Visvangoord

KLIPSPRUIT-RIVIEROORD

Blaaskans teen die Vaal

Die Vaalrivier is soos ’n lewensaar vir Gauteng én vorm die grens tussen dié provinsie en die Vrystaat. Maar verder stroomaf vorm die magtige Vaal ook die grens tussen Noordwes en die Vrystaat. Dis hier, ongeveer halfpad tussen Bothaville in die Vrystaat en Leeudoringstad in Noordwes, waar die Klipspruit-rivieroord teenaan sy waters lê. ’n Goeie 700 m van die 45 ha-plaas grens aan die rivieroewer.

Die oord is vyf jaar gelede op die been gebring, verduidelik die eienaar, Estelle Debbes. Dit was ’n onbewerkte stuk aarde, en hulle het eerste weggespring met die kampterrein. Vandag is hier twee kampplekke: die Fisherman’s Paradise met sy 45 staanplekke, en die boskamp, sowat 300 m stroomop, waar jy meer stilte het. Die boskamp het 51 staanplekke, met 4 van hulle digby die oewer. Fisherman’s Paradise het 10 staanplekke by die water waarvan 5 klippe voor het – heerlik vir enige vlieghengelaar.

Die res van die staanplekke is 20-70 m van die water af. Die staanplekke is op gras, en hier is koeltebome, krane en kragpunte (die gewone huissok). Dis ook nie nodig om jou braai saam te bring nie, want hier is van die losstaande soort wat jy mag gebruik.

In teenstelling met die rustige atmosfeer van die boskamp is Fisherman’s Paradise ’n miernes van bedrywigheid. Daar’s twee swembaddens en ook glybane; dus is dit veral vir kinders ’n lekker speelplek. Estelle-hulle bied ook begeleide kajak- uitstappies op die rivier aan. ’n Uur se pret kos R70 p.p.

HENGELTOERUSTING

Loodkop

Die sogenaamde bucktail jigs is ’n kunsaas wat jy nie sommer moet vlak kyk nie. Dit bestaan nie van gister af nie – deel van die spesiale magte se noodpak gedurende die Tweede Wêreldoorlog was ’n bucktail jig en ’n handlyn. Dié kunsaas word dus as een van die veelsydigstes beskou en is ná al die jare steeds gewild.

Die jig verwys na die kop van die aas wat ’n stukkie lood is. Die hoek self is aan die lood vas, met die gekleurde haarnamaaksel wat aan die kwas van ’n dier se stert herinner. Die hoek se weerhaak sit agter in die kwas.

Die kunsaas het verskeie aanwendings: Jy kan klein lokaas-vissies, inkvis én garnale namaak. Dit werk ewe goed in vlak en diep water, en ook van die strand of boot af. Kabeljou en leervis is van die ouens aan ons kus wie se aandag jy kan trek, maar ook varswatervis soos geelvis, swartbaars en tiervis sal twee keer kyk.

Die geriffelde onderkant van die loodgewiggie onderskei Adrenalin se bucktail jig van die ander weergawes op die rak. Hierdie skurfheid veroorsaak ’n versteuring onder die water wat die vis se aandag trek.

Prys: Vanaf R59 (beskikbaar in 4 groottes en 5 kleure).

Kontak: Landwyd en ook in Namibië beskikbaar by hengelwinkels. Adrenalin Importers & Distributors (invoerders)

021 982 1510

adrenalinfishing.co.za, catches@4adrenalin.co.za

Kortliks | Klipspruit- rivieroord

Vis: Karp, geelvis, baber en onderbek.

Kampplek: 96 staanplekke op gras wat in 2 kampe verdeel is. Albei lê teenaan die rivier. Ablusiegeriewe Elke kamp het 2 badkamergeboue. In Fisherman’s Paradise kan jy jou eie badkamer bespreek vir R150-R200.

Prys: R125-R480 p.n. vir 4 mense, afhangend van watter kamp, seisoen en spesifieke staanplek.

Aankoms- en vertrektyd: In Desember 14:00, maar andersins is daar geen streng tye nie.

Kontak: 018 065 0008 of 072 692 3792

klipspruitriverresort.co.za, bookings@klipspruitriverresort.co.za

Naaste dorp: Leeudoringstad 24 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 700 m is ’n skaflike grondpad.

GPS: S27.385807 E26.364694

Ry & Sleep sê: Klipspruit bied gereeld hengelkompetisies aan.’ n Graskarp van 9,4 kg was een van die onlangse vangste.

VISGEREG

Resep: Johané Neilson. Foto: Ed O’Riley

GEBAKTE VIS MET BIER

Trek aan die bierjas

Vis met ’n buitelaag wat in olie bros gebak word, is ’n groot en ou gunsteling. Maak hom sommer daar langs die viswaters.

Jy benodig (genoeg vir 4)

  • sonneblomolie vir braai
  • 4 ferm witvisfilette van ongeveer 200 g elk
  • 1 koppie bruismeel sout en peper na smaak
  • 2 eiers, geklits ½ koppie yskoue bier

Só maak jy

1. Gooi genoeg olie in ’n diep pot sodat dit omtrent 2 cm diep is. Verhit die olie versigtig oor die vuur of jou kampstoof se gasvlam tot warm. Toets dit met ’n blokkie brood: sodra die blokkie borrel en dryf, is die olie gereed.

2. Druk die vis mooi droog met kombuispapier (of gebruik ’n jammerlappie wat jy kan uitspoel) en maak seker alle skubbe en grate is verwyder.

3. Geur die meel met sout en peper. Klits die eiers en bier met ’n vurk saam in ’n blikbord.

4. Rol die vis in die meelmengsel tot dit oral-oor bedek is. Skud die oortollige meel af. Doop nou die meelbedekte mootjies een vir een in die eiermengsel en laat sak dit versigtig in die warm olie. Braai die vis tot dit oraloor mooi goudbruin en deurgaar is (ongeveer 2 minute aan elke kant). Braai dit in sarsies eerder as om te veel stukke saam te bak.

5. Geniet die vis dadelik. Geur dit met nog sout en peper, sit ’n suurlemoenwiggie by en sit dit voor met ’n tartaresous.

Ry & Sleep sê: Sny die porsies vis in hanteerbare stukke of vingers wat maklik in jou pot sal pas. Sit ook meer as een porsie per persoon voor eerder as wat jy sukkel met dik stukke wat nie deurbak nie