Slange ontlok sulke uiterste reaksies by mense – óf hulle gril hulle dood, óf hulle word geboei.

Die marmerslang is seker een van die mooiste slange in Suid-Afrika en heeltemal skadeloos... Ek hoop dit kan dus ’n soort ambassadeur vir hierdie reptiel wees! Dié voorbladgesig het relatiewe groot oë en vertikale pupille, wat hulle deel van die groep katoogslange maak.

Hoewel hulle tot sowat 85 cm lank kan raak, is die gemiddelde lengte maar slegs sowat 40-60 cm. Dit maak dit maklik om hulle mis te kyk – veral aangesien hulle vel bruin met dowwe wit kolletjies is. Dis dié kolletjiespatroon wat die slang sy naam gee.

Hulle kom in die klammer oostelike dele van die land voor en verkies woudagtige gebiede, waar ’n mens hulle gewoonlik onder los boombas, in hol boomstompe en onder dooie blare te sien kry. Hou jou oë oop in enige van die wildtuin se kampe noord van Olifants, veral as julle ná sononder rondstap – hulle hou veral van gebiede waar daar mopaniebome voorkom. Marmerslange kom egter ook naby huise voor en het ’n voorliefde vir grasdakke.

Die slange is meestal onaktief bedags en kry eers lewe wanneer hulle snags jag. ’n Marmerslang se gif het nie enige uitwerking op mense nie, en word gebruik om hulle prooi te verlam – geitjies, klein akkedisse, paddas en soms knaagdiere.

Soos die meeste slange lê die wyfie in die somer eiers – sewe tot nege. Wanneer die slangetjie uitbroei, is hy sowat 18 cm lank.

As die slang bedreig voel, krul hy hom op in ’n aanvallende posisie met die voorste deel van die lyf gelig. Hy maak dan sy bek oop en maak stadige aanvallende bewegings om enige moontlike vyand af te skrik.