Baie van ons vereenselwig kamp net met sekere maande van die jaar. Dis omdat dit bloot onplesierig is om tussen November en Januarie aan die Wes-Kaapse kus te kamp, want dan doen die Suidooster sy bes om jou tent weg te waai.

En as jy tussen Junie en Augustus in die Hoëveld uitspan, is die kans goed jy gaan in temperature onder die vriespunt kamp.

Dit hoef nie so te wees nie, en as jy die natuur se voorbeeld volg, kan jy steeds in die wintermaande jou wa pak en gaan uitspan. Kyk byvoorbeeld hoe die Swaeltjies dinge doen. Dié klub, waarvoor jy minstens 50 jaar oud moet wees, het die gedrag van die gelyknamige voëls aangeneem en vlug na warmer streke wanneer die kwik begin daal.

Die Swaeltjies het lede reg oor Suid-Afrika en mik in die winter veral na twee oorde: Forever Tshipise en die ATKV-Eiland-spa.

Ons het met Jan van Zyl, voorsitter van die Swaeltjies se Tshipise-tak, gesels oor hoe hulle die son in die winter jaag. Ander gewilde bestemmings is die deel tussen die KwaZulu-Natalse kus en Mosselbaai in die Wes-Kaap.

Jan is van Reitz in die Vrystaat. Hy sê in daardie geweste raak dit heeltemal te koud in die winter, met die temperatuur wat lag-lag tot onder die vriespunt daal. “Meer as 60% van die klublede speel rolbal of jukskei, en dít help ook om die bloed deur jou are te laat pomp wanneer die weer nie wil saamspeel nie. Ons bied selfs toernooie aan – kompleet met groot borge.” D

ie warmwaterbron by Thsipise en Eiland-spa is natuurlik ’n ander groot rede hoekom dit so gewild is onder die Swaeltjies.

Ons het ons Facebook-vriende gevra hoe hulle in die wintermaande kamp.

Antoinette Schoeman: Nes die swaeltjies los ons die ysige Vrystaat agter en kies vir drie maande koers na die Eiland-spa.

Daarna gaan span ons in die Krugerwildtuin uit. Ons is heel gemaklik met ’n winterkamp en dis regtig net onhoudbaar koud wanneer dit reën. Ons sal die kamplewe vir niks verruil nie.

Johan Nieman: Solank daar elektrisiteit in die kampterrein is, skrik ons nie vir die winter nie – dís hoekom ’n mens ’n verwarmer het. In die somermaande kom ons sonder elektrisiteit klaar.

Eunice Momberg Dry: Ons mik in Richardsbaai se rigting in die winter. Dis pragtig daar.

Juandre Wallace: Dit is ’n bietjie moeilik met kinders in die winter, omdat hulle so maklik verkoue kry. Maar voor ons kinders gehad het, het ons selfs in die koue gekamp. Ek wag net dat my kinders  ’n bietjie ouer is, dan sal ons dit weer geniet.

Felicity Beukes: Ek stem saam met Juandre: Dit is moeilik met klein kindertjies, maar ’n mens kan hulle darem in ’n badjie in die woonwa bad. Dis wanneer hulle in die winter wil swem dat dinge moeilik raak.

Ronel Coetzer Blanche: Ons kamp in enige weer en skrik nie vir die koue nie.

Willie Brand: Ons kamp graag in die winter en sit voor ’n warm kampvuur of gebruik ’n verwarmertjie in die woonwa. Ons skakel hom ’n rukkie voor ons gaan inkruip, aan om dit lekker warm te maak daarbinne, en skakel hom af voor ons slaap.

Nadine Henning: My ma verjaar in die winter en dít is wanneer ons gaan kamp. Maar dan moet daar warmwaterswembaddens én elke aand ’n groot kampvuur wees.

Wat om in die winter te verwag

Bloemfontein

Die son skyn dalk bedags, maar dit beteken nie noodwendig hoë temperature nie. Snags kan die kwik maklik tot onder die vriespunt daal.

Johannesburg

Gautengse winters is oor die algemeen droog en sonnig, met yskoue temperature snags. Die een voordeel as jy in die koue maande hier kamp, is dat dit baie onwaarskynlik is dat jy gaan natreën.

Kaapstad

Hoewel die stad tot onlangs nog ’n erge droogte ervaar het, reën dit in die winter oor die algemeen baie meer hier as in die res van die land. Die wind kan ook pla as jy nie daaraan gewoond is nie, en die koue see kan vir baie mis sorg.

Durban

Daar is ’n goeie rede hoekom so baie mense in die winter koers kies na KwaZulu- Natal se Noord- en Suidkus. Jy loop in die middel van Julie met jou kortbroek en plakkies rond én kan in die see swem.

Mbombela

Hierdie streek spog waarskynlik met die beste weer regdeur die jaar, met temperature wat nie verspot warm raak in die somer nie, maar in die winter heel matig is.

Polokwane

Limpopo se wintersdae is oor die algemeen sonnig, maar baie matiger as byvoorbeeld die Vrystaat. Hier is ’n kans op reën in die winter, maar dis gewoonlik net ’n bui of twee en hou nie vir dae aan nie.

Kampboffin
Kampboffin