Ek was aanvanklik onseker oor die identiteit van dié voël, maar het opgelet dat hy ongewoon breë, buisvormige neusgate het en, vreemd genoeg, twee tone wat vorentoe wys en twee agtertoe.

Die leidraad wat dit weggegee het, was die storie van hoe Oupa die voëltjie gekry het. Hy het gaan ondersoek instel na iets in die dak van sy huis wat nie lekker geruik het nie en ’n hoep-hoepnes gekry. (Hoep-hoepe is berug vir slegte neshigiëne – dis ’n verdedigingsmeganisme om roofdiere weg te hou.) Maar pleks van hoep-hoepkuikens het hy dié outjie gekry.

Die voël was dus beslis ’n nesparasiet, waarvan ’n mens drie families in die land kry: Vidua-vinke, koekoeke en heuningwysers. Ná nog ’n stukkie speurwerk kon ek die voël as ’n jong grootheuningwyser identifiseer.

Soos die meeste mense waarskynlik weet, is heuningwysers bekend vir hulle simbiotiese verhouding met mense, soos aangedui deur die voël se noem- én wetenskaplike naam: Indicator indicator (dit móét die maklikste wetenskaplike naam wees om te onthou!)

Soos die meeste mense waarskynlik weet, is heuningwysers bekend vir hulle simbiotiese verhouding met mense

Om in die bos deur ’n opgewonde heuningwyser tot by ’n byekorf gelei te word is altyd ’n besonderse voëlkykervaring – veral aangesien dit deesdae ’n skaars voorreg is, met ál meer habitats wat in ons moderne wêreld verdwyn.

Die voël maak ’n aanhoudende, deurdringende geluid wat klink soos ’n boksie vuurhoutjies wat geskud word, gewoonlik van ’n uitkykpunt op ’n tak af. As jy nader gaan, vlieg hy tot op die volgende tak en lei jou só tot by die korf. Nou is die transaksie eenvoudig: Jy moet die korf oopmaak, die heuning as beloning vat en die byepapies en was vir jou geveerde vennoot los.

Spesiale ensieme in die voël se dermkanaal verteer die was en sy dik vel bied ’n bietjie beskerming teen bysteke, al is hy beslis nie immuun nie.

Heuningwysers is broeiparasiete en beplan hulle broeityd só dat dit ooreenstem met dié van hulle gashere – hoofsaaklik spesies wat in gate nesmaak, soos houtkappers, draaihalse, visvangers, byvreters, mese, swaeltjies, spegte, spreeus en, natuurlik, hoep-hoepe.

Hulle eiers het dik doppe en broei vinnig uit, waarna ’n grusame toneeltjie in die donker afspeel. Terwyl die jong heuningwyser nog blind en kaal is, skop hy vas en swaai sy kop rond totdat dit ’n gladde oppervlak soos dié van ’n eier of ’n pleegboetie of -sussie kry.

Die kuiken gebruik tydelike hakies op sy snawel om vas te byt en die eier of ander kuiken ’n paar minute lank te skud en só seker te maak hy kry al die sorg en aandag van sy biologiese ouers. Selfs wanneer die jong voël al die nes verlaat het, bedel hy só luidkeels dat die ouerinstink van verbygaande voëls inskop – insluitend dié van sy eie ouers.

Ek het ’n paar jaar later weer aan daai herinnering van my oupa gedink toe ek by my huis in Pretoria aankom en ’n grootheuningwyser op my grasperk kry – aan die bedel by ’n hoep-hoep. Ek het toe al ’n dekade daar gebly en nog nooit voorheen ’n heuningwyser in my tuin gehoor of sien nie.

En toe ek op ’n keer ’n paar dakteëls uithaal om die oorblyfsels van ’n byekorf van my dak te verwyder, het nie minder nie as sewe kleinheuningwysers (Indicator minor – maklik) opgedaag – waarskynlik danksy hulle goeie reuksintuig. Moenie die heuningwyser se agterbaksheid onderskat nie!