Foto's Evan Naudé
Roetes wat roep
Roetes wat roep

Dis g’n wonder nie die Brandvleidam, net ’n hanetree buite Rawsonville en Worcester in die Boland, is ’n gewilde vakansiebestemming. Hier kamp jy alte lekker langs die dam en jy kan jou skiboot, visstokke, waterski’s of selfs ’n tjoep saambring om op die water te baljaar. Maar moenie dat jou veldryer die hele vakansie eenkant afgeskeep staan nie. Reg langs die dam is ook ’n uitdagende 4x4-roete.

Só ry jy

Die 12 km-sirkelroete begin naby Tierkloof se ingangshek. Nadat jy jou roetegeld by die plaashuis betaal het, ry weer terug na die hek en kyk uit vir ’n afdraai na links. Blaas jou wiele hier af tot 1,2 bar, want dit raak binnekort steil met los klippe.

Hou links waar die spoor verdeel, sowat 220 m ná die begin van die roete. Volg die tweespoor soos dit die berg begin uitklim. Skaars 480 m verder bereik jy ’n rotsbank waar jy na laestrek moet oorskakel en ’n mooi lyn na bo kies.

Van hier af kan jy maar vir ’n wyle in laestrek bly, want anderkant die klipbank is die spoor vol los klippe en lei jou tot by ’n tweede klipbank wat selfs steiler is as die eerste een. Kies jou lyn mooi hier; ’n ekstra paar oë voor die bakkie sal baie help. Klim aan die linkerkant verby as jy ’n standaard-dubbelkajuit ry, want die klip se steil hoek sal ’n lang voertuig se agterstewe laat vassteek.

Maak jou reg vir ’n klomp los klippe. Blaas sommer van die begin af jou bande af tot by 1,2 bar. Hier is ’n paar rotsbanke wat jou spoed so effens breek. Laat iemand buite staan en beduie, want dan gaan dit makliker.

Wanneer jy verby ’n wit houtkruis ry, kan jy vir ’n oomblik asem skep en die uitsig oor die dam agter jou bewonder, want die ergste hindernisse is agter die rug. Die klipspoor bly klim vir 1,4 km tot by ’n afdraai na ’n uitkykpunt aan jou linkerkant.

Die roete vat ’n draai na regs, na die uitkykpunt, en jy bly steeds hoër klim.

Kort voor lank is daar weer steiltes met los klippe en twee of drie knap draaie waar jy jou voertuig versigting rondom klippe langs die spoor moet draai.

Dit is 2 km tot by ’n tweede uitkykpunt waar jy uiteindelik die hoogste punt op die roete, die 780 m hoë Bloukop, bereik. Hier draai die roete noordoos en begin jou stadig maar seker bergaf lei. Skakel oor na ’n lae rat of gebruik afdraandebeheer sodat jy nie die heeltyd op die brieke lê nie. Jy wil ’n kruipspoed tot onder handhaaf, want die spoor is steil en vol klippe wat jou onderstel kan beskadig as jy te vinnig begin rol.

Sowat 4 km van die uitkykpunt af, byna aan die onderkant van die berg, kom jy by ’n vreesaanjaende donga in die pad. As jy die regte voertuig en hare op jou tande het, kan jy hierdie hindernis pak, andersins hou links verby.

Anderkant die donga bereik jy ’n vurk in die pad: Regs neem jou deur ’n stukkie sandspoor van 300 m, maar links is die makker opsie. Albei bring jou weer by die hoofspoor uit wat na regs om die berg krul en jou weer by die beginpunt uitbring.

Wat jy moet weet

4x4/Laestrek/Ewenaarslot: Jy het ’n 4x4-voertuig met ’n goeie grondvryhoogte en laestrek nodig. ’n Agterste ewenaarslot sal hier en daar handig te pas kom.

Maksimum aantal voertuie: Geen.

Kry ek ’n kaart? Nee, maar die roete is maklik om te volg.

Sal my voertuig krap? Hier en daar lê ’n groot klip of hoë rotswand teenaan die pad, maar as jy noukeurig ry, is die kanse op skade min. Haal egter jou treeplanke af.

Moet ek ’n kompressor saamneem? Ja.

Kan ons langs die pad braai? Nee, net by die kampplek.

Kan ek halfpad omdraai? Nee, die roete word net in een rigting gery.

Is daar selfoonsein? Ja.

RONDOM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan? Die roete is heeljaar oop, maar in herfs en winter is die klimaat die beste.

Kan ek my gesin saamneem? Ja, beslis.

Net vir die dag of die naweek? Die roete neem 2-4 uur om te voltooi.

Is daar ablusiegeriewe? Slegs by die kampplek aan die begin van die roete.

Aanwysings: Ry met Van Riebeeckstraat uit Rawsonville en wees ná 6 km op die uitkyk vir die afdraai na die Brandvlei-gevangenis. Draai af na regs; Tierkloof se ingang is 3,6 km verder.

GPS: S33.704654 E19.396011

Wat kos dit? R180 per voertuig.

Kontak: 082 578 1853;  tierkloof4x4.com