Wanneer die meeste van ons bed se kant toe staan, neem ’n handjie vol mense buite stelling in gewapen met ’n wolmus, koffiefles... en teleskoop. Wil jy graag meer as net die Aandster en Orion se Gordel in die naghemel raaksien? Hier is 'n paar plekke waar jy sterre kan kyk.  

1. Britstown, Noord-Kaap

Nog elke keer as Danie Barnardo by die Kambro-padstal buite Britstown oorgeslaap het, het hy hom verwonder aan die Karoo se ongelooflike nagte. Hier kon hy sterre, planete, mane en konstellasies waarneem wat hy nie gewoonlik in Gauteng se lug- en ligbesoedelde ruimtes kan sien nie. As lid van die Pretoria-sentrum van die Astronomievereniging van Suider-Afrika (ASSA) het hy besluit die plek moet met meer mense gedeel word, en in 2009 het ’n klompie sterrekykers van reg oor Suid-Afrika vir die eerste keer by Kambro kom uitspan. Sedertdien het die “Karoo Star Party” ’n jaarlikse instelling geword.

2. Sutherland, Noord-Kaap

Net so berug as wat Sutherland is vir sy koue, net so beroemd is dié plek vir die sterrekunde. Suid-Afrika se Nasionale Sterrewag is juis vanweë die donker naghemel hier gevestig. Voordat die Sterrewag gebou is, is die stabiliteit van die atmosfeer getoets en daar’s bevind dis vergelykbaar met dié van die beste sterrewagte ter wêreld.

3. Brandfort, Vrystaat

Die Vrystaat se koue, droë lug sorg vir ’n stabiele atmosfeer met uitstekende waarnemingstoestande. En omdat die wêreld hier so plat en uitgestrek is, kan sterrekykers selfs voorwerpe wat laag op die horison lê, waarneem – van die suidelike konstellasies soos Tucana en Lira met sy Ringnewel, tot die noordelikes, soos Pegasus en die sterretros M13 in Hercules.

4. Touwsrivier, Wes-Kaap

Die lede van die Southern Star Party (SSP) trek minstens twee keer per jaar saam. Buiten verkykers en standaard-teleskope sal jy hier ook ’n paar selfgeboude modelle aantref, en praatjies, demonstrasies en werksessies oor ’n hele rits onderwerpe word aangebied – waaronder astrofotografie. En ’n hoogtepunt op die program is die gewilde sterrekundevasvra.

5. Sederberg, Wes-Kaap

Die sterrekundige Peter Mack het dié sterrewag in die vroeë jare tagtig, met die koms van Halley se Komeet in gedagte, in die Sederberg begin. Hy het met oom Pollie Nieuwoudt van die plaas Dwarsrivier onderhandel om ’n stukkie grond met ’n goeie uitsig op die sterrehemel te bekom en basiese geriewe daarop te bou.

Kyk sterre in die stad

’n Planetarium is ’n goeie tweede opsie as jy nie buite onder die sterre kan staan nie. Daar is drie grotes in Suid-Afrika en hulle het verskillende programme en praatjies – ook vir kinders.

En vir Namibiërs...

Die twee goed wat sterrekykers se vure die vinnigste blus, is swak weer en te veel lig. Namibië is nou nie juis bekend vir sy oormaat bewolkte dae nie, en met die naaste groot dorp se straatligte byna 80 km verder, is die Hakos-gasteplaas ’n goeie plek om jou driepoot staan te maak. 

Dié gasteplaas lê op die rand van die Khomas Hochland, regs langs Gamsberg, en hier is jy ook so byna 2000 m nader aan die sterreruim as die mense op Lüderitz. Die grootste sterrewag in die land is hier opgerig, en gaste kan ook toerusting hier huur (besoek die webwerf vir ’n lys).

Kontak * 00 264 62 572 111; * www.hakos-astrofarm.com