Die Velskoendraai-padstal-en-restaurant is op die rand van die dorp en het alles wat jy van ’n goeie aftrekplek verwag: vars brood (R30), plaasbotter (R70), melktert (R120), heuning (R70), beskuit (R70) en ’n groot verskeidenheid speserye, souse en ingelegde produkte. Jy kan selfs ’n tweedehandse boek of ’n vetplantjie vir jou kombuisvenster aanskaf.

Clanwilliam is ons land se rooiboshoofkwartier en daarom sal jy ook allerlei produkte met dié bossiegoed as bestanddeel aantref. Het jy al ooit van ’n rooibosrissiesmeer gehoor? Dit smaak vorentoe op roosterbrood! Hier’s ook velsorgprodukte met ’n rooibosekstrak, ’n rooibos-muffinmengsel en ’n mens kan ook ’n rooibosproe (R35 p.p.) geniet.

Smaaklike etes is heeldag beskikbaar. Vir ontbyt beveel ek die Velskoen (eiers, spek, ens.; R82) aan en vir middagete die hoenderpastei (vanaf R30), ’n toebroodjie (vanaf R40) of roosterkoek (vanaf R50).

Indien jy vir ’n stewiger maaltyd wil aansit, bied die spyskaart jou waterblommetjiebredie (R100), bobotie (R95), of ’n 300 g-T-beensteak (R130). En dan is daar ook nog die Velskoen Whatever-pizza (R120), waarvan die bolagie van dag tot dag verskil.

Die padstal is ook die tuiste van ’n jaarlikse Rooibosdag, spesiale vieringe op Vaders- en Moedersdag, ’n Kersmark, asook ’n Skaap-en-jenewerfees. Hou ’n ogie op die Facebook-blad (Velskoendraai Plaasmark) vir wanneer daar weer ’n makietie plaasvind.

Oop Ma.-Sa. van 8 vm.-5 nm.; So. van 10 vm.-3 nm. Waar? Volg die Graafwater-pad (R364) se afrit van die N7 af, kruis die Olifantsrivier en hou 2 km aan Clanwilliam se kant toe.

Velskoendraai sit op linkerhand nes jy die dorp inkom.

Kontak: 083 460 3773; velskoendraai.co.za

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook