Hier is 30 staanplekke langs die rivier, en nêrens staan jy verder as 100 m van die water af nie.

Die kampterrein is op drie terrasse uitgelê: Op die boonste twee het die meeste van die staanplekke gras met koeltebome, maar heel onder by die rivier is daar nie bome nie.

Die staanplekke op die onderste twee terrasse is die grootste en ook nommerpas vir jou wa, terwyl die heel boonste een net vir kampeerders met tente is.

Dié staanplekke het elkeen sy eie betonbraaier met ’n rooster, en hier is twee kragpunte wat elk twee huissokke het – onthou jou verlengkoord van 30 m ingeval jy nie naby ’n kragpunt is nie.

Op die tweede terras is plek vir sewe woonwaens. Met gras én koelte is dié staanplekke die beste van almal.

Hier kry jy jou eie betonbraai met ’n rooster, en elke staanplek het ook sy eie kraan. Tussen elke vierde staanplek is ’n kragpunt.

Op die onderste terras het al die staanplekke losstaande braaiers. Agter die derde terras, op met die trappies, is ’n klein ablusieblok ’n goeie 150 m van jou staanplek af.

Aan die manskant is twee toilette, twee storte en ’n wasbak.

Die storthokkies maak nie met ’n deur toe nie; daar is net ’n stortgordyn tussen jou en die oop vertrek.

Woelwaters het ekstra grond bygekry en strek nou 400 m langs die rivieroewer af vergeleke met die 100 m van voorheen.

Hier is ook ’n nuwe badkamer op die oord aangebou waar mans en vroue toegang het tot vier private badkamers, én hier is ’n aparte badkamer met rolstoelvriendelike geriewe.

Die kantoor en winkel is aan die bo-punt van die oord. Hier kan jy basiese proviand koop, en as jou twee tieners mekaar oor ’n pool-tafel die stryd wil aansê, kan hulle hier aantree.

Dit werk met R5-munte. Die twee verhitte onderdakswembaddens – waarvan die een ook ’n nuwe toevoeging is – is oorkant die kantoor, elk in sy eie vertrek met ’n deurgang tussen die twee.

In die somermaande kan jy in die koue swemband voor die kantoor gaan afkoel terwyl die kinders op die glyplank baljaar. Jy kan ook ’n setstok by die ontvangskantoor gaan kry vir die minigholfbaan.

Hengel is egter die ding by Woelwaters, veral met die verlengde oewer. Voorheen was dit danksy die stroomversnellings net die plek vir vlieghengelaars, maar hengelaars vir die dieper water het nou ook ’n beter kans.

Jy het nou ook toegang tot ’n sandbank waar jy ordentlike karp en baber kan haak.

Rak toe

Bêreplek vir visstokke kan maklik ’n kopseer raak, en as jy dit nie ordentlik bêre nie, kan jou stokke verniel. Jy wil die stokke nie op mekaar stapel of regop teen mekaar laat staan nie, want die katrolle kan teen mekaar stamp, en as daar nog ’n hoek aan die lyn is, kan dit verstrengel raak met die ander visstokke.

En moenie vergeet van daardie delikate puntjies nie. ’n Goeie oplossing is ’n horisontale plastiekrak wat spesiaal vir visstokke gemaak is.

Die rak lyk soos die twee steunarms van ’n boekrak, maar pleks van die blad is daar drie kepe waarin drie stokke met hulle katrolle kan lê.

Jy kan enige van die drie stokke maklik uithaal, en die lengte van jou stokke bepaal hoe ver jy die twee steunarms van mekaar af moet vassit.

Prys R109 per stel (skroewe ingesluit). Beskikbaar in hengelwinkels landwyd – ook in Namibië.

Kontak catches@4adrenalin.co.za; adrenalinfishing.co.za

Kortliks

Vis Geelvis, karp en baber.

Kampplek 30 staanplekke, die meeste met gras, sommige met koelte.

Ablusiegeriewe 1 klein ouer gebou, plus nuwe geriewe met private badkamers.

Prys Afhangend van die seisoen en dag van die week R280-R480 p.n. per staanplek vir tot 4 mense. Daarna R100-R120 p.p., maksimum 6 mense (gratis vir kinders o.2). Jy betaal ook ’n administrasietarief van R75.

Aankoms- en vertrektyd 12:00 en tot 20:30.

Kontak 066 228 2830; info@woelwatersresort.co.za; woelwatersresort.co.za

Naaste dorp Parys 28 km.

Hoe lyk die pad? Teerpad tot hier. GPS S26.776556 E27.575289

Ry & Sleep sê Net voor die Paastyd is hier ’n baber van 18 kg uitgetrek, en teen die langnaweek was die lysie ook ’n 8 kg-karp en ’n geelvis van 1,8 kg ryker.

/

SNOEK MET KNOFFELBOTTER EN TAMATIE-EN-RISSIEKONFYT

Resep Johané Neilson | Foto Ed O’Riley

Snoek met ’n byt

Dié soet bottersous is ’n variasie op die klassieke appelkooskonfyt-wenresep.

Jy benodig (genoeg vir 4)

  • ½ koppie knoffelbotter, gesmelt
  • 2 eetlepels tamatie-en-rissie-konfyt
  • 1 suurlemoen
  • kookolie om aan die rooster te verf
  • 1 vars snoek van minstens 1,7 kg, gevlek

Só maak jy

1 Roer die knoffelbotter en konfyt saam. Proe en geur dit na smaak met die suurlemoensap en gerasperde suurlemoenskil.

2 Verf die binnekant van die toeknyprooster met olie sodat die snoek nie vassit nie. Sit die vis met die velkant na onder op die rooster en verf die vis ruimskoots met die soet bottersous.

3 Braai die vis oor matige kole tot dit begin gaar word – die vleis sal plek-plek witter lyk. Dit neem tussen 7-10 minute, afhangend van hoe warm die kole is. Draai die rooster een keer om sodat die bokant kleur kan kry en die vis deurgaar kan word.

4 Draai die rooster ’n laaste keer om en verf die vis weer mildelik met die sous. Toets ’n dik stukkie van die vis: as dit vlok, is dit gereed. Sit die gereg voor met gebraaide patatskyfies.

Ry & Sleep sê Kry die knoffelbotter vooraf gereed, dan hoef jy nie met vars pietersielie te sukkel by die kampplek nie. En gebruik die sout en peper oordeelkundig – onthou, régte botter is heerlik soutig!