1. Augrabieswaterval- nasionale park

Foto's: Martinette Louw

Die Augrabieswaterval- nasionale park is soos ’n verrassingspakkie. Van ver af lyk die granietlandskap dor en leeg, maar sodra jy dit van nader bekyk, sien jy dit wemel van lewe rondom jou: Dassies en akkedisse bak in die son, bleekvlerkspreeus wip blinkoog nader wanneer die kelner jou bordjie tjips voor jou neersit in die restaurant, en die Oranjerivier bulder in die kloof af – en val 56 m! Volgens oorlewering is die kolkgat onder die waterval die tuiste van reuse-babers en genoeg spoeldiamante om jou skatryk te laat. 

Die selfsorghuisies is stapafstand van die waterval af en die plankiespaaie vat jou na ses platforms wat oor die ravyn uitkyk (van die roetes is rolstoelvriendelik). As jy hier bly of as dagbesoeker aandete by die Quiver Tree-restaurant langs die ontvangskantoor bespreek, kan jy ná sonsonder ook gaan kyk hoe die rivier in die kloof afstort – die waterval word snags verlig.

Kry die gratis kaart by ontvangs en laat die Dassiesirkelroete (5 km) jou na punte lei waar jy meer oor die geologie, diere en plante van die streek leer. Jy kan ook die 3 dae lange Klipspringer-staproete (36 km) in die ravyn takel, maar die roete is slegs van April tot Oktober oop.

Verken die reservaat op ’n begeleide wildrit of op jou eie – kameelperde, klipspringers, sebras, springbokke en gemsbokke kom hier voor.

Waar bly ek? Hier is 59 selfsorghuisies met slaapplek vir 2-4 mense. Elke huisie het braaiplekke en lugreëling (baie belangrik as jy nie daarvan hou om warm te kry nie). Bespreek die Oranjekom-kothuis vir die beste uitsig in die park. Dié oopplanhuisie sit onder die Oranjekomuitkykpunt, sowat 10 km van die ruskamp af. Bedags deel jy jou uitsig met besoekers wat die uitkykpunt – bo-op die kothuis se dak – aandoen, maar die eenheid is privaat en ’n mens kan nie van buite af insien nie. En wanneer die park se hekke saans sluit, is die sonsondergang, klipperige ravyn en Oranjerivier net joune. 

Jy kan ook by een van die 40 staanplekke in die ruskamp tentpenne inkap. Hier is kragpunte en ook ablusiegeriewe.

Wat pla? Die meeste van die huisies is twee-twee aan mekaar vas; dus gaan jy jouself aan jou buurman moet voorstel.

Koste Bewaringstarief: R44 per volwassene en R22 per kind jonger as 11 jaar; gratis as jy ’n Wild Card het. Selfsorghuisies: vanaf R1 031 p.n. vir twee mense; vanaf R1 930 vir vier mense. Oranjekom-kothuis: R1 616 p.n. vir twee mense. Kampering: R238 per staanplek vir twee mense (maksimum 6 mense). Klipspringerstaproete: R268 p.p. Begeleide wildrit: R122 per volwassene en R61 per kind jonger as 11 jaar. (Tariewe geldig tot einde Oktober 2017, kry die nuwes op die webblad.)

Hoe kom ek hier? Die park is sowat 120 km wes van Upington. Volg die bordjies van die N14 af. Die hekke is van 7 vm. tot 6 nm. oop.

Kontak 054 452 9205 (ontvangs); sanparks.org 

2. Oranjerus-oord

Foto's: Martinette Louw

Span ’n dag of twee uit langs die Oranjerivier – dis die laaste groot water wat jy sien voordat jy die woestyngebied van die Kalahari binnery. Die oord is na aan Upington; dus kan jy gaan inkopies doen as jou tandeborsel by die huis agtergebly het. Maar op die rivieroewer is dit rustig en stil. Slaan op die groot grasperk onder die koeltebome kamp op of sit agteroor op die stoep van een van die selfsorgeenhede.

As jy jou kano saamgebring het, kan jy spane natmaak in die rivier, maar niemand gaan jou skeefkyk as jy eerder ’n uiltjie wil knip in jou kampstoel nie – die kabbelende rivier werk beter as ’n slaappil. 

Maak net seker jy stel jou wekker sodat jy laatmiddag op die houtdek van die Ibis-restaurant langs die kampterrein sit. Bestel ’n skemerkelkie en kyk hoe die son oor die rivier sak en die aandlug oranje kleur. 

Waar bly ek? Jy kan jou tent enige plek op die grasperk opslaan. Hier is braaiplekke, krane en kragpunte deur die kampterrein versprei. Die ablusiegeriewe is netjies en word gereeld skoongemaak én hier is ’n swembad. Oranjerus het ook permanente tente en verskillende selfsorgopsies. Bespreek een van die rivierhuisies of die houthuisie as jy graag op die rivier wil uitkyk. Die huisies is netjies ingerig en het lugreëling en braaiplekke. 

Die Ibis-restaurant is oop van Dinsdag tot Saterdag vir ontbyt, middagete en aandete. Op Sondae is die restaurant oop vir ontbyt en middagete. 

Wat pla? Die diens in die restaurant is nie baie flink nie en ’n mens hoor soms snags verkeer op die R359. 

Koste Kampering: R140 per volwassene p.n.; R110 per pensioentrekker p.n.; R100 per kind p.n.; gratis vir kinders jonger as 6 jaar. Permanente tent: R450 p.n. vir twee mense. Selfsorghuisie: vanaf R950 p.n. vir vier mense. Rivierhuisie: R1 050 p.n. vir vier mense. Houthuisie: R1 250 p.n. vir vier mense. 

Hoe kom ek hier? Die oord is sowat 35 km buite Upington langs die R359. 

Kontak 082 772 5896 (besprekings); 079 706 0490 (restaurant); oranjerus.com

3. Rooipan-gastehuis

Foto's: Martinette Louw

Trek af by dié bees-en-skaapplaas in die Soutblok (’n deel van die Kalahari waar geen drinkbare groundwater voorkom nie) vir ’n lekker plaaskuier. 

Daantjie en Lizette Knoetze, die eienaars, het ongeveer 30 jaar gelede ’n teekamer op hulle plaas begin en dit het gou gegroei tot die eerste gastehuis in die gebied.

“Die Kalahari is werklik ’n besonderse plek om te bly,” sê Lizette. “My agtertuin is ’n rooiduin, en my mooiste blomme is die rooi en geel aalwyne wat hier voorkom. In die somer is dit lekker om rondom ’n kameeldoringvuur te kuier terwyl die weer in die verte rammel.”

As jy belang stel in die geskiedenis van die gebied, is jy op die regte plek: Lizette is ’n Kalahari-ensiklopedie en kan jou meer vertel oor die beginjare van boerdery in dié dorre streek, die sout wat op die panne gemyn word, en die dierelewe en plantegroei wat hier floreer.

Gaan stap in die veld of kuier rustig op die stoep. Die hoogtepunt? Geniet skemerkelkies op ’n hoë duin terwyl die son sak oor die soutpan waarna die plaas genoem is.

Waar bly ek? Die gastehuis het slaapplek vir 8 mense in en suite-dubbelkamers. Hier is ook ’n tuinwoonstel reg langs die gastehuis met slaapplek vir 3 mense. Die tuinwoonstel het een slaapkamer met ’n dubbelbed en nog ’n bed in die leefgedeelte en is volledig toegerus met ’n yskas, gasstoof, waaiers en ’n rak vol interessante boeke oor die gebied. Gaste het toegang tot die tuin, swembad, braaigeriewe en ’n binnenshuise kaggel. Wi-Fi beskikbaar.

Wat pla? Die gastehuis en tuinwoonstel is op die plaaswerf en daar word van vroegdag af gewerskaf. ’n Haan sal jou dalk wakker kraai, maar jy is mos hier vir die plaasatmosfeer! Tussen Upington en Askham is hier slegs MTN-selfoonontvangs.

Koste Gastehuis: R900 p.p. (met aandete en ontbyt ingesluit). Selfsorgtuinwoonstel: R900 p.n. 

Hoe kom ek hier? Die gastehuis is sowat 124 km noord van Upington op die R360. Draai links by die bordjie en ry sowat 3 km op die grondpad tot by die huis.

Kontak 082 415 1579 (Lizette); rooipan@gmail.com 

4. Molopo Kalahari-lodge

Foto's: Martinetete Louw

Molopo, sowat 60 km van die Kgalagadi-oorgrenspark af, is versier in die kenmerkende safaristyl van Afrika-lodges (dierevelle, volstruiseierdoppe en houtbeelde) en is verder opgedollie met ’n oordaad van optel-en-hougoed.

’n Lewensgroot windpomp is in die middel van die restaurant staangemaak, en verder sien jy roomyskarretjies, fietse en selfs ’n perdekar hang tussen die dakbalke. Die mure is versier met emaljewaskomme, melkkanne, sinjale, ou tikmasjiene, en skoenlese...

Ouma en Oupa gaan mal wees oor die ou goed en sal heelaand stories vertel oor die ou dae. Laat die kinders in die swembad rondplas en met die reuse-skaakstel speel wanneer hulle kriewelrig raak.

As jy hier slaap op pad na die park, kan jy vroegdag al by Twee Rivieren se hek aanmeld.

Waar bly ek? Die lodge het ’n wye verskeidenheid verblyfopsies – van chalets en rondawels tot kampchalets en ’n kampeerterrein. Hier is 10 en suite-chalets naby die lodge. Elke chalet het twee enkelbeddens, braaigeriewe, lugreëling en ’n TV, en jy het toegang tot ’n gemeenskaplike plonspoel. Die en suite-kampchalets is naby die ingang en elk van die eenhede het twee enkelbeddens of een dubbelbed, braaigeriewe, ’n boma en lugreëling. Elke staanplek in die kampeerterrein het sy eie braaigeriewe, ablusiegeriewe en ’n kragpunt.

Wat pla? Van die geriewe is al ’n bietjie afgeleef, maar dis niks wat ’n leksel verf en nuwe beddegoed nie kan regdokter nie. Die diens is soms traag en hier’s baie muskiete, maar die lodge is so naby aan die park én Askham dat jy vir een nag daarmee kan saamleef.

Koste Chalets: vanaf R400 p.p. wat deel (ontbyt ingesluit). Gesinseenheid met slaapplek vir vier mense: R1 200 p.n. (ontbyt ingesluit). Kampchalet R300 p.p. wat deel (ontbyt ingesluit). Kampering: R150 p.p. (maksimum 6 mense).

Hoe kom ek hier? Molopo is sowat 200 km noord van Upington op die R360 – en net 16 km van Askham af. 

Kontak 054 511 0008; namrod13@lantic.net; ncfamouslodges.co.za

WEG SE KEUSE

5. Kgalagadi-lodge

Foto's: Martinette Louw

By dié lodge is jy nie net op die drumpel van die park nie (dis net 5 km verder), maar jy het ook vir Botswana op jou voorstoep – die grens lê net anderkant die pad. Bly hier as jy die park net vir ’n dag besoek en daar wil wees wanneer die hekke oopmaak, of as jy vir jou eerste nag in die park by een van die noordelike kampe plek bespreek het.

Die lodge is teen ’n tamaai duin geleë (as jy baie rondloop, sal jy rooisand uit jou skoene moet skud) en polle boesmangras en wilde bossies omring die chalets. Mak springbokke en emoes wei op die werf en dalk is dit net omdat die park so naby is, maar die landskap voel wilder hier.

S.J. en Denise Koortzen, die eienaars, het aan alles gedink: Die chalets en kampplekke is netjies en gemaklik, en die lodge het ’n klein supermark, ’n slaghuis, restaurant en drankwinkel. Hier’s ook ’n swembad – bring dus jou kinders se vlerkies saam.

Jy gaan sukkel om ’n beter uitsig te kry as die een van jou chalet se stoep af: Kalahari-duineveld strek tot teen die horison en snags voel dit asof jy tússen die sterre braai.

Waar bly ek? Die meeste van die chalets is bo-op die duin, maar hier is ook huisies aan die onderkant. Hier is sowat 30 chalets, van luukse eenhede tot gesinseenhede. Die chalets is modern en het lugreëling, DStv en braaigeriewe, maar nie almal is ingerig as selfsorgverblyf nie – maak seker wanneer jy bespreek.

Daar is twee kampterreine met 15 staanplekke bo-op die duin. Elke staanplek het sy eie badkamer, kragpunt, kraan en braaigeriewe. Die kampterreine het nie koeltebome of gras nie, maar elke staanplek het ’n afdak met skadunet om jou koel te hou.


Wat pla? Niks nie! Die geriewe is splinternuut en skoon.

Koste Chalets: vanaf R800 p.n. vir twee mense; gesinseenheid: R1 380 p.n. vir vier volwassenes of twee volwassenes en drie kinders. Kampering: R350 p.n. per staanplek vir twee volwassenes en twee kinders jonger as 12 jaar; R80 p.n. per ekstra volwassene; gratis vir kinders jonger as 6 jaar. Maksimum ses mense per staanplek.

Hoe kom ek hier? Die lodge is sowat 5 km van die Twee Rivieren-ruskamp en die ingang van die Kgalagadi-oorgrenspark op die R360 af. Kontak 082 303 8768; 083 225 0331; kgalagadi-lodge.co.za

BONUSBLYPLEK

Foto's: Willem van der Berg

As jy van Johannesburg se kant af ry en eerder die R31-pad deur Hotazel wil volg, bly by die Van Zylsrushotel (vanzylsrushotel.com; 053 781 0201).

Standaardkamer: R590 p.p. wat deel (ontbyt ingesluit). Gesinskamer met slaapplek vir vier mense: R490 p.p. (ontbyt ingesluit). Jy kan ook ’n besoek aan die Kalahari Meerkatnavorsingsprojek deur die hotel reël (R250 p.p.; slegs op Sondae).

Lekker doendinge in die omgewing

KEIMOES

Koop ’n vetplant by die Ukuvukapadstal-en-kwekery

Loer in by Ukuvuka, sowat 14 km buite Keimoes op pad na Kakamas, en koop ’n beeskloutjie (vanaf R20) vir jou rotstuin by die huis. Sylvia Loxton se kwekery verkoop vetplantspesies uit die Knersvlakte en Noord-Kaap.

Wandel deur die vetplanttuin en besoek die padstal vol droëvrugte, konfyte en handgemaakte snuisterye.

Oop Maandag tot Saterdag: 7 vm.-1 nm. en 2 nm.-5 nm.

Kontak 082 926 8118; sylvialoxton@yahoo.com

Maak jou koelboks vol by die Kalahari Vleishuis

Patrys van der Merwe bedryf dié slaghuis in Keimoes al die afgelope 15 jaar en is die derde generasie slagter in haar familie.

Sy verkoop vryloopvleis, -biltong en -droëwors uit die Hardeveld en Kalahari, en die slaghuis is veral bekend vir hulle ontbeende en gemarineerde snitte, “Flip se Rib” (R135/kg) en “Flippen boud” (R145/kg). Die slaghuis is aan die regterkant van die R27, langs die BP-vulstasie soos jy Keimoes binnery van Kenhardt se kant af.

Oop Maandag tot Vrydag: 8 vm.-5 nm. Saterdag: 8 vm.-1 nm.

Kontak 054 461 0134

UPINGTON

Proe wyn by Oranjerivierwynkelders 

Besoek die wynkelder se splinternuwe proelokaal in Upington (Schröderstraat 158) en leer ken die wyne wat langs die Oranjerivier verbou word. Proe ses wyne van jou keuse vir R30 en bestel ’n Kalaharivleisbord (droëwors, biltong en cabanossi; R80) of ’n Grootdrinkkaasbord (drie kase, uiemarmelade, pesto en beskuitjies; R80).

Oop Maandag tot Vrydag 10 vm.-6 nm. Saterdag 10 vm.-3 nm. ’n Bespreking is noodsaaklik vir groter groepe.

Kontak 054 495 0040; orangeriverwines.com 

Vaar op Sakkie se Arkie 

Kyk hoe die son oor die Oranjerivier sak terwyl jy op een van die arkie se twee dekke ontspan. Sakkie Spangenberg is aan die stuur en die vaart neem sowat ’n uur en ’n half.

Die atmosfeer is lekker informeel en daar is ’n kroeg aan boord – veral die skemerkelkies is gewild (vanaf R50). Die sonsondergangvaart kos R120 per volwassene en R80 per kind jonger as 16 (’n reddingsbaadjie sal aan kinders jonger as 12 verskaf word).

Oop Vrydae, Saterdae, Sondae en vakansiedae; die res van die week slegs op aanvraag. In die somer vertrek die arkie om ongeveer 5 nm. van die rivierwal aan die onderpunt van Parkstraat in Upington se sakekern af. In die winter vaar die arkie slegs vir groepe wat bespreek.

Kontak 082 564 5447 of 082 575 7285; arkie.co.za

Eet by Bi-Lo Bistro

Dié eetplek in die Keidebeeswoonbuurt in Upington (Groenpuntweg 9) is besonder gewild onder die plaaslike inwoners én toeriste. Jy kan buite onder die groot koeltebome langs die visdam en spuitfonteine kuier of binne by die kroeg of bistro aansit.

Die porsies is gróót en jy sal beslis nie honger wegstap nie. Probeer die plaasontbyt (R80), die hoenderslaai (R90) of die cheddarmelt-steak (200 g; R125).

Hier is ’n klimraam buite om die kinders besig te hou.

Oop Maandag tot Sondag: 8 vm.-10 nm.

Kontak 054 338 0616

ASKHAM

Drink ’n melkskommel by Diamond T As die Kalahari se hitte jou onderkry, bestel ’n ekstra-dik melkskommel (R30) en sit op die stoep by dié koffie-en-geskenkwinkel in Askham se hoofstraat. Dis die ideale plek vir asemskep op pad na die park en jy kan hier ’n ligte ete geniet, konfyt en blatjang koop vir jou kampspens (vanaf R45) én snuisterye uitsoek vir jou mense by die huis. En moenie sonder ’n springbokpastei (R25 bevrore; R35 warm) hier wegry nie.

Oop Maandag tot Vrydag: 8 vm.-5 nm. Saterdag: 8 vm.-1 nm. Gesluit
op Sondae.

Kontak 054 511 0025 of soek na Diamond T Coffee Shop op Facebook.

Meer inligting Gaan na greenkalahari.co.za en upington.com vir meer verblyfopsies en doendinge in die gebied. Ook openafrica.org kan help (klik op “Kalahari Red Dune Route”).

Kry jou klassieke reisplan vir ’n tien dae lange vakansie in die Kalahari in ons November-uitgawe. Dis nou te koop!


Kan ons cover en link na winkel hier sit?