Dag 1 & 2: WITSAND

Waar die sand (soms) brul

Die Witsand-natuurreservaat gáán in jou hart kruip. Dis ’n plek van klein plesiere: Om die vuur sit, in die veld stap, die sand tussen jou tone voel. Begin jou vakansie met twee aande hier sodat die Kalahari die stadsgewoel uit jou gemoed kan wegtoor (of eindig jou roete hier om die genot uit te rek).

Hier loop nie gevaarlike diere rond nie; dus kan jy enige plek in die reservaat stap. Dis soos om by jou oom-hulle op die plaas te kuier. Google voor die tyd hoe ’n ietermago se spoor lyk, want Witsand is een van die beste plekke in die land om hierdie skaars dier te soek.

Dis ’n plek van klein plesiere: Om die vuur sit, in die veld stap, die sand tussen jou tone voel.

Brulsand is waarvoor die reservaat bekend is – dié verskynsel is meer algemeen in die warm somermaande wanneer die sand droog en warm is en deur die wind aangeblaas word en sodoende “brul”. In die winter kan jy steeds die wit sandduine uitklim, sommer net vir die uitsig van bo af.

Indien jy nie hou van stilsit nie, kan jy duinplankry – jy huur ’n plank by ontvangs (R150 per dag). Witsand is ook die ideale plek om dié sportsoort vir die eerste keer te probeer: Hier’s niemand wat vir jou gaan lag wanneer jy holderstebolder val nie! Jy kan ook ’n bergfiets huur teen R120 elk per dag, en hier’s ’n swembad.

Die ruskamp se verblyf lê wyd: Jy voel nooit op ’n hoop gedruk nie. Hier is nie ’n restaurant nie; maak dus seker jy bring alles saam (die winkel by ontvangs verkoop wel die nodigste én ’n paar praktiese aandenkings soos hoede, hemde en waterbottels).

Weet voor jy waai

Koste Kamp (met kragpunt): R110 p.p. en R80 per kind (3-16 jaar).

Basiese bungalows: R220 p.p.p.n. (R110 per kind).

Luukser klipmuur-en-grasdakchalets: R1 260 p.n. vir 2 mense, daarna R220 p.p. wat bykom en R110 per kind (slaapplek vir 6). Dis die geld werd – dit voel asof jy in iemand se bosveldhuis kuier. Pensioentrekkers kry 40% afslag in die stiller maande – doen navraag. 

Kontak 083 234 7573; witsandkalahari.co.za 


Lees die res van die Klassieke reisplan (Dag 3 tot 10) hier

Ondersteun ons

Hier by Weg wil ons aanhou om vir julle, ons lesers, uitstekende stories wat jy nêrens anders kan kry nie, te produseer. Maar dié stories verg harde werk en dit kos geld. 

Die wêreld is vinnig aan’t verander, en Weg moet ter wille van sy eie voortbestaan saam verander en nuwe planne maak. Dit maak finansieel geen sin om ons kosbare stories gratis in die digitale wêreld weg te gee nie. Dis hoekom die meeste van ons stories op die webwerf nou agter ’n betaalmuur is.

Vir slegs R99 p.m. het jy nou toegang tot ál Weg en ons sustertydskrif Weg Ry & Sleep se tydskrifstories aanlyn, asook ander puik Afrikaanse titels soos Huisgenoot, Sarie, Landbouweekblad, Baba en Kleuter, Rapport en 35 ander Afrikaanse koerante... Ondersteun ons asseblief sodat ons kan aanhou stories vertel. 

Hoe word jy ’n Netwerk24-intekenaar? Gaan doodeenvoudig na www.netwerk24.com en vul jou besonderhede in. 

Klik hier as jy nog vrae het oor die betaalmuur.