Vir die Fynbosstaproete moet ’n mens jou hand ’n bietjie dieper as gewoonlik in jou sak steek. Dis ’n slenterstap dié, dus swaai jy net elke oggend ’n dagsak oor die skouer terwyl jou bagasie na die volgende slaapplek aangery word en die personeel selfs vir jou aandete maak. En jy hoef nie eers middagete saam te dra nie – dié word ook langs die roete voorsien. Dit is ’n begeleide stap. (Jy kan geld spaar deur sonder ’n gids te stap en die selfsorgopsie te kies, sien inligting onder-aan.)

Sean Privett en die span gidse is wandelende ensiklopedieë van alles wat met fynbos te doen het. Híér is meer as 800 spesies fynbos langs voetslaanroete en die 26 km lange roete vat drie dae. Jy verken die heuwels en valleie van die Grootbos-natuurreservaat met die see in die agtergrond die heuwels en valleie van die Grootbosnatuurreservaat verken.

Die melkhoutboomwoude, watervalle en en bergstrome langs die roete maak die roete spesiaal, maar dit is die klein dingetjies wat dit régtig die moeite werd maak. Ons het by elke blommetjie en insek stilgestaan – elkeen met ’n unieke storie. Ek het saam met Sean gestap en ek kon hom nie een keer met ’n vraag uitboul nie. 

Hoe werk dit? Die roete is 26 km lank en strek oor drie dae. Jy kan dit ook sonder ’n gids stap en self jou bagasie saampiekel, en net een van die drie dae stap as jy wil. 


Hoe moeilik is dit? Eintlik glad nie. Een steilte sal die onfikses dalk ’n bietjie miltsteek gee, maar verder is dit ’n gemaklike roete.

Die beste tyd om te stap? Daar is heel jaar blomme, maar die meeste (insluitend die speldekussings) blom in die lente.

Hoe lyk die blypplekke? Die verblyf by Fynbos Retreat en Witkloof is netjies. Jy hoef jou glad nie oor kos of beddegoed te bekommer nie.

Wat kos dit? R3 250 p.p. vir die volledige paket oor ’n naweek. In die week kos dit R3 050 p.p.  As jy sonder ’n gids stap, kos dit R2 650 p.p. oor naweke en R2 450 tydens die week. Om nog geld te spaar, kan jy die selfsorgopsie kies teen R980 p.p. (Hierdie pryse is geldig tot 1 Maart 2018)

Waar los ek my kar? Die parkeerplek by Growing The Future is veilig. Ná middagete op dag 3 bring hulle jou terug tot by jou voertuig. 

Waar bespreek ek? Kontak vir Nina: 079 466 5748, info@fynbostrail.co.za.

Nog inligting: www.fynbostrail.com.