DWESA-NATUURRESERVAAT

’n Vis ’n dag

Visvang
Visvang

Die kampplek is in die ruigtes digby die see en in die vorm van ’n klawerblaar uitgelê.

Die staanplekke het boonop ’n lieflike grastapyt. Die groep staanplekke links in die kampplek, wat in ’n ry langs mekaar uitgelê is, gee jou die meeste privaatheid. Na die middel toe is staanplekke in ’n kring (langs ’n oop kol gras). Van dié staanplekke af loop ’n hangbrug oor ’n stroompie na die ander kampdeel, op ’n grasvlakte met bome rondom. Van hierdie staanplekke is in die oopte en die res onder die bome.

Die badkamers is langs die middelste staanplekke en ’n stywe stappie van die ander staanplekke af. As jy hier in die middel kamp, moet jy dus vrede maak met die badkamerverkeer. By die regterkantse kampplek is ’n houtgeboutjie met ekovriendelike toilette – dis nou as jy nie al die pad met die hangbrug oor die stroom badkamer toe wil stap nie.

Jy braai op ’n heel nuwe gemesselde braaiplek, maar moet jou eie rooster saambring. Die braaiplek het ’n kant vir jou en vir die buurman. Die krane staan weggesteek in die bosse en die amptenare sê dit is veilig om die kraanwater te drink.

Bring jou eie skottel saam om jou skottelgoed te was, want hier is nie ’n opwasplek nie.

Die toegang tot die strand is regs net voor jy die kampplek binnery – omtrent 500 m ná die kantoor. Omdat Dwesa deel is van ’n bewarea, mag jy nie sommer enige plek hengel nie. Drie sones is spesifiek hiervoor geoormerk: Dis van die strand af in die suidelike gedeelte, en dan twee sones in die noordelike gedeelte. Jy moet natuurlik ’n hengelpermit by jou hê. In elk van die sones word tot 6 hengelaars per dag toegelaat, maar nie meer as 12 in totaal nie.

Hengel word ook net van 07:00-16:00 toegelaat en jou sarsie per dag mag nie langer as vier uur op ’n slag wees nie. ’n Mens kan kies tussen kabeljou, bruinhottentot, elf, harder, strepie, knorder, galjoen, Kaapse stompneus, bloupylstert en ’n skotsman, maar hou altyd jou oog op die horlosie.

Kortliks | Dwesa-natuurreservaat

Vis: Kabeljou, bruinhottentot, elf, harder, strepie, knorder, galjoen, Kaapse stompneus, bloupylstert, skotsman.

Kampplek: 40 genommerde staanplekke in verskeie groepe op gras en met koelte. Die meeste van hulle het ’n braaiplek, maar geen krag nie.

Ablusiegeriewe: Basies en oud.

Prys: Afhangende van die seisoen R244 of R265 p.n. per staanplek (hoogstens 6 mense word per staanplek toegelaat).

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Hektye: 06:00 tot 22:00.

Kontak:  043 492 0881; visiteasterncape.co.za/parks/dwesa/info@ecpta.co.za

Naaste groot dorp: Idutywa 78 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 47 km is ’n klipperige grondpad met slegte en steil dele. Hier kan jy nie met ’n voorwielaangedrewe voertuig sleep nie.

GPS: S32.310088 E28.827139

Ry & SleepDie vang-en-vrylaatreël geld. Jy mag wel een vis per dag hou, maar nié met die vis by die hek uitry nie. Dit geld ook net vir ’n totaal van vier dae per maand vir jou kwota.

Gerookte forel
Forel

HEELGEROOSTERDE FOREL IN KOERANTPAPIER

Vispakkie

Vars forel het ’n ongelooflike geur en smaak. Hierdie resep is spesiaal vir diegene wat bevoorreg genoeg is om self ’n forel uit die water te trek. Die vis kan daar en dan op ’n kampvuurtjie gaargemaak word.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 1 heel reënboogforel van 1,2-1,5 kg
  • olyfolie
  • 1 koppie vars gemengde kruie, gekap (ons het vinkel, pietersielie, grasuie en basilie gebruik)
  • 2 suurlemoene, in dun skyfies gesny
  • 1 bossie sprietuie, gesnipper
  • 2 eetlepels vinkelsaad, gekneus
  • ¼ koppie (60 g) botter, in blokkies gesny

Só maak jy

1. Vlek die vis, maar moenie die kop, stert of vel verwyder nie. Skraap die binnegoed uit, spoel die vis goed af en druk dit met kombuispapier droog.

2. Sit die forel op ’n vel bakpapier. Vryf die vis binne en buite met olyfolie, en geur dit dan met sout en swartpeper. Vul die maagholte met die helfte van die kruie, vou die vis toe en pak die suurlemoenskyfies bo-op, gevolg deur die sprietuie, vinkelsaad en oorblywende kruie. Stip dit met die botterblokkies. Sit nou nog ’n vel bakpapier bo-oor sodat die vis tussen die twee lae lê.

3. Draai die vis nou soos ’n pakkie toe in die bakpapier. Maak koerantpapier nat onder ’n lopende kraan en draai die forel in drie lae nat koerantpapier toe. Die koerantpapier moet goed nat wees, anders gaan dit vlam vat oor die kole.

4. Gebruik tou om die vispakkie deeglik vas te bind. Maak ’n bed van matige kole en plaas die vispakkie bo-op. Krap nog kole oor die pakkie sodat dit heeltemal bedek is. Hou ’n vuur eenkant aan die gang sodat jy nog kole byderhand het as jy dit nodig kry. Die forel sal sowat 35 minute neem om gaar te word, afhangend van die hitte van die kole en die grootte van die vis. Wanneer die koerantpapier begin bruin word, is die vis gaar.

5. Sny die tou los en die papier oop. Sit die vis dadelik voor.

Ry & Sleep sê
Die belangrikste is om forel nooit oorgaar te maak nie – die vleis moet klam en sag wees, en maklik vlok. Onthou ook, forel is op sy lekkerste as jy dit so gou as moontlik gaarmaak nadat dit gevang is.


Samaki

Drie vir een

Strandhengel is sinoniem met oorde teen die kus, maar omdat die stokke daarvoor gewoonlik so lank is, is dit nie so maklik om te vervoer nie. Van hulle bestaan wel uit drie dele wat jy inmekaar pas om een stok te vorm.

Jy kan hom dus maklik inpak vir jou seevakansie. Adrenalin se ADR-X Samaki-strandstok is een voorbeeld, en hy is beskikbaar in twee lengtes: 12’8” en 13’8”. Omdat die stokke elk uit drie dele bestaan, is die los stukke onderskeidelik 1,29 m en 1,39 m lank. Hierdie stokke werk goed vir onder meer kabeljou en sloephaaie – en jy gaan nie sukkel om ’n knewel van 40-50 kg uit die water te kry nie.

Die stok self het ’n HMG-gradering van 36 t – dit staan vir “high modulus graphite” en verwys na die digtheid van die grafietinhoud, sê Gerhard Terblanche van Adrenalin.

Gewoonlik is ’n stok se gradering rondom 24 t, maar dit kan ook 30 t, 36 t of 40 t wees. Hoe hoër die getal, hoe ligter die stok, maar dit stoot ook die brosheid op. Die stok kom verder met hoëgehalte-SeaGuide- K-ogies en ’n EVA- glyvaste greep. Jy gebruik ’n koffiemeulkatrol. Prys Vanaf R2 350 by hengelwinkels in Suid-Afrika en Namibië, en dit sluit ’n drasak in.

Kontak: Adrenalin Importers & Distributors (invoerders) 021 982 1510; catches@4adrenalin.co.zaadrenalinfishing.co.za

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook