Foto: Eric Nathan

Die sterrekundige Peter Mack het dié sterrewag in die vroeë jare tagtig, met die koms van Halley se Komeet in gedagte, in die Sederberg begin. Hy het met oom Pollie Nieuwoudt van die plaas Dwarsrivier onderhandel om ’n stukkie grond met ’n goeie uitsig op die sterrehemel te bekom en basiese geriewe daarop te bou.

Die sterrewag is ver genoeg uit die stad om lig- en lugbesoedeling uit te skakel en ook ver genoeg van die kuslyn om dynserigheid te beperk.

Tans is daar sewe vennote wat in samewerking met die Nieuwoudts beurte maak om die sterrewag elke Saterdagaand te beman, en as jy in die omgewing is, kan jy kom saam sit vir ’n skyfievertoning (’n basiese inleiding tot die suidelike naghemel), én die kans kry om deur die teleskope te kyk.

Dis ’n baie informele bymekaarkoms en besoekers kan bly so laat as wat hulle wil.

Waar? Sowat 45 km van die N7 af, op die Sederberg-Algeria-pad.

Wanneer? Rondom 8 nm. elke Saterdagaand (as die weer dit toelaat en dit nie volmaan is nie). Die Sanddrif-kantoor het ’n bord met die inligting op.

Koste Gratis, maar skenkings is welkom.

Kontak * 027 482 2825; * www.sanddrif.com