En ek kan hulle nie kwalik neem nie – normale mense kyk mos voor hulle.

Maar wat het ek daar bo gesien? Windswaels. Die meeste voëls skiet vinnig verby, of vlieg van boom tot boom. Maar windswaels lééf in vlug – hulle kan weke, maande, jare vlieg sonder om te land. Windswaels is die meesters van ons planeet se troposfeer.

Hulle eet, drink, speel, paar en slaap in vlug. Nadat hulle hulle neste die eerste keer verlaat, bly jong Europese windswaels vir tot drie jaar in die lug sonder om te land! Een Europese windswael in Switserland het 21 jaar oud geword en ’n afstand van 4,8 miljoen kilometer gevlieg – dis ses keer maan toe en terug.

Nadat hulle hulle neste die eerste keer verlaat, bly jong Europese windswaels vir tot drie jaar in die lug sonder om te land!

Voëlkykers sukkel om windswaels van swaeltjies te onderskei terwyl hulle tussen die wolke baljaar. Ten spyte van hulle soortgelyke leefstyl en voorkoms, is hierdie twee glad nie verwant nie. Die windswaels se naaste nefies is die Amerikaanse kolibries. Een van die verskille tussen swaeltjies en windswaels is dat laasgenoemde nie op takkies of drade kan sit nie.

Windswaels se voetjies is klein en inmekaargetrek, met skerp kloue, en hulle kan slegs vertikaal klou, soos vlermuise. Om die waarheid te sê, hulle wetenskaplike naam, Apus, beteken “geen voet”.

Een van die probleme van so ’n ondergeskikte onderstel is dat windswaels nie kan land om nesmateriaal te versamel nie. ’n Mens sien mos gereeld swaeltjies wat so skuifel-skuifel langs ’n plas water om mondjies vol modder bymekaar te maak.

Maar as ’n windswael op die grond beland, is dit ’n groot gesukkel om weer in die lug te kom. Dus bou hulle hulle neste met fyn materiaal wat in die lug ronddryf: veertjies, grashalmpies en spinnekopdrade. Dié word alles aan mekaar gemessel met die voël se speeksel as gom.

Hierdie spoeg-en-plaknessies is ’n lekkerny in dele van Asië, waar sop van die nes gekook word. Dié windswaelneste is gesog, en een van die duurste natuurlike produkte op die mark.

’n Vriend in Thailand het my geneem na ’n vierkantige gebou met klein gapings in die mure en luidsprekers op die dak. Dié struktuur word spesifiek gebou om windswaels te lok om te broei, en die neste word dan later geoes.

Kranse en grotte is gunsteling-nesmaakplekke vir windswaels, maar elke spesie het sy voorkeur. Kleinwindswaels gebruik brûe en geboue as mensgemaakte kranse, en broei in groot, raserige kolonies – moet liefs nie onder só ’n kolonie parkeer nie.

Kranse en grotte is gunsteling-nesmaakplekke vir windswaels, maar elke spesie het sy voorkeur.

Witkruiswindswaels broei een-een, en neem gewoonlik ’n swaeltjie se nes oor vir hulle eie kroos. En die twee stekelsterte – wat jy met geluk in die verre noorde naby Pafuri in die Kruger kan raak-loop – broei in hol kremetarte. Die skagte van hulle stertvere steek effens uit; dié pennetjies help hulle om teen die boom se stam te stut.

Maar die interessantse strategie is die palmwindswael s’n. Hulle plak sommer hulle eiertjies aan die onderkant van ’n palmblaar vas. ’n Eeu gelede was dié spesie beperk tot tropiese gebiede waar palms natuurlik groei, maar namate ons ornamentele palms in tuine aangeplant het, het hulle versprei.

Palmwindswaels is nou een van die algemeenste voëlspesies in groot dele van Suid-Afrika en hulle versprei steeds... Die eerste verkenners ondersoek deesdae Kaapstad, en oor nog sowat ’n dekade sal hulle daar ook die suidooster aandurf. Daar is ’n ganse wêreld bo ons koppe. Al wat jy hoef te doen is om op te kyk