Lesotho is die soort plek waaroor jou bergfiets droom… Jon Minster het onlangs ’n vyf dae lange fietstoer in Lesotho gedoen. Kyk hoe lyk die Bergkoningkryk – dorpies hoog in die lug en afdraande wat jou fiets vlerke gee.

Lees die storie in Weg se September-uitgawe – nou op die rak.


Foto’s deur Jon Minster:


Oranje-gasteplaas naby Clarens, waar die toer begin en eindig. Hier kan fietsryers eers ’n 20 km-toetsrit doen.



Op die eerste dag ry jy vanaf die alpynse plato naby Afriski tot onder in die Malibamatsoriviervallei. Die afdraandepad is vinnig en opwindend, en jy ry verby tradisionele dorpies en die Kao-diamantmyn.



Op enige Dryland Ride-toer is middagete elke dag ’n hoogtepunt. René Rademeyer se tuisgebakte piesangbrood is ’n wenner.



In die Drakensberg kyk jy heeltyd op na die berge. In Lesotho kyk jy af na die valleie. Hierdie omgekeerde uitsig is net so asemrowend. Hierdie is die Malibamatsorivier wat uiteindelik in die Katsedam vloei.



Die beste manier om Lesotho te verken, is op twee wiele, of vier bene.



Die dorpie by Katsedam is in die 1990’s gebou om die dam se ingenieur- en bouspanne te huisves. Katse Lodge is ’n belangrike baken in die dorpie. Die lodge het ’n eersteklas-ligging op ’n skiereiland met uitsigte oor die water.



Op die tweede dag in Lesotho ry die fietsryers ’n 4x4-kontoerpad rondom ’n deel van die dam.



Die dam se geboë betonmuur is 185 m hoog. Loer oor die rand, maar pasop dat jy nie duiselig raak nie. En hou jou kamera styf vas. 



’n Tipiese Lesotho-toneel op pad tussen Katse en Thaba-Tseka.



Tyd vir koffie met ’n pragtige uitsig oor die laer Malibamatsoriviervallei.



Die inwoners van Lesotho kry dit reg om ’n bestaan te voer in die mees onherbergsame landskappe. Hierdie klompie hutte klou teen die berghange vas hoog bokant die Malibamatsorivier.



Die uitsig vanaf Sanipas se kruin: ’n volmaan wat opkom en Himeville en Underberg se liggies wat ver onder skitter.



Jon Minster is gereed vir die laaste dag se fietsry teen Sanipas af. Hy moes amper al die klere in sy sak aantrek om die ysige koue te trotseer. Dit was -3° C bo-op die berg. 



Die beste afdraandepad van die toer was Sanipas. Die rit het heerlik lank gevoel: ’n Volle uur van vlieg om draaie en uitsigte wat strek tot in volgende week.



Die fietsryers groet Lesotho met die Drakensberg-platorand in die agtergrond. Gelukkig wag daar nog trapwerk in die Golden Gate-hoogland- nasionale park op pad terug na Clarens.


Meer oor die toer:

Die begeleide vyf dae lange bergfietstoer begin en eindig in Clarens, waar jy jou motor los. Jy trap of ry saam met ’n ondersteuningsvoertuig.

Kontak René Rademeyer vir meer inligting: 082 855 6015; rene@dryland.co.za; www.drylandride.co.za