In die noordelike en oostelike streke waar die spesie voorkom, sien ’n mens dikwels een wat die pad oorsteek. Maar ongelukkig kyk baie mense dit mis en word heelwat van dié outjies doodgery.

Flapnekverkleurmannetjies is een van die groter verkleurmannetjiespesies in Suider-Afrika en kan tot 35 cm lank word (van kop tot die punt van die stert). Hulle word uitgeken aan die flap bo-op die kop. Die grootte van dié flap wissel op grond van waar die reptiel voorkom – dit is geneig om kleiner te wees in die suidelike deel van die habitat.

Net om een te sien is reeds opwindend, maar dis nóg lekkerder om hulle gedrag dop te hou. Ek was ’n rukkie gelede gelukkig genoeg om te sien hoe ’n wyfie eiers lê. Hulle paar van vroeg- tot middel somer en in dié tyd baklei die mannetjies soms met mekaar vir paarregte. Die wyfies lê 25 tot 60 klein eiers laat in die somer.

Die grootte van dié flap wissel op grond van waar die reptiel voorkom

Sy grawe ’n gat in die grond vir die eiers – gewoonlik met die voorpote, maar daar is glo al gesien hoe flapnekwyfies hulle kop hiervoor gebruik!

Nadat die eiers gelê is, krap die wyfie ’n lagie grond bo-oor elke laag eiertjies om hulle te beskerm. Dis ’n lang proses aangesien verkleurmannetjies nou nie juis die vinnigste diere is nie. As die hele proses verby is, klop sy die grond en blare plat. Die eiers broei heelwat later uit – dikwels sowat vyf maande later, maar soms vat dit so lank as een jaar.

Daar is geen ouersorg nie: Die kleintjies grawe hulleself uit en ontsnap na die veiligheid van nabygeleë bome. As ’n mens gelukkig is, sien jy soms ’n hele groep jong verkleurmannetjies in bosse. Kort nadat hulle uitgebroei het, begin hulle uitsprei en vir hulleself sorg deur piepklein insekte te eet. 

Bykomende bron: Chameleons of Southern Africa (2007) deur Krystal Tolley en Marius Burger