Teken in op ons YouTube-kanaal om ons nuutste video's eerste te sien. Video: Evan Naudé

Die Bergrivier se vloedvlakte waaier uit rondom Velddrif. Die sagte pienk van die laatmiddagson weerkaats op die spieëlgladde watervlak. Oorhoofs sweef ’n smeersel spookasemwolke. Ek staan langs ’n kaai in Bokkomlaan, ’n grondpaadjie langs die noordelike oewer van die rivier; die winkeltjies is reeds gesluit vir die dag. Doer maak twee vissermanne lyn nat onder die Carinusbrug. Tussen my en die brug wei flaminke en witpelikane op die soutmoerasse terwyl ’n spannetjie ganse en seemeeue die leë stoepe, kaaie en skuite in die water ondersoek.

Ek het op Vredenburg in die Weskus grootgeword, en het nog nooit ’n bokkom geëet nie. Ek kon net nie my lippe sit aan dié gedroogde vissie met sy sterk reuk nie.

Vanmiddag kuier ek die eerste keer in járre op Velddrif, oftewel Vellerif soos van die locals dit noem. Ek het vroëer ’n pakkie bokkoms gekoop – die oomblik het aangebreek. Ek skeur die vakuumseël oop. Die bokkoms loods onmiddellik ’n aanval op my neusgate. My kop ruk instinktief agtertoe en my linkeroog trek op ’n skreef. Ek knyp my oë toe en vat ’n hap.

Die vleis is sag en souterig. Vir ’n vlietende oomblik herinner die smaak jou aan biltong, maar dan slaat die vissmaak met mening deur en wanneer jy sluk, voel jou keelgat soos ’n tonnel wat van sout gemaak is.

Toe ek my mond oopmaak, krul my snor sywaarts om uit die pad van my visasem te kom. Nee wat, ek was al die jare reg gewees, dink ek terwyl ek die res van die bokkoms vir die seemeeue strooi.

Amos Jantjies wys die soutbaddens in sy werkswinkel in Bokkomlaan waar hy al meer as 30 jaar bokkoms maak.

Die Bergrivier se bokkomhoofstad

Jy kan nie die woord “bokkom” noem sonder dat die woord “Velddrif” kort daarop volg nie. Velddrif staan bekend as Suid-Afrika se bokkomhoofstad. Die bekende Bokkomlaan (’n kilometer oos van die brug) is die dorp se grootste trekpleister. Vir meer as 200 jaar reeds word harders hier gesout en gedroog om dié gewilde “visbiltong” te maak.

“Ek is nou sowat 30 jaar hierso,” vertel Amos Jantjies van Ubuntu Visserye my vroeg op ’n Saterdagoggend. “Ek is eintlik ’n inkommer,” sê hy, “van Koringberg in die Swartland. Ek het die job hier kom leer. Ek was eers in die soutpanne oorkant die rivier, toe kom ek hierheen.”

Amos sê vroeër jare was Bokkomlaan propvol bokkomprodusente, maar deesdae is hier net ’n handjie vol bokkomhuise oor. “Voorheen het die plase bokkoms as rantsoen aan werkers uitgedeel, maar die regering het dit stopgesit. Daarna het die verkope erg gedaal. In daai tyd het ek Vrydae tussen 4 000 en 5 000 bosse bokkoms verkoop!”

Hoekom is bokkoms so gesog onder plaaswerkers, wil ek weet. “Kyk, wat die bokkom doen, is hy sit die sout terug in jou liggaam wat jy uitsweet,” verduidelik Amos. “As jy baie sweet, kry jy mos krampe, maar die bokkom sit die sout terug, dan kry jy nie krampe nie. Dis die waarheid!”

Amos sê hy het nog vier of vyf jaar voordat hy aftree. “Dan is ek 60, maar die regering wil mos dat jy al af teen 55 dat die jonges kan werk. Ek sal nog so aangaan totdat ek klaarmaak, en dan sal ek maar op my eie aangaan.

“ ’n Paar randjies vat, ’n ou rydingetjie koop en dan gaan verkoop ek maar bokkoms. Dis lekker om hier te bly, dis rustiger as ander plekke langs die Weskus.”

Die Bergrivier is Velddrif se lewensaar en as die son skyn, is dinge woelig op die water.
By die SA Visseryemuseum is Felicity Ströhfeldt die bewaarder van Velddrif se geskiedenis.
Op Port Owen se kanale kan jy nie jou rug draai sonder om in ’n seiljag vas te kyk nie.

Later die oggend verkyk ek my aan swart-wit foto’s, ou visvangtoerusting en skaalmodelle van vissersbote in die SA Visseryemuseum langs die hawe op Laaiplek. Die Velddrif-omgewing word die eerste keer genoem in die Portugese seevaarder Vasco da Gama se aantekeninge ná sy reis na St. Helenabaai in 1497. In die laat 1600’s kom maak die eerste Kapenaars ’n draai, besef dis ’n puik hengelkol en vestig ’n handelstasie.

“Daar is handel gedryf al langs die Bergrivier, veral met graan uit die Swartland. Hulle het dit hier in groter bote in die baai oorgelaai en dan seelangs na Kaapstad vervoer,” verduidelik Felicity Ströhfeldt, die museumbestuurder. Dis dan ook waar Laaiplek se naam vandaan kom.

Sowat 2 km stroomop ontstaan ’n nedersetting by ’n driffie waar boere die rivier met hulle vee kon oorsteek. Sedertdien staan dié kol bekend as Velddrif. Teen die middel 1700’s word die eerste bokkomhuise opgerig en kort daarna word ’n hawe gebou by Laaiplek.

Deesdae vloei Velddrif en Laaiplek aaneen. Velddrif sluit ook Port Owen in. Dié deftige buurt met ’n marina is in die laat jare tagtig rondom ’n kanaal digby die riviermonding ontwikkel. Dis Velddrif se Clifton.

Felicity wys na ’n foto. Ek herken die uitsig as dit wat ’n mens sien vóór jy oor die brug die dorp binnery; dis van Kaapstad se kant af op die R27.

“Die rivier het die dorp lank van die buitewêreld afgesny,” verduidelik Felicity. “Die brug het eers in 1959 gekom; voor dit was daar net ’n pont oor die rivier.”

Op die foto is die Carinusbrug in aanbou op dieselfde plek waar die pont geloop het. Felicity wys na nog ’n foto. “En daar sink die pont terwyl hulle bou! Dit het glo gereeld gebeur.”

Sy vertel my van Olifantskraal, ’n plaasopstal na Hopefield se kant toe. “Daar was ’n skuur, ’n hotel, ’n tronk, ’n algemene handelaar en ’n polisiestasie. Saterdae is opskop gehou en die manne en dames van die dorp is soontoe op die pont. Daar loop ’n storie oor ’n vrou wat een aand ’n crêpe-de-chine-aandrok gedra het. As daai rokke nat word, krimp hulle mos. Die pont lek toe so dat sy ’n minirok aangehad het teen die tyd dat hulle daar aankom!”

Die kaai by Rooibaai is ’n gewilde uithangplek teen sononder, veral as jy lyn wil natmaak.

Die visfabrieke verskaf steeds die meeste werk op die dorp, al speel dit ’n kleiner rol in die ekonomie as vroeër jare. Deesdae is Velddrif ook ’n gewilde aftree- en vakansiedorp.

Terwyl ’n mens deur die dorp ry, kan jy duidelik sien dat Velddrif se mense steeds ’n hegte band met die water het. By elke kaai in Bokkomlaan, Rooibaai en die Laaiplek-hawe staan ’n paar vissermanne terwyl talle seiljagte in Port Owen se kanale dobber.

In die namiddag woel die rivier van die snelbote, skuite en kajakke, sommige met visstokke agterop en ander met koelbokse vol skemerkelkies. By die riviermonding duik ’n groep seuns bollemakiesie in die water en op Dwarskersbos se strand, sowat 13 km noord, stap paartjies hand aan hand terwyl die son sak.

“Die gemeenskap hierso is net só,” sê Jimmy Basson en hou twee vingers styf teen mekaar. Ons sit in Jimmy se restaurant, die See Kaia, op Dwarskersbos. Hy beduie na buite. “Jy moet sien hoe hulle selfs die skilpaaie respekteer. Die skilpaaie stap gereeld oor die pad om die blommetjies diékant te kom vreet. Die mense hou stil en wag totdat hulle verby is.”

Maak ’n draai by die Ek & Djy Visserye Etc. en hoor by Gert en Magdel Aggenbach wat skud in Bokkomlaan.
Tollie Bezuidenhout is die beste ou by wie ’n mens oor die Bergrivier se voëllewe kan leer.
Die hawe in Laaiplek is die hart van die dorp se visvangbedryf.
The River House

Voëls van eenderse vere

Die volgende oggend skuif die brug oor my kop verby waar ek saam Tollie Bezuidenhout op sy boot op die Bergrivier vaar. “Ons noem dié deel die Pannetjiesveld,” sê hy en wys na ’n swerm witpelikane wat in die vleiland duskant Bokkomlaan rondplons.

“Dis die ideale plek vir voëls om hulle kleintjies groot te maak en te leer vreet, want hier is baie organismes in die voortjies en kanale.”

Saam met ons sit ’n groep Duitsers, ’n gesin uit Gauteng en twee Britte. ’n Hele paar het ’n verkyker of ’n kamera met lang lense, want hierdie is een van die beste maniere om die rivier se verskeidenheid voëls te beloer.

“Kyk hoe vlieg die trekduikers in ’n V-formasie,” wys Tollie na ’n streep voëls in die lug. “Die sterkste mannetjie vlieg voor en die een arm is gewoonlik sy familie terwyl die ander een sy nasate is. Só beweeg hulle as ’n eenheid.”

Ons rit eindig waar ons begin het, op Port Owen. Ons vaar in die kanaal op en ek verkyk my aan die rye luukse huise met hulle stoepe teen die rivier. Die meeste huise het hulle eie kaai, by sommige dobber ’n blink waterponie in die water. Rye palmbome versier die wandelpaadjies. Ek wonder hardop of enige van die seiljagte aan die vissermanne op die dorp behoort.

“Baie van die huise word deur mense buite Velddrif besit, en heelwat van hulle is buitelanders,” antwoord Tollie.

Beach Ruhls

Voordat ek die pad terug Kaapstad toe aandurf, draai ek vir oulaas in by Bokkomlaan.

“Londen het die Teems, Kaïro die Nyl en New Orleans die Mississippi. Op Velddrif het ons die Bergrivier!” sê Gert Aggenbach, eienaar van Ek & Djy Vissery Etc. Hy en sy vrou, Magdel, is ook inkommers. Hulle het nege jaar gelede hierheen van Kaapstad af verhuis.

“In ons tyd hier het ek geleer as jy aan een Velddriwwer vat, vat jy aan die hele lot!” sê Magdel laggend. Dis duidelik die Aggenbachs gaan nie sommer gou weer trek nie.

Wanneer ek later oor die brug ry, verstaan ek die dorpie in my truspieël beter. Die middedorp lyk maar saai as jy net vinnig deursnel. Hier is nie ’n mall nie, g’n bedrywige oorde of ’n rits byderwetse restaurante en skemerkelkiekroeë langs die rivier nie.

Nogtans het ek gesukkel om blyplek te kry (op ’n gewone naweek buite seisoen). Oor Paasnaweek en Desember is die ganse Velddrif, Laaiplek, Port Owen en Dwarskersbos glo tjokvol.

Dis nie net hengel wat besoekers lok nie. Velddrif is nog ’n regte klein dorpie, propvol karakter en gasvrye mense. Pure Weskus!

Of jy nou ’n gebore Velddriwwer of ’n inkommer is, dis ’n unieke soort mens wat hier langs die Bergrivier aard. Die soort wat stilhou vir skilpaaie in die pad en, soos die duikers, omsien na die ou langs hom.

Eendag moet ’n Veldriwwer tog net aan my verduidelik waarom al die bohaai oor ’n bokkom?

Doepie’s
Charlie’s Brewhouse
See Kaia-restaurant
Poetic License Distillery
Soetcase

BLY HIER

Kliphoekrivieroord

Hier is 8 kampplekke op die oewer van die Bergrivier. Elkeen het sy eie ablusie, opwasplek, skadunet en braaiplek. Maksimum 8 mense per kampplek, vanaf R225 p.p. Hier is ook 14 toegeruste selfsorgkothuise (2 tot 12 mense, vanaf R275 p.p.) nóg nader aan die water. Sommige het ’n kaai. Bring jou eie handdoek.

Waar? Op die Hopefieldpad, 6,5 km suidoos van Velddrif

Kontak: 076 344 2891; kliphoek.co.za

The River House

Van die wye stoep met ’n ingeboude braaiplek af het jy ’n ononderbroke uitsig oor die Bergrivier en die kaaie van Rooibaai.

Gaan maak laatmiddag lyn nat of hou net die vissermanne se kom en gaan dop. Die selfsorghuis het slaapplek vir 6 mense (vanaf R1 000 p.n. vir 2 mense).

Waar? Eigelaarstraat, Velddrif

Kontak: 083 231 4150; riverhouse-velddrif.co.za

River Time Cottage

Wanneer jy hier op die stoep sit en voëls kyk, of in die plonspoel afkoel, vergeet jy amper jy is op die dorp. Dié selfsorghuis sit weggesteek op die randjie van Bokkomlaan en nader aan die Bergrivier se oewer kan jy nie. River Time het slaapplek vir 8 mense in 4 kamers (2 en suite). Koste vanaf R1 700 p.n. (as julle 8 mense is), minimum 2 nagte.

Waar? Bokkomlaan

Kontak: 064 680 8939; rivertime.co.za

Beach Ruhls

Die ganse Dwarskersbos is ’n klip-gooi van die see af, maar van hierdie selfsorghuis af hoef jy nie eens oor ’n sypaadjie te stap nie: Jy stap bloot uit die sitkamer strand toe. Dié moderne strandhuis het slaapplek vir 6 mense.

Koste: R1 750 p.n., minimum 2 nagte.

Waar? Westestraat, Dwarskersbos

Kontak: 079 954 4089 (Liezle)

EET EN DRINK HIER

Ek & Djy Vissery etc.

Hier is ’n kaai met sitplekke sodat jy óp die Bergrivier kan sit en eet. Jy het ’n keuse van ontbyt (vanaf R50), burgers, ligte etes en seekos (stokvis-en-tjips, R100). Hier is ook ’n plaasstal wat tuisgemaakte konfyt, bokkoms, oudhede en aandenkings verkoop.

Waar? Bokkomlaan

Oop: Elke dag van 9 vm.-3 nm.; gesluit op Dinsdae buite seisoentyd.

Kontak: 082 781 3878; 082 600 1889

Columbine Co.

Koffieliefhebbers móét draai by dié byderwetse koffiewinkel in ’n ou bokkomhuisie. Buiten ligte maaltye en behoorlike koffie (Americano R24) is hier ook verskeie interessante teegeure: Hoe klink nartjie-en-heuning-, Paasbolletjie- of pinotage-rooibostee (R29 elk)?

Waar? Bokkomlaan

Oop: Wo. tot So.: 9 vm.-4 nm.

Kontak: 061 771 7518

Lavender and Lime

Kom sit tussen groenigheid in dié kwekery vir ontbyt (omelet R60), ligte etes (quiche R45) of iets soets (kaaskoek, appeltert en pannekoek vanaf R20).

Waar? Voortrekkerstraat

Oop: Weeksdae 9 vm.-3 nm. of 4 nm.; Sa.: 9 vm.-2.30 nm.

Kontak: 022 783 0252

Doepie’s

Doepie’s het al drie keer in die afgelope vier jaar die plaaslike koerant se toekenning vir die Weskus se “King of Fish and Chips” gewen. Buiten visgeregte (snoek-en-tjips, R55) bedien hulle ook hoender (gekrummelde repies, R45), burgers (vanaf R50) en vakrib (400 g vir R95).

Waar? Voortrekkerstraat op Velddrif, De Villiersstraat op Laaiplek

Oop: Ma. tot Sa.: 9 vm.-8 nm.

Kontak: 022 783 2112 (Velddrif), 022 783 2433 (Laaiplek)

Charlie’s Brewhouse

Dié kroeg se spyskaart is ’n mengelmoes van Europese en Weskusgeregte. Kies tussen plaaslike eetgoed soos mossels (R110), gerookte snoekpatee (R60) of lynvis (R135) en tradisionele pub-disse soos eisbein (R170), burger met gevlokte varkvleis (R130) of ’n steak-en-bier-pastei (R115). Proe gerus ook een van Charlie’s se boetiekbiere (vanaf R30).

Waar? Marina-sentrum, Port Owen-rylaan

Oop: Elke dag 12 nm.-10 nm.

Kontak: 022 783 0448; charliesbrew.co.za

Poetic License Distillery

As die jenewergier jou beetgekry het, mik vir dié boetiekdistilleerdery vir ’n skemerkelkie. Laat die kroegman jou rondwys en bekend stel aan die vier jenewers wat hier gemaak word (proesessie R120 p.p.). Koop ’n 750 ml-bottel (R420) wanneer jy jou gunsteling gekies het. Tans is dit die enigste plek waar jy dié produkte kan koop.

Waar? Marina-sentrum, Port Owen-rylaan

Oop: So. tot Do.: 10 vm.-6 nm.; Vr. en Sa. tot 8 nm.

Kontak: 022 125 0568; poeticlicensedistillery.co.za

See Kaia-restaurant

Moenie dat die naam jou mislei nie: Hier is meer as net seekos op die spyskaart. Die See Kaia bedien ook ontbyt, burgers, roosterbroodjies en pizzas. As jy dapper genoeg is, probeer die Moerbymekaar-pizza, ’n konkoksie met spek, ham, maalvleis, hoendermayonnaise, fetakaas en BBQ-sous (R115).

Waar? Hoofstraat, Dwarskersbos

Oop: Ma. tot Do.: 9 vm.-7.30 nm.; Vr. en Sa. tot 8 nm.; So. tot 4 nm.

Kontak: 071 742 8593

Soetcase

Hier is ontbyt en ligte middagetes, maar as jy ’n suikertand het, is daar g’n beter plek noord van die Bergrivier nie. Dis moeilik om te kies tussen die Nutella-en-aarbei-pannekoek (R48), die Kaatjie van die Baan (koek met vanieljeroomys en karamel-springmielies, R50) of ’n Turkish Delight-melkskommel (R40).

En boonop lyk elke melkskommel soos iets wat op ’n Instagramfoto hoort.

Waar? Hoofstraat, Dwarskersbos

Oop: Weeksdae 9 vm.-4 nm.; Sa. tot 2 nm.

Kontak: 079 112 5790

WAT NOG?

SA VISSERYMUSEUM. Velddrif het rondom die visvangbedryf ontstaan en die museum langs die Laaiplek Hotel het ’n netjiese versameling ou visvang- gereedskap, foto’s en uitstallings. Hulle is oop Di. tot Vr.: 9 vm.-4 nm., Sa. tot 3 nm. 022 783 2531; safisheriesmuseum.co.za

TOLLIES BOAT & RIVER CRUISES. Ritte vertrek twee keer per dag (11 vm. en 6 nm., afhangend van weerstoestande) uit die Port Owen Marina vir ’n bootrit van een en ’n halfuur (R150 p.p.) op die Bergrivier en die kanale van Port Owen. 079 763 6966 of 084 638 0246

PELICAN TRADING POST. Huur ’n kajak in Bokkomlaan en roei ’n draai op die Bergrivier. Dit kos R75 p.p. per uur, R250 vir ’n halfdag. Wo. tot Vr.: 8.30 vm.-4 nm., Sa. en So.: 9 vm.-1 nm. 076 123 4321

OZONICK. Dié winkel in Dwarskersbos se Hoofstraat verhuur ’n rits speelgoed: Dikwielfietse, elektriese skopfietse, branderplanke, skaatsplanke en selfs duikpakke. Pryse wissel van R80 tot R350 per uur of R150 tot R350 per halfdag. Ma. tot So.: 9 vm.-5 nm. 083 363 0087

HENGEL. Die Bergrivier is ’n uitstekende plek vir visvang. Gooi ’n lyn vir elf, leervis, kabeljou of witstompneus. Kry ’n gratis kaart by die toerismekantoor in Voortrekkerstraat (022 783 0831; velddriftourism.co.za) wat die verskillende visvangsones aandui.

KYK VOËLS. Bring jou verkyker, want die Bergrivier se riete, vleilande en die monding lok meer as 220 voëlspesies. Gewilde plekke vir voëlskyk is Bokkomlaan (witpelikane, reiers, visvangers), Rooibaai (waadvoëls), die loopvlak in Voortrekkerstraat (flaminke, eendspesies) en Laaiplekhawe (seevoëls en swarttobies). 

Kry ’n inligtingskaart by die toerismekantoor in Voortrekkerstraat.

Kyk by capebirdingroute.org vir ’n kaart wat al die voëlkykplekke aandui.