Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Op Donderdag 26 Maart, toe die horlosie middernag slaan, het alle kampplanne vir die afsienbare toekoms eensklaps tot niet gegaan. Dit was toe Suid-Afrika se inperkingstyd as voorsorg teen die Covid-19-pandemie in werking getree het: Tuisbly sou vir ’n hele ruk Suid-Afrikaners se voorland wees.

Soos ons almal weet, is die Paastyd saam met die Desember-vakansie die besigste tyd op die jaar se kampkalender. Maar vanjaar was vakansieoorde se besprekings daarmee heen, en waar hulle gewoonlik stampvol is wanneer die jaar se eerste skoolvakansie aanbreek, was dit nou verlate.

Boonop is byeenkomste ook verbied, iets wat duisende voornemende kampeerders raak.

Op Donderdag 26 Maart, toe die horlosie middernag slaan, het alle kampplanne vir die afsienbare toekoms eensklaps tot niet gegaan.

Een so ’n byeenkoms wat noodgedwonge moes sneuwel, was die jaarlikse Presidente-saamtrek van die Suid-Afrikaanse Woonwavereniging (SAWA), wat ook in dié tydperk plaasvind.

Maar vir afstel was mense nie lus nie, en die vereniging besluit al kan hulle nie meer die saamtrek by die Klipdraai-woonwapark in Meyerton bywoon nie, gaan hulle steeds kamp: Elkeen in sy agterplaas.

Skielik kry die saamtrek momentum. Net soos die ganse wêreld hulle tot Zoom, Teams en FaceTime gewend het vir virtuele vergaderings, kry dié storie lewe op die internet soos almal geselsies aanknoop, foto’s deel en, ja, ook vergaderings hou. Niël Goslett, nasionale ondervoorsitter van SAWA, vertel:

Ons het vanjaar nie minder nie as 200 woonwaens by ons jaarlikse Presidente-kamp verwag, maar die inperking het daardie planne in die wiele gery. Sommige van ons lede was ongelukkig hieroor, want dit was nie net die  saamtrek wat gekanselleer is nie, maar ook die gepaardgaande kampprogram van ander streke reg oor die land.

"Al mag ons dan nie gaan kamp het, het ons besluit om ’n manier te vind om wel voort te gaan met ons bedrywighede. Ons het die sosiale media op streeks- en nasionale vlak ingespan om kontak met mekaar te hou. ’n Eerste bekommernis was ons senior lede wat nou in afsondering leef. Maar ons het vinnig agtergekom hulle ouerinstink het ingeskop, want hulle was nou weer bekommerd oor die jonger lede."

Terwyl daar nog nie sekerheid was oor wat ons volgende te doen staan nie, het Chris Joubert van die Kiepersol-streek in Gauteng met ’n blink plan tevore gekom: Wat van ’n virtuele kamp, net daar by die huis! Die voorstel het soos ’n veldbrand versprei, en lede het vinnig laat weet hulle wil saam kamp. Só is die koronakamp gebore.

Gewoonlik maak ons gedenkplaatjies vir kampeerders wat ’n spesifieke kamp bywoon, en dit was nie lank nie vóór kampeerders wou weet wat daarmee gebeur. Ons het ’n spesiale gedenkplaatjie laat maak, en vir ’n klein bedrag – en fotografiese bewyse dat lede wel in dié tydperk saam tuis gekamp het – kon jy joune bestel.

Die nasionale saamtrek het toe wel plaasgevind, en bewyse van lede wat saam gekamp het, was daar baie. Lede kon hulle ‘kampplek’ ’n eie naam gee: Carstenshof-oord, Grendelkamp, Laguna Beach Resort, Sluisfontein, Fanie’s-oord, Koorsboomdam, Rubernet Holiday Resort, Die Oprit, Lavos Lodge Inn, Galjoenvreugde en Lekker Kamp Reineke Park is enkele voorbeelde hiervan.

Van die lede het selfs video’s gedeel van hoe die woonwa kwansuis in die erf gehaak en gesleep word tot waar hulle kamp, en dan kamp opslaan. Net soos met gewone saamtrekke het ons ’n kampprogram opgestel. Nou kon ons gelyk vure aansteek en sien wanneer gesamentlik kerkdiens gehou word.

Die program self was ook vol pittighede. By Vrydag om 18:00 staan: ‘Onthou asseblief om jou hande deeglik te was vir 20 sekondes met seep en water. Ons spuit ook hande met reiniger as jy jou vetkoek kom haal.’ Saterdag om 07:00: ‘Vrywillige staproete in die oordtuin. Kom ons kyk hoeveel voëls ons kan afneem en identifiseer.’

Vir die 09:00-ontbyt: ‘Elkeen bring sy eie alles en ons kuier lekker saam, elkeen by sy eie tafeltjie – 2 m uitmekaar.’ ‘Trek jou dansskoene aan teen 13:00, boekevat is om 18:00 en die braaivure begin om 18:30.’ ‘Die oord het spesiale vergunning verleen dat ons tot ná 23:00 mag kuier.’ ‘Om 09:00 Sondag luister ons saam na die erediens op Pretoria FM.’ En op die laaste bladsy staan in rooi hoofletters getik: ‘Troeteldiere word toegelaat in die oord.’

Woonwaens en tente is op grasperke en opritte opgeslaan – net waar jy plek kry in jou erf. Van die ‘kampplekke’ was selfs groot genoeg vir ’n ‘wildrit’ waar ’n klomp plastiekspeelgoeddiertjies vir die kinders uitgepak is. Van ons het ’n fotografietoer deur die tuin meegemaak en tuinvoëls, blomme asook tuintonele afgeneem.

Natuurlik het tradisionele kampaktiwiteite voortgegaan. Baie gebraai, baie gesels en geskerts.

Maar dit is net per foon of rekenaar. Loxton en Marthie van Breda van Potchefstroom het selfs hulle nuwe woonwa tuis ingewy. Uiteindelik het meer as 160 gesinne reg oor die land aan die virtuele koronakamp deelgeneem.

Dit is beslis ’n alternatiewe manier van kamp gedurende die uitdagende tyd van inperking. Almal was tevrede met die badkamergeriewe, en soos dit met ons gewone kampe gaan, was daar sommiges wat langer wou oorbly.

Uiteindelik het meer as 160 gesinne reg oor die land aan die virtuele koronakamp deelgeneem.

Moedverloor se Vlakte

Sedert 2006 kamp Jannie en Alet Meyer van Alberton minstens een keer per maand.

Al sou die koronakamp net oor ’n naweek plaasvind, het ons sommer die woonwa ’n week vóór die tyd al in die tuin staangemaak. Só sal ons ons tuiskampplek opsom: ’n lekker stil plekkie, nie ver van die huis af nie, én dier- en kindervriendelik. Dit was só ’n gawe plek dat selfs die braaihout en limonade verskaf is.

Natuurlik was dit nie volmaak nie, want al ons vriende wat gewoonlik saam kamp, was nie hier nie. Om die waarheid te sê was ons só alleen, ons het ons kampplek Moedverloor se Vlakte gedoop. Ons het selfs ’n liedjie hieroor geskryf.

Gevolglik het ons vroeër as gewoonlik gaan inkruip, maar het nietemin die geleentheid gebruik om buite saam met die gesin te wees.

Wipplank op Covid-19 (I)

Hulle is al amper twintig jaar lid van die woonwaklub. Al gebruik hulle vandag ’n woonwa, het Hennie en Susan Bloemhof van Port Elizabeth desjare met tente begin kamp.

Toe ons kamp opslaan, moes ons ’n bietjie kopkrap, want waar ons gewoonlik op gras staan, moes ons nou op ’n betonblad regkom. Ons het die grondseil oopgegooi, maar kon dit ook nie soos gewoonlik vaskap nie. Dieselfde met die gazebo se ankertoue. ’n Paar 25 l-plastiekdromme vol water en ’n klompie potplante moes toe die knoop deurhak.

Vrydagmiddag het ons teen koffietyd Susan se heerlike plaatkoekies met heuning by ons boeretroos geniet.

’n Kamptarief van R100 per gesin is gehef, en die opbrengs het gegaan na mense in ons geledere wat weens die inperking sonder ’n inkomste sit.

Saterdagoggend se ontbyt was so stewig as wat jy dit kry: spek, eiers, roosterbrood en gebraaide tamatie. Deur die dag het ons ons dan besig gehou met bordspeletjies, lees en hekel. Die middag was ’n yskastert aan die beurt, en natuurlik het ons die dag afgesluit met ’n braai.

Ná Sondag se kerkdiens was dit tyd vir ’n volgende smullekker happie: souttert – ongelukkig sonder ons vriende. Daarna is ons druipstert terug in die huis om die inperking voort te sit.

Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis

Wipplank op Covid-19 (II)

Hulle kamp 35 jaar al saam met SAWA en woon op Jeffreysbaai. En Simon en Ina Mattheus besit ’n Jurgens Expo-woonwa.

Ons het op die naam “Wipplank op Covid-19” besluit, want ná die aankondiging van die eerste inperking – ’n tydperk van drie weke – sou ons nog die Paaskamp kon bywoon, want dit was net ná die tydperk. Maar toe word dit verleng en ons was nie seker wat ons volgende te doen staan nie. Toe kom die virtuele kamp ter sprake.

Ons woonwa staan in die motorhuis en ons het hom opgeslaan net daar waar ons langs ons woonstel gekamp het. Die stoeptent moes op en die grondseil uit, en ons het ook die kamptafels en tuinstoele nader gedra sodat ons langs die wa kan sit.

Net soos met ons gewone kampe het ons op dieselfde tye koffie gedrink en boekegevat – en natuurlik Saterdag saam gebraai. Die braai het wel ’n effens ander gedaante aangeneem: Die tafel het sy gewone netjiese tafeldoek gekry, maar ek kon selfs kerse uitsit, want hier was nie ’n wind wat hulle kon doodwaai nie. Dit was nogal heel romanties!

Ek en Simon het selfs rolbal gespeel op die mat. Eintlik kan ’n mens dit mini-rolbal noem, want die balle is omtrent ’n derde van die grootte van die regte soort. Simon het my met 15-5 geklop.

Ons streek wat saam gekamp het, was natuurlik ook deel van mekaar met die hulp van ’n WhatsApp-groep. Ek het onder meer ’n raaiselspeletjie met ’n klomp ikone wat Afrikaanse liedjies voorstel, daarop geplaas sodat ons kon kyk wie die meeste regte antwoorde kan kry.

Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis

Onse plotjie

Sy Oztent RV-4 moes deug vir die naweek se tuiskamp, maar Daniël le Roux van Goodwood, Kaapstad, het die geleentheid aangegryp om dit in ’n positiewe ervaring saam met sy gesin te omskep.

Ons het SAWA se naweekriglyne gevolg met boekevat wat my dogter, Sharon, vir ons gedoen het.

Al was ’n mens ingeperk, was dit ’n unieke ervaring om so saam met jou gesin in jou tuin te kamp, gesels en braai – soveel so dat ’n mens later nie meer onthou jy kamp by die huis nie.

Uit en tuis by die huis
Uit en tuis by die huis

Maurauder-kamp

Sedert hulle in 2013 by die klub aangesluit het, het Japie en Magda de Villiers van Pierre van Ryneveld, Centurion, al 66 kampe bygewoon.

Met die inperking was ons woonwa in vir herstelwerk, maar ons het ook ’n sleepwa met ’n daktent waarin ons kan kamp.

Al was die omstandighede anders as gewoonlik, het ek steeds ’n koue bier geniet terwyl ons opslaan. Ons kuier om die vuur was ewe lekker en soos altyd gesellig – en natuurlik was die ontbyt in die buitelug heerlik. Ons het wel in die huis gebad en aangetrek, maar ons het telkens buite kosgemaak.

Ons woon in ’n woonstel op die erf by ons kinders Quinten en Amanda Verster. Die heel lekkerste was om hulle die hele naweek by ons te hê, veral ons kleindogter, Anja. Sondag moes ons vroeg oppak, want ’n storm was op pad. Die naweek is afgesluit met ’n lasagne-potjie onder die afdak.

Ons het al voorheen by die huis gekamp – dit was nadat ons ’n nuwe woonwa gekoop het en nie kon wag vir die naweek nie. Dit voel net lekkerder om in ’n woonwa of tent wakker te word as in jou huis.

Terloops, ons kampnaam verwys na die straat waarin ons woon.

Kou-het-sie

Hierdie, kan ’n mens maar sê, was ’n wettige saamtrek. Martin Coetzee en sy meisie, Jean-Marie Kotzé, woon in die tuinwoonstel op dieselfde erf as sy ouers, Duane en Esmé Coetzee, in Bellville in die Kaap. Almal het lekker saam gekamp.

Al het ander mense al in die woonwa hier by die huis oornag, het ons nog nooit self tuis gekamp nie. Nou was dit ons beurt.

Voordat ons die twee woonwaens voor in die erf kon trek, moes Duane gou die gras sny. En ons móés voor kamp, want ons kuier altyd agter om die swembad by die braaikamer. Daar was nie veel plek vir die tente nie, maar ons kon darem die grondseil oopgooi.

Soos sekerlik baie ander mense het ons die huis gebruik om te stort en aan te trek. Maar die kos is op die vuur berei, die koffie is in die wa gemaak, en geen TV is aangeskakel nie – die radio in die wa het vir ’n gesellige atmosfeer rondom die vuur gesorg. Deur middel van die digitale media het ons saam met die res van ons kampgroep boekevat gehou. Nadat Martin se mense al ingekruip het, was hy nog besig met ’n WhatsApp-video-oproep. Só kon ons op die fone heerlik langs die vuur kuier. Ouder gewoonte was Duane en Martin die langasems wat tot drieuur die oggend langs die vuurtjie vasgebyt het.

Ons honde het die kamp geniet, want hulle kon binne-in die wa slaap. Dieselfde met Martin en Jean-Marie se Deense hond, Tienker. Ons kamp die afgelope 25 jaar al, en ons kampnaam, Kou-het-sie, is onse Afrikaans vir Coetzee.

Carstenhof-karavaanpark

Hulle het reeds drie woonwaens gehad en kamp sedert 1994 saam met SAWA. Shawn en Elize Carstens woon op ’n plot in die Benoni- landbouhoewes.

Ons het in ons Jurgens Penta gekamp, en dit was van die begin af ’n winskoop, want die “naweektarief” was sommer by Vrydagaand se ete ingesluit. Net soos op gewone kampnaweke het ons dit baie rustig gevat. Die kiewiete het kom kos soek terwyl die duiwe in die bome sit en koer. Die gras was lekker groen en die bome het vir ’n kalm atmosfeer gesorg.

Ons kinders, Dirkie en Liezl Enderstein, en hulle twee kleingoed, Liam en Carli, bly ook op die plot en hulle het óók hulle tent Saterdag opgeslaan. Liam is baie lief vir kamp en het Saterdagaand saam met ons om die vuur gesit. Ons het voorheen hier op die plot saam met vriende gekamp. Dit was heerlik. Ons beplan om sommer vinnig weer so te maak, want die oordmense was baie gasvry!

Lockdown Paradise

Die Van Zyls van Worcester kamp 32 jaar al – eers met tente en die afgelope 17 jaar met ’n woonwa. Johan en Rina vertel.

Hierdie was ons eerste kamp by die huis, en hoewel dit vir ons interessant was, het ons ons kampvriende baie gemis. Ons het die Vrydagaand om 18:00 by Facebook Live ingeteken en die naweek met boekevat geopen. Die voorsitter van ons Albatrosstreek in die Wes-Kaap, Theo Roux, het dit waargeneem. Sondag se kerkdiens was ook met Facebook Live. Ons het lekker gekuier, maar dit is nou maar eenmaal lekkerder as jou vriende by is.

Schyff’s-oord

Hulle sleep 4 jaar al hulle Jurgens Palma, maar Johan en Elize van der Schyff van Meyerton kamp al langer as 25 jaar.

Ons het die woonwa Vrydagmiddag uit die motorhuis getrek en voor die viswaters (die swembad) staangemaak. Dit is nie te ver van die badkamers af nie (ons lapa is digby en daar is ’n toilet).

Ons het ook ’n private kombuis (die lapa s’n) wat selfs ’n kroeg insluit. Soos altyd pak ons die tafel en stoele onder die stoeptent uit. Selfs die viskas met visstokke word langs die waters opgeslaan. En dan het ons vir die Palma ’n masker gemaak deur ’n laken oor die neusgedeelte te trek en getekende oë bo dit te plak.

Johan het later sy voorskoot aangetrek, beslag gemeng en vir ons pannekoek gebak. Terwyl hy die vars pannekoek voorsit, het ek langs die vuur gesit en sjerrie drink met rustige musiek in die agtergrond.

Ons het om die vuur gekuier tot die koue begin knyp het en toe gaan inkruip – natuurlik in die woonwa.

Ná koffie en beskuit Saterdagoggend het Johan ’n heerlike ontbyt gemaak: maalvleis, gebakte eiers en geroosterde brood. Deur die loop van die dag het ons oor die fone saam met vriende en familie gekuier en tussendeur ook bordspeletjies gespeel. Johan se vislyn was in die water en hy het kastig ’n barrakuda uit die skoon waters getrek. (Ons het teruggedink aan die knewel van 1,6 m wat Johan in Mosambiek gevang het.)

Ná Saterdagaand se braai en lekker beker cappuccino het ons gaan inkruip. Die volgende oggend was dit ouder gewoonte koffie en beskuit in die oggendson terwyl kampvriende se boodskappe en foto’s ons vasgenael gehou het op ons kampstoele. Ons middagete – potjiekos, rys en slaai – het ná die ligte ontbyt gevolg.

Intussen het Johan sy visgerei weggepak terwyl ek ’n glasie jenewer sit en geniet het met die heerlike skaapnek uit die potjie daarna. Die ete is afgesluit met lemoenpoeding en vla.

Sondagaand het ons weer in die huis gaan slaap, en teen Maandagoggend was alles weer weggepak. Die tuiskamp was ontspannend, net soos ’n regte kamp, maar ons kan nie wag om weer vrylik te beweeg nie.

SONY DSC
Uit en tuis

Korona-kamp

Al is hulle “ou” kampeerders, was Johan en Alet van den Heever van Brackenfell die afgelope vier jaar deel van die woonwaklub waar hulle met hulle Sprite Splash kamp.

Ons het in die agterplaas kamp opgeslaan – met Johan Tuisbly se karretjie. Dit was wel ’n eerste keer, maar seker nie die laaste nie. Trouens, is ons van plan om elke maand só te kamp totdat die inperking opgehef word en ons as ’n groep weer saam kan kamp. Soos ander lede reeds hier verduidelik het, het ons sover moontlik by ons klub se gebruike en tradisies gehou.

Een van die groot verskille was natuurlik om alles digitaal te doen. Een ligpunt vir ons van hierdie kamp was dat ons viervoetige kind saam kon kamp, iets wat andersins nie gebeur nie.

Uit en tuis
Uit en tuis

West Bridge Park

Hulle kamp met ’n 2004-model Sprite Surfer Deluxe, en Gawie en Ina van der Westhuizen van Mosselbaai sê hulle het vrywillig verpligtend tuis gekamp.

Dit het natuurlik heelwat skoonmaak geverg rondom die woonwa in die “kampterrein”. En dan is ons ruimte ook maar beperk – ons moes dus mooi dink watter kamptoerusting ons uitpak. So met die kampery saam het ons foto’s gedeel, en ná die gebruiklike boekevat en braaivleisvure het van ons kampvriende gaan “uiteet”: in hulle kombuis! Maar ons verstaan, want hulle waens staan iewers elders opgesluit.

Ons het ook vir die naweek “gaste” gehad, van so ver as Secunda en Danabaai af. Ons vriende op Secunda moes selfs hulle kamp skuif omdat die weer opgesteek het. Omdat ons altyd in die natuur kamp, moet ek die verkleurmannetjie – ’n vroutjie! – noem wat ons in die tuin gesien het. ’n Mens kan nie dié soort kamp buite rekening laat nie, want die inperking kan nog lank duur.

Dit is ongelukkig nadelig vir al die oorde in die land. Toe ons na afloop van die kamp deur al die foto’s kyk, was ons verbaas om te sien hoe goed die opkoms was. Van ons het selfs in die kampplek leer brood bak.

UIt en tuis
Uit en tuis

The Rouxs’ Rustic Retreat

Hulle het hulle eerste woonwa 36 jaar gelede gekoop, en Johan en Estè Roux van Knysna kamp nou maandeliks saam met die woonwaklub.

Dit is nie die eerste keer dat ons die woonwa gebruik om by die huis te kamp nie. Gewoonlik is dit ekstra slaapplek vir die kinders en kleinkinders wanneer hulle in Desember kom kuier. Die wa staan onder die afdak en ons het die stoeptent net daar opgeslaan en gekamp.

Ons is deel van die Klein-Karoo-streek van SAWA en sou ’n “100+”- saamtrek hou toe ons nasionale bestuur op die nippertjie alle komende saamtrekke afgestel het. (Die 100+ sou ’n spesiale geleentheid wees vir kampeerders met 100 of meer streeksaamtrekke op hulle kerfstok.) Só het ons dus ook deel geword van die nasionale virtuele tuiskamp. Die gedagte was om sover moontlik by ons klub se gebruike en tradisies te hou – en alles moes deur ’n WhatsApp-groep gebeur. Uit die 34 lede het 20 van ons vir die naweek ingeboek. Ná ’n stemopname oor die groep vir boekevat is die braaivure aangesteek.

Ons het foto’s op WhatsApp gedeel en tussendeur geskerts en gesels. Saterdag het ons eers laatoggend aan die gang gekom, en die gekuier op die groep het weer op dreef gekom. Soos gister was dit weer tyd vir boekevat en braai, voordat die groep tot slapenstyd gesels het. Vir die Sondagdiens het ek ’n YouTube-skakel van die NG kerk Knysna geplaas sodat ons almal saam daarna kon kyk.

Ons sluit gewoonlik af met ’n beurt vir die Boetebessie. Dis wanneer ons almal se “skandes” van die naweek afstof. Dit is altyd groot pret – en soms net so ’n groot verleentheid.

Uit en tuis

Galjoenvreugde

Dié Weskussers kamp die afgelope vyf jaar al minstens een keer per maand. André Kotzé en Erna Venter van Langebaan vertel meer.

Ons woon in ’n sekerheidskompleks, wat beteken ons woonwa, ’n Sprite Swing, staan elders in ’n stoor. Ons is natuurlik baie lief vir kamp en wou nie die geleentheid vir ’n virtuele weergawe misloop nie. Toe slaan ons sommer kamp op onder die etenstafel. Kom ons sê dit was ’n pragtige omgewing en lekker stil. Ons staanplek was met kleiteëls geplavei en ons het toegang gehad tot ’n volledig toegeruste kombuis! Ons het die Vrydagaand weggespring met ’n binnebraai op ons gasbraaier.

Op die spyskaart was Vrystaatse krummelpap en tjoppies. Ná ete het ons ons opblaasmatras gereed gekry vir die nag. Saterdag het ons snoek gebraai saam met ons buurman – darem op ’n afstand. Saam met die snoek het ons ’n tuisgebakte broodjie geëet. Sondag het ons vroeg opgepak en elke ding weer op sy plek gebêre. Ná ’n nag onder die tafel weet ons die teëls is hárd, en dis ongemaklik om onder die tafel in te klim. Maar dit was pret,want ons het geweet al ons kampvriende is eintlik saam met ons.

Ons was die heeltyd in gesprek – hetsy op WhatsApp of Facebook. As ons nou terugkyk, was dit ’n geskiedkundige geleentheid wat ons vir ons kleinkinders sal oorvertel. Ons het die naam “Galjoenvreugde” gekies, want dit is waar jy as vreemdeling opdaag en as familie vertrek.

Uit en tuis
Uit en tuis
Uit en tuis
Uit en tuis
Uit en tuis
Uit en tuis

Shekinah-oord

Hulle kamp sedert 1998 in ’n tent, maar in 2005 het Pieter en Magdaleen Viljoen van Hartbeespoort vir hulle ’n woonwa aangeskaf. Só het hulle tuis gekamp.

Gelukkig woon ons op ’n kleinhoewe wat omring is deur ’n mooi landskap wat ’n berg insluit. Nietemin het ons ons woonwa op die plaveisel getrek.

Die plan was om by ons gewone kampprogram te hou, asof ons by ’n saamtrek is. Dit sluit items die Vrydagaand in soos boekevat en maalvleisvetkoeke. Saterdag het ons op die hoewe gaan stap en later die middag ’n braaivuurtjie aangesteek.

Die tyd het aangestap: Tyd vir die gebruiklike boekevat, ’n tjoppie op die vuur, Sondagoggend se diens oor die radio en tuisgebakte melktert daarna. Die kamp was in sekere opsigte tog anders: Ons het geen tolpaaie gekry nie en ook nie slaggate nie. En niemand kon oor die badkamers kla nie – selfs die warm water was genoeg! Sake was ook makliker met die vetkoek, want ons het dit op die stoof gebak en nié oor die kole nie. Ons kleinhoewe staan bekend as “Shekinah” – dit is Hebreeus vir “woning”.

Ons het dus dié naweek by die Shekinah-oord gekamp. Ons het nog nooit vantevore by die huis in die woonwa geslaap nie, maar dit was ’n aangename ervaring.

Uit en tuis
Uit en tuis
Uit en tuis
Uit en tuis

Eensgevonden

Hulle kamp al die afgelope vyftig jaar, maar dit is die eerste keer dat Tiens en Georgie van der Walt tuis opslaan. Hulle woon op Langebaan en sleep ’n Jurgens Expo.

Dit was ’n prettige idee om so by die huis maar ook “saam” met ons woonwagroep te kamp.

Ons het alles gedoen asof ons sou ry om te gaan kamp. Die huis is gesluit en ons het twee nagte in die woonwa geslaap – ons mog slegs vir die noodsaaklike dinge “huis toe gaan”.

Net soos by die kampplek het ons buite gebraai en geëet. Ons het selfs ’n uitnodiging aan onsself gerig: “Welkom by Eensgevonden. Drink- en rookgoed én kos te kus en keur. Troeteldiere ook baie welkom. Alles gratis.” Dit was eintlik nogal snaaks: Hier sit ons twee op ons eie, die kampvuur aangesteek en die braai wat wag.

So onder die dak sit ons toe en beplan ons volgende kampuitstappie sodra die inperking verby is. Dit het vreemd gevoel. Skielik kon ons weer saam droom oor dinge wat ons nog wil doen en plekke wat ons graag wil besoek.

Ons het tyd vir onsself gehad. Ten minste was dit ’n naweek weg van die probleme “daar buite”. Jy hoor en sien niks nie. Sondagoggend het die groep laat weet ons vertrek vroeg huis toe, want om 09:00 begin die kerkdiens.

JakkAlskraal

Die plaas Elousia waar Joey en Anton Delport woon, is tussen Drie Riviere en Heidelberg. Hier bly hulle tussen die mooiste soetdoringbome en murasies van ou klipkrale.

Ons kamp al sedert die geboorte van my oudste dogter, Noelani, 32 jaar gelede. Ons het al die jare ’n woonwa gesleep en het ’n ruk gelede ook in ’n boswa belê.

Nou, met die inperking, is dit die derde keer dat ons die boswa gebruik. ’n Mens wil nou nie die plaas invaar met die padwa nie. ’n Mens is gewoond daaraan om vir jou staanplek te betaal, maar ons het nie besef wat ons het in dié stukkie aarde nie. Ons het te lekker gekamp op ons eie lappie grond.

Gewoonlik vat ek my storieboek saam wanneer ons kamp, maar Anton het ook ander planne gehad. Terwyl ons nou daar agter op die plaas kamp, moet ons sommer Saterdag van die lyndrade herstel. Ons het die drade getakel en teen die middag ewe rustig teruggery na ons kamp. Hier het ons ’n welverdiende yskoue koeldrank geniet. Dit het nie eens gevoel of ons op ons eie plaas kamp nie – behalwe nou vir die beeste wat kom ondersoek instel.

Ons het naggeluide gehoor waarvan jy by die opstal nie eens bewus is nie. Die jakkalse het ook van hulle laat hoor, wat tot ’n onrustige nag gelei het. Ons honde was saam met ons by die kamp en hulle wou elke jakkalsroep ondersoek. Dan het hulle weer teruggekom en weer nesgeskop, gereed vir die volgende stormloop vyf minute later.

Gewoonlik drink ons vroegoggend koffie buite, maar nou het ons ’n vuurtjie gepak vir die koffiewater. En natuurlik het die koffie soveel lekkerder gesmaak. Vrydag- en Saterdagaand se kampvuur was niks nuuts onder ons kampvriende nie. My dogter en haar man, Soné en Eddie Steyn, wat saam met ons op die plaas woon, het Sondagoggend vir ons ontbyt kom maak.

Ek was eers skepties oor die kampeerdery so op eie bodem, maar ons was saam met al ons kampvriende en dit was vir ons baie ontspannend en prettig – presies wat ons almal in dié donker tyd nodig gehad het.

Uit en tuis
Uit en tuis
Uit en tuis
Uit en tuis
Uit en tuis

Maplotter Inn

Daar was nog nooit ’n kiem wat hulle verplig het om by die huis te kamp nie, sê Lai en Rita Papenfus van Sundra naby Delmas. Lai-hulle kamp al 29 jaar met hulle Jurgens Classique, en het selfs met hulle maskers gebraai om ook aan die mense rondom hulle te dink.

“Ons het selfs ons eie badkamers in die tuin geprakseer. Dit was dalk aan die primitiewe kant, maar prakties. ’n Draagbare toilet onder ’n boom, ’n plastiekwasbak agter ’n skerm... en moenie van die sinkbad vergeet nie.” Volgens Lai en Rita was dit verreweg hulle goedkoopste kampuitstappie nóg. “Ek het net 350 m ver gesleep en die staanplek was gratis!”

Uit en tuis
Uit en tuis

Resort @ Villa Britz

Of dit nou met ’n woonwa, tent of daktent is, Rudi en Magda Britz van Pretoria-Noord is buitelewemense in murg en been wat graag kamp.

Ons was toevallig op reis deur die Krugerwildtuin toe die inperking aangekondig is. Ons moes die toer kortknip en huiswaarts keer.

Sommer van die Vrydag af het die foon gegons op ons kampgroep. Nog ’n foto... kyk wat maak hulle... en nóg foto’s. Soos altyd op ’n Vrydagaand word daar vetkoek gebak en met maalvleis voorgesit. ’n Spesiale boekevat vir die aand is gereël waarna ons vroeg ingekruip het. Nadat ons Saterdagoggend deur die tuin gestap het, was ontbyt volgende.

Rudi se gebraaide uie en worsies op ’n graaf was uit die boeke. Teen die middag het ons boeremusiek geluister, lekker gedans, melktert geëet en gemmerbier gedrink.

Teen sesuur het ons die kole reggekry vir die braai, weer boekevat gehou en ’n gebed gesing. Kort ná die braai was ’n storm in aantog en ons moes inderdaad die tent onder die afdak kry. Nou ja, daar is altyd ’n eerste keer om in ’n tent onder ’n afdak te slaap! Sondagoggend het ons almal saam na ’n erediens oor die radio geluister.

Dit was ’n vreemde ervaring omdat geen van ons vriende hier was nie. Niemand het oor en weer van woonwa tot woonwa geloop nie – ons het dit baie gemis. Die foto’s het darem die gemis effens verlig. Ons sal dit beslis weer doen. Dit is partykeer tog lekker om net weg te breek van die alledaagse dinge.

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook.