foto’s Kyle Kock
Tulbagh
Tulbagh

In ’n land waar natuurrampe nie eintlik alledaags is nie, onthou baie mense hoe Tulbagh in September 1969 getref is deur ’n aardbewing wat 6,3 op die Richterskaal geregistreer het. In die vyftig jaar sedert daardie tragiese voorval het die dorpsmense moue opgerol en met mening gerestoureer.

Sowat 14 km suid van Tulbagh het Peter Nel waarskynlik ’n soortgelyke idee vir sy Fynbos-gasteplaas gehad. In die 14 jaar dat hy al die eienaar is, het hy en sy personeel die grond breedvoerig gerehabiliteer om meer omgewingsvriendelik te wees. Hulle het meer as 80 bloekombome (wat elk meer as 2 000 l water per dag kan opslurp) en ander uitheemse plantegroei op die plaas van 67 ha uitgekap en in die plek daarvan fynbos gevestig.

Hulle het ook meer as 300 inheemse bome geplant. Afgesien van die kampterrein is die landgoed ook ’n veilige hawe vir mishandelde en verwaarloosde diere. Hier is heelparty diere op die plaas, waaronder honde, perde, ganse, poue, hoenders, eende, varke, skilpaaie, hasies, boerbokke, springbokke, sebras en selfs alpakkas.

Moenie gras verwag nie

Jy staan nie op gras wanneer jy by die Fynbos-gasteplaas kom kuier nie. Hier kamp jy op ’n laag boombasstukkies.

As jy iemand is wat ’n besige vakansieoord eerder vermy, sal jy bly wees om te hoor hier is net 10 staanplekke by Fynbos. Hulle wissel in grootte, en ongeag hoe jy kamp, behoort jy geholpe te raak met ’n lappie aarde wat aan jou behoeftes voldoen.

Die natuurlike plantegroei sorg ook vir koelte, maar op sommige staanplekke kry jy meer as op ander. Op van die groter staanplekke is skadunet gespan, maar dit strek nie oor die hele staanplek nie. Die meeste van hulle is gelyk, maar nr. 10 loop effens skuins af. Staanplek nr. 9 en 10 is kleiner en die naaste aan die ablusiegeriewe, en is vir die grootste deel van die dag in die koelte van dennebome, terwyl die grootste staanplekke (nr. 1, 5, 7 en 8) in die middel van die dag minder koelte het.

’n Reeks klip- en houtmure in die kampterrein beskerm jou teen die wind en sorg vir ’n skeiding tussen jou en jou kampbure as privaatheid vir jou belangrik is. 

Elke staanplek het sy eie vullisdrom en braaiplek, maar jy moet jou eie rooster saambring. Onthou ook ’n emmer, want die enigste kraan is by die ablusieblok. Jou kragpunt is ’n gewone huissok, maar die uitsondering is staanplek nr. 7 en 8 waar jy jou blou prop gaan nodig kry. Dié twee staanplekke is terloops die beste keuse wanneer julle in ’n groep kom kamp. Hulle het ook direkte toegang tot die gemeenskaplike lapa.

Wasplekkie

Die ablusiegeriewe is in ’n klein huisie in die bos en dit voel sommer anders as die kliniese en karakterlose ablusieblokke wat ’n mens soms by kampplekke kry. Die gebou is oortrek met rankplante, maar jy kan sien hy is wit geverf met ’n bruin tema wat by die houtdeure, -rame en -banke inskakel.

Die plek word daagliks uitgevee en regdeur die dag skoongehou. Die skottelgoedwasplek is op die stoep tussen die mans- en vrouegeriewe, maar hier is net een wasbak en droograk. Maak dus seker jy is vóór jou bure hier. Hier is ook ’n minivrieskas waar jy jou vleis en ander bederfbare kosse kan bêre.

En as jy jou boek by die huis vergeet het, kan jy op die boekrak langsaan kom soek vir iets om te lees. In die mansgeriewe is twee wasbakke in ’n teëltoonbank onder ’n groot spieël waar twee mense gemaklik langs mekaar kan staan. Handeseep, snesies en ’n handdoek om jou hande af te droog word verskaf. Hier is twee storte en twee toilette en jy gaan jou besoektyd mooi moet beplan wanneer die kampterrein vol is.

Die storte is groot genoeg dat die stortgordyn nie pla nie, en teen die muur tussen die droë en nat deel is ’n teëlrak met genoeg plek vir jou seep en sjampoe. Die stort se waterdruk is nie wat wonders nie en sodra iemand die water in die stort langs jou – of in die vrouegeriewe – oopdraai, word jou waterstroom omskep in ’n klein straaltjie. Hier is ’n smal bankie in die droë deel waarop jy kan sit én drie hake vir jou handdoek en klere.

Diere en plesiere

Die kinders kan die plaas na hartelus verken, maar dit is ’n goeie plan om tog ’n ogie oor hulle te hou, veral as hulle nog baie jonk is.

Die ouer kinders kan blikkies vol kos vir die diere by die ontvangskantoor koop (R20) en die plaas se hasies, boerkokke, varke en skilpaaie gaan voer. Jy kan ook wortels en kool van die huis af bring. Wees net versigtig by die perde – van hulle was voorheen karperde en is geneig om te byt. Moet dus nie die kinders sonder toesig na die stalle toe laat gaan nie.

Bring julle fietse saam, want die plaas is ’n heerlike plek om die speke te laat sing. Hier is ook ’n speelparkie langs die varkhok met swaaie en ’n klimraam waar die kinders hulle kan besig hou. In die tuin agter die ontvangskantoor en die plaashuis is ’n klein meditasiekamer waar jy kan gaan stil word.

Die houtgeboutjie het gebrandskilderde glasvensters en die vloer en betonbankies is met mosaïek bedek – daar word van jou verwag om jou skoene uit te trek voor jy ingaan. Die kamer is groot genoeg vir vier mense. As só ’n klein vertrekkie nie in jou smaak val nie, kan jy jou op een van die 20 bankies gaan tuismaak wat oor die plaas versprei staan.

Maak jou tuis Die ablusieblok lyk meer soos ’n klein huis, maar dit is die idee. Jy is veronderstel om tuis te voel by Fynbos-gasteplaas. Die geriewe is skoon, netjies en heel voldoende vir die grootte van die kampterrein. Hier is ook ’n gemeenskaplike braaiplek waar jy saam met vriende kan kuier terwyl julle die vleis oor die kole gaarmaak. Die oord is ’n hawe vir mishandelde en verwaarloosde diere en jy kom hulle oral op die plaas teë.

Dit is in die tuin of naby die dierehokke en ’n goeie plek om jou aandag van die stad se gejaag af te lei. As jy saam met ’n groep vriende kom kamp, kan julle by die lapa langs die speelparkie gaan kuier. Hier is plek om te braai én twee plonspoele. Die water is nou wel nie so kristalhelder soos by groot oorde nie, maar as jy in die middel van die somer hier kamp, is dit ’n welkome lafenis teen die hitte.

Hier is ook plastiektafels en -stoele wat julle kan gebruik wanneer julle in die lapa kuier. Die winkel is by die ontvangskantoor en jy kan hier kom aanklop vir koeldrank, lekkergoed, ys (R20 per sak) en hout (R30). 

liggaam en siel Jy kan in die meditasiekamer kom stil raak of jy kan jou gaan tuismaak op een van die 20 bankies wat oor die Fynbos-gasteplaas verprei staan om nader aan die natuur te kom. Jy kan ook vir jou ’n ontbyt­mandjie bestel. Dit kos R85 p.p. en is nét die doepa vir die nodige energie voor jy die omgewing invaar.

Verken die vallei

Hier is heelwat te sien en doen in dié deel van die wêreld, en die Fynbos-gasteplaas is ’n heerlik sentrale plek van waar jy die omliggende dorpe kan verken.

Tulbagh is 14 km ver, en as jy nog nie by die aardbewingmuseum was nie, is dit die moeite werd om te gaan inloer. Die kaartjies kos net R15 p.p. en hier is baie interessante foto’s en eerstehandse vertellings van mense wat die ramp beleef het.

Moniki Chocolates is ook net in die pad af – dit kos R50 p.p. om die sjokolade te proe (jy kry ’n drankie by).

As jy iemand met groen vingers is, moet jy ’n draai gaan maak by The Kitchen Gardens in Kerkstraat. Dit is die plek waar die plaaslike restaurante en eetplekke die kruie en groente kry wat uiteindelik op jou bord beland. Toegang is gratis.

Mense met ’n belangstelling in oorloë kan die blokhuise buite Wolseley besoek. Die Britte het dit tydens die Anglo-Boereoorglog gebou om die nabygeleë brûe teen die Boere se aanvalle te beskerm. As jy jou adrenalienvlakke ’n bietjie wil opjaag, moet jy die Zipline-toer net buite Ceres besoek – dit is aan die voet van Mitchellspas.

Hier is agt kabels van verskillinde lengtes en hoeke en dis groot pret. Jy kan jou spoed met ’n handrem beheer as jy voel jy gly effens vinnig. Op jou eie vat dit sowat ’n halfuur om met al agt kabels te gly, maar dis meer pret om dit in ’n groep te doen. Dit rek die pret ’n bietjie uit omdat dit langer gaan duur voor almal klaarmaak.

Kortliks | Fynbos- gasteplaas

Kampterrein 10 staanplekke van verskillende groottes. Koelte by die meeste van hulle.

Ablusiegeriewe ’n Klein ablusieblok met aparte geriewe vir mans en vroue. Dit word deurgaans skoon en netjies gehou.

Prys R140 p.p.p.n. (R70 vir kinders 4-13 jaar; gratis vir o.4’s).

Kontak  072 223 4674;  fynbosguestfarm.co.zapeter@fynbosguestfarm.co.za

Aankoms- en vertrektyd Geen vasgestelde tye nie. Jy kan so vroeg opdaag as wat jy wil, maar moet darem voor donker weer ry.

Hoe lyk die pad? Wanneer jy van die R46 afdraai, is die 1 km grondpad tot by die hek in ’n skaflike toestand. Van hier af tot by die ontvangskantoor is dit nog 700 m.

GPS S33.388504 E19.194580

Weg Ry & Sleep Onthou, die diere op die plaas is voorheen mishandel en verwaarloos. Moet dus nie die kinders sonder toesig by die diere los nie.

Mini Cooper Countryman D

Jy is óf ’n Mini-mens óf jy is nie... Dié vervaardiger het nogal die vermoë om soms die bal mis te slaan, soos met die Paceman- en Roadster-model.

Hoewel die Countryman nog nooit regtig aanloklik was vir die massas nie, is dit tegnies ’n baie gevorderde voertuig. En dit is pret om agter die stuurwiel in te skuif en met hom te gaan speel... iets waarop die maatskappy hom roem.

Hierdie een het die nuwe daktent wat Mini saam met die Italiaanse tentspesialismaatskappy Autohome ontwikkel het. Maar die daktent is ongelukkig nie deur Mini Suid-Afrika beskikbaar nie; as jy dus régtig een wil hê, gaan jy hom al die pad van Europa af moet bestel. Die tent het ’n ingeboude matras, muskietnette, twee deurflappe, twee vensters en ’n LED-ligstaaf wat met batterykrag werk. Hy is 2,1 m lank en 1,3 m breed.

Mini sê hy’t genoeg slaapplek vir twee mense, maar dit kan beknop raak as een van daardie twee langer as 1,7 m is.

Hierdie Countryman se kenmerk is sy sterk en gewillige dieselenjin. En wat brandstofverbruik betref, was hy glad nie dors toe ons die naweek by Tulbagh gaan uitspan het nie. Die prettige instrumentepaneel het ook ’n manier om mettertyd in jou hart te kruip. Dit was egter irriterend dat die Mini se blikbrein die heeltyd die foon vergeet het wat ons gebruik het om musiek oor Bluetooth te speel. Ons moes elke keer wanneer ons ry, die besigheid van voor af met mekaar laat gesels.

SPESIFIKASIES

Enjin 1 995 cc, viersilinder-turbodiesel

Krag 110 kW @ 4 000 r.p.m.

Wringkrag 330 Nm @ 1 750 r.p.m.

Prys R491 900