Foto's: Cyril Klopper

Ons kla almal oor wetteloosheid in Afrika, maar die voordeel van beperkte inmenging van regeringskant is dat ons baie vryheid geniet. In Europa is dit deesdae haas onmoontlik om sonder ’n permit met jou trokkie in die duine te speel of selfs ’n verlate grondpad te vind waar jy na hartelus deur moddergate kan plons. Selfs in Nieu-Seeland en Australië druk gesondheids- en veiligheidsinspekteurs hulle neuse in 4x4-entoesiaste se sake... kwansuis omdat hulle besorg is oor hulle burgers se welstand. Ga!

Maar hoewel ons ’n groot mate van vryheid geniet, beteken dit nie ons mag roekeloos wees nie. Ons het koppe bymekaar gesit met Arrive Alive ( arrivealive.co.za) en die Masterdrive- gevorderde bestuurskool.

Maar hoewel ons ’n groot mate van vryheid geniet, beteken dit nie ons mag roekeloos wees nie.

Masterdrive bied 4x4- en verdedigende bestuurkursusse aan en die Arrive Alive-projek is welbekend vir sy pogings om padveiligheid te bevorder.

Hier is tien wenke en tegnieke wat jy moet aanleer om jou voertuig te beskerm en jouself veilig te hou.

Wees koel – yskoel

Op ys en sneeu moet jy altyd oorversigtig wees met die petrolpedaal en remme. Skielike versnelling en remming gaan veroorsaak dat jou voertuig gly.

Ás jou voertuig begin gly, moet jy dadelik jou voet van die petrolpedaal afhaal en die remme vermy. Deur rem te trap gaan jy waarskynlik verder gly – ja, selfs met sluitweerremme. Draai die voorwiele eerder in dieselfde rigting van die gly sodat jy vinniger tot stilstand kan kom. As jy in ’n konvooi ry, moet almal hulle volgafstand vergroot.

Vermy tegnologie soos spoedbeheer en die elektroniese sportmodus. Moet ook nooit halfpad op teen ’n heuwel stilhou nie. Daar is baie stories oor toeriste wat halfpad teen die Sanipas gestop het vir sneeufoto’s en moes toekyk hoe hulle gehuurde 4x4 bergaf gly.

Wees bedag op sogenaamde swartys. Dit lyk soos nat vlekke op ’n teerpad (terwyl daar geen teken van reën is nie). Ry óm dit as jy dit gewaar. Gelukkig is dit nie ’n probleem wat jy op grondpaaie kry nie.

Glo in grootdoop

Voorbereiding is belangrik as dit by water kom. Loop eers ’n ent die rivier in. (Vermy liefs dié stap as jy die Krokodilrivier wil oorsteek. – Red.) As jy sukkel om staande te bly, gaan die stroom jou voertuig wegspoel. Jy moet ook presies weet waar jou voertuig se luginlaat is en nie deur water ry wat dieper is as wat die inlaat hoog is nie.

As jou voertuig elektriese ruite het, moet jy minstens een ruit oop los ingeval daar ’n kortsluiting is. Waterkruisings is ook die enigste plek waar dit raadsaam is om sonder ’n sitplekgordel te ry.

Moet nooit in die middel van die rivier stop sodat jou pêlle foto’s van jou kan neem nie – dis net hier waar die enjin water sluk deur die uitlaatpyp. Moet ook nie die water injaag om ’n mini-tsunami te skep nie. Ja, dit lyk lekker, maar water beland in plekkies waar dit eerder nie moet wees nie.

As jou voertuig elektriese ruite het, moet jy minstens een ruit oop los ingeval daar ’n kortsluiting is.

Neem ’n slag ’n modderbad

Vóór jy ’n moddergat invaar, neem ’n lang stok en steek dit in die modder om te toets hoe pap dit is. Hoe papper, hoe makliker gaan jy kan deurry. Voel ook of daar dalk klippe is wat ’n vorige ou dalk ingegooi het toe hy vasgesit het. Skakel oor na laestrek en kies eerste of tweede rat, afhangende van hoe dik die modder is. Maak seker jou ryding se elektroniese vastrapbeheer is afgeskakel.

Ry die modder stadig binne. Sodra jou voorwiele aan die modder raak, kan jy die petrolpedaal trap – nie te veel nie, net genoeg om seker te maak jy gaan anderkant uitkom. As jy spoed verloor en begin vasval, moet jy die petrolpedaal onmiddellik los. Stoot eerder terug en probeer weer, maar dié slag met ’n bietjie meer spoed. As dit steeds sukkel, kan jy die stuurwiel heen en weer wieg – dit gee jou bande meer greep.

Was jou voertuig se onderstel sodra jy tuis kom, selfs vroeër as jy kan. 

Geteer en geveer

Hoewel viertrekvoertuie lekker werk in die veld, is die meeste van hulle nie juis uitstekende padvoertuie nie. Jy voel dalk veilig hoog bo in jou trokkie, maar die onaangename feit is dat jy nie so vinnig soos ’n sedanmotor kan stilhou nie. Jou trokkie kan ook nie so maklik uitswaai om ’n botsing te vermy nie. Hou dit in gedagte wanneer jy kampgoed inpak. Swaar items soos waterkanne moet so laag as moontlik gelaai word, terwyl jy ligte items in kratte op die dakrak kan vervoer.

Verhoog die normale banddruk met 10% as jy lang ente op ’n teerpad gaan ry – dit verleng jou bande se leeftyd. As jou voertuig deeltydse viertrek het, moet jy dit nooit op ’n teerpad aanskakel nie – jy kan die oordraratkas of ewenaars ernstig beskadig.

’n Spoedbeperking van 120 km/h beteken nié jy moet teen daardie spoed reis nie. Die bestuurder van ’n gelaaide veldryer moet altyd versigtiger bestuur as ander padgebruikers.

As die sandmonster roep...

In Suid-Afrika mag ons nie meer sonder ’n permit op die strand ry nie, maar daar is nog hope sandduine waar jy gratis kan gaan vasval. Die eerste stap is om die druk in jou voertuig se bande tot 1,1 bar te verlaag – selfs so laag as 0,8 bar indien die sand baie los is. Onthou egter: Hoe laer jou banddruk, hoe groter die kans dat die band van die wielvelling kan afklim wanneer jy skerp draai.

Daar bestaan ’n wanindruk dat breë bande lekker ry op sand. Dit het wel groter rolweerstand in sand, maar ’n smaller band met ’n hoë bandwand werk beter. Wanneer jy die banddruk van ’n wiel met ’n hoë bandwand verlaag, word die “voetspoor” langer sonder dat die rolweerstand vergroot word.

As jy ’n boswa deur sand sleep, help dit as die spoorwydte, bandgrootte en -druk dieselfde is as dié van die sleepvoertuig. Indien nie, gaan jou wa soos ’n anker voel.

Ry dat die stof so staan

Hanteer ’n stofstorm nes digte mis: Sit jou hoofligte aan en moenie stilhou nie, want die voertuig agter jou kan in joune vasry. As jy deurdruk, gaan jy boonop vinniger onder die storm uitkom. Verminder jou spoed sodat jy meer tyd het om gevare voor jou raak te sien en daarop te reageer.

Indien die storm té erg raak, moet jy so ver as moontlik links van die pad aftrek. Skakel dan jou voertuig se ligte af, want dit kan verbygaande voertuie verwar. As jy egter besluit om aan te hou ry, moet jy die hoofligte domp – hoofligte wat op brights gestel is, weerkaats teen die sand en belemmer jou sig verder.

Moenie met jou voertuig se noodligte aan ry nie, verleng die volgafstand tussen jou en die ou voor jou, en moet hom nie probeer verbysteek nie.

Bly gegrond

Ons gaan jou nie vertel hoe om op ’n grondpad te bestuur nie; dit weet jy reeds. Kom ons fokus eerder op wat ’n ou moet doen nadat jy beheer oor jou ryding verloor het.

Bly kalm, hou albei hande op die stuurwiel en moenie daarmee stoei nie. As jou voertuig sywaarts gly, moet jy die rempedaal uitlos en jou voet geleidelik van die petrolpedaal af lig. Kyk in die rigting waarheen jy wil ry en draai die stuurwiel egalig in daardie rigting. As jy aan die stuurwiel pluk, gaan jy beslis in ’n sloot langs die pad beland. Óf erger...

Sodra jou voertuig se neus na die regte rigting begin terugkeer, kan jy die rempedaal liggies trap. Moet niks oorhaastig doen nie.

As jy aan die stuurwiel pluk, gaan jy beslis in ’n sloot langs die pad beland. Óf erger...

As daar geen keer is aan die gly nie, probeer ’n oop veld inry, en as ’n rots onafwendbaar is, moet jy ten minste probeer om dit neus eerste te tref. Die voorkant van jou voertuig is die meeste skokbestand.

Moenie wintie wees nie

’n Sterk wind is lastig wanneer jy stadig op ’n grondpad ry, maar op die langpad kan dit voel asof orkaan Irma jou tref – veral as jy ’n daktent het. Wees veral versigtig wanneer jy oor ’n brug ry of ’n swaar voertuig verbysteek. Skielike rukwinde kan maklik ’n swaargelaaide Land Rover omstoot. Op die Miaspoort-boogbrug net voor die Hugenotetonnel buite die Paarl lê daar dikwels woonwaens en afleweringsvoertuie op hulle sy.

As jy om enige rede moet aftrek, vermy bome en hoogspanningsdrade. Hou eerder stil in ’n oopte waar takke nie op jou of jou voertuig kan val nie. As jou roete versper word deur ’n hoogspanningsdraad wat geval het, moet jy beslis nie daaroor ry nie. Elektrisiteit vloei moontlik steeds daardeur en die paar sentimeter rubber op jou voertuig se wiele is nie genoeg om jou teen 150 kV te beskerm nie.

Hoe sê ’n naguil

Die goue reël is dat jy nooit in die nag 4x4 moet ry nie. Goed, jy’t daai reël verbreek en hier sit jy in die nagdonkerte in die middel van Vanzylspas. Wat nou, makou?

Skakel al jou voertuig se ligte aan. Hoe meer lig jy op die pad voor jou en die klippe langs jou kan werp, hoe beter.

Moenie jaag nie. Let op hoe ver jou voertuig se hoofligte skyn en pas jou spoed aan sodat jy binne daardie afstand kan stilhou. Onthou, jou remafstand is langer op ’n grondpad.

Hou jou oë oop vir diere. Koedoes en seekoeie hou daarvan om saans rond te loop en hulle is feitlik onsigbaar tot dit te laat is – en as jy een van hulle tref, gaan jy meer as net ’n nuwe voorlig nodig hê. Moenie vir ’n dier uitswaai nie. Hou die voorvoorwiele reguit en trap die rempedaal plat. ’n Skewe bosbreker is beter as ’n voertuig wat dwars in die pad op sy dak lê.

Hoe meer lig jy op die pad voor jou en die klippe langs jou kan werp, hoe beter.

Stadig oor die klippers

Wanneer jy oor rotse ry, is daar een mantra wat jy herhaaldelik vir jouself moet opsê: Ry so stadig as moontlik en so vinnig as nodig. Anders as met modder en sand bied rotse goeie vastrap, en daar is geen rede waarom jy moet jaag nie.

Leer waar die ewenaars, bladveerskarniere, oordraratkas en oliepan onder jou voertuig is. In my eie voertuig weet ek byvoorbeeld die voorste ewenaarpampoen lê so ’n entjie voor my linkervoet. Die agterste ewenaar is 2 m agter hom en die oordraratkas onder die rathefboom.

As jy kan kies of ’n wiel deur ’n gat of oor ’n klip moet rol, is die klip die beter keuse. Dit help ook as jou passasier uitklim en ’n oog gooi dat jy nie per ongeluk ’n oliepan of ewenaar teen ’n rots stukkend kap nie. Belê in ’n skermplaat wat die lengte van jou onderstel beskerm, maar hou in gedagte dat droë gras soms tussen ’n skermplaat en ’n onderstel versamel wat onder ’n vuurwarm uitlaatpyp kan vlam vat.