By die Mubala Lodge ongeveer 40 km oos van dorp Katima Mulilo in die Zambesistreek. Dis ’n entomoloog se droom.

Maar ornitoloë en ywerige voëlkykers kan ook nader staan, want dié spul insekte lok natuurlik ook voëls. Ja, die wêreld se grootste rooiborsbyvreterbroeikolonie hou hier – sowat 3 000 broeipare!

Hierdie byvreters kom elke jaar rondom 21 Augustus hier aan van Sentraal-Afrika af (dis nou lande soos Gaboen, Tanzanië en die Kongo).

Kort ná hulle aankoms begin die mannetjies en wyfies mekaar beïndruk met hulle lugtoertjies. Só kies hulle ’n maat vir sowat vier maande saam met wie hulle een byvretertjie grootmaak. Nadat die jongeling die nes verlaat, versprei die kolonie na die mopaniewoude in die noorde van die Kalahari en die hele Zambesistreek voordat hulle einde April terugkeer na Sentraal-Afrika vir die winter.

Hierdie byvreters kom elke jaar rondom 21 Augustus hier aan van Sentraal-Afrika af (dis nou lande soos Gaboen, Tanzanië en die Kongo).

Foto: Pompie Burger

Heel eerste moet die jong paartjie blyplek kry. Gelukkig is die meeste van die vorige seisoen se bouvalle nog beskikbaar aan die rivieroewer; gevolglik bestaan bouwerk meestal uit opknappings.

Die hoër klas bou huise met ’n uitsig oor die sandwal van die Zambesirivier (lae digtheid) terwyl die gepeupel op die vlakte (hoë digtheid) bly – sonder ’n uitsig.

Die nesgebied (sowat 50 x 50 m groot) is bedrywig. Die voëls vlieg byna koorsagtig rond tussen hulle jaggebied en die neste met allerlei goggas (bye, perdebye, sonbesies, sprinkane...) in hulle bek vir die kleinding. Sorg dat jy vroegoggend- of aand hier is om die petalje dop te hou.

Byvreters se vyande is slange, likkewane, krokodille en geelbekwoue (hulle doen sowat elke 10 minute die ronde) en die onmisbare homo sapiens – mense vang die voëls met nette wat hulle in die nag oor die neste gooi – die helder vere is gewild in die Ooste.

Gelukkig het die Mubala Lodge saamgespan met die Sikunga-bewarea om ’n sekerheidswag aan te stel, wat betaal moet word met fondse wat reeds beperk is. Ongelukkig moet meer reëls ingestel word omdat al hoe meer mense hierheen reis.

"Byvreters se vyande is slange, likkewane, krokodille en geelbekwoue (hulle doen sowat elke 10 minute die ronde) en die onmisbare homo sapiens."

Uiteindelik sal toeriste seker deur tralies en oor wagte moet klim om die kol te kan besoek. Maar dan moet dit maar so wees, want dié helderrooi voëls in vlug is een van die mooiste tonele in die ganse Afrika – ’n mens hoop jou kinders se kinders sal dit ook nog te siene kan kry.

Weet voor jy waai

Die neste is sowat 3 km wes van die Mubala Lodge op die oewer van die Zambesirivier.

Toegang is R10 p.p.