mense, afhangend van wanneer jy kom kamp. Daarna R50-100 p.p.p.n. (gratis vir kinders o.4). Hoogstens 6 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 10 vm.

Kontak  044 383 0035;  buffalobay.co.za

Naaste dorp Die woonwapark is op Buffelsbaai.

Hoe lyk die pad? Teer tot by die hek.

GPS S34.08908 E22.97613

Weg Ry & Sleep Bring genoeg kontant saam om vir jou staanplek te betaal, want die woonwapark het nie kaartgeriewe nie.