Elke goeie storie het ’n mate van konflik, maar dis gewoonlik nie sommer in die eerste paragraaf van die eerste hoofstuk nie. Hierdie is egter ’n reis-storie wat in Kaapstad die middag voor ’n openbare vakansiedag begin, so ek moes geweet het ek gaan bitter stadig uit die blokke kom.

Verkeer is die antagonis in hierdie verhaal en hier sit ek nou, blokvas op die N2 (want die N1 is nóg erger) in ’n see van karre. Dis raserig, ons het nie ’n radio nie en ek stik aan uitlaatgasse deur my oop venster, want die ou VW Golf waarmee ons ry het nie aircon nie en buitendien hou hy van oorverhit in hierdie kruipverkeer.

Ek het 40 minute gelede uit Tamboerskloof weggetrek, maar in die truspieël kan ek nog vir Leeukop sien.

Daar is seker ’n tikkie ironie aan haastig wees wanneer jy oppad is om te gaan ontspan, maar jou tyd is immers ’n kommoditeit as jy in die stad woon en ek voel ek raak ál armer. 

’n Aangename verrassing

Toe CapeNature my die dag voor Menseregtedag in Maart nooi om te gaan kyk hoe lyk die Vrolijkheid-natuurreservaat buite Robertson, kon die tydsberekening nie beter gewees het nie.

My meisie, Sam, kry weinig kans om saam met my te reis omdat sy ’n “gewone” werk het, maar môre is ’n publieke vakansiedag en sy kan dus saam.

Toe CapeNature my die dag voor Menseregtedag in Maart nooi om te gaan kyk hoe lyk die Vrolijkheid natuurreservaat buite Robertson, kon die tydsberekening nie beter gewees het nie.

Sy reël om vroeër klaar te maak en ek pak solank die kar en teen 4 uur is ons op pad vir ’n lekker vinnige twee ure trippie Robertson toe. Of so het ons gedink, maar vind toe spoedig uit ons storie se eerste hoofstuk is ’n lang, vervelige en frustrerende  een ...

Gelukkig is hierdie storie nie oor verkeer nie, al het ek begin dink ons sal nooit uit die stad uit kom nie en ek en Sam maar ons vorige lewens vaarwel sal moet roep en ’n nuwe lewe op die N2 begin.

“Ons kan vryskut uit die kar werk deur vir Kfm die verkeersverslae te doen, ons kan braai op die enjinkap wat oorverhit, kinders op die agtersitplek grootmaak en die dag as ons te oud raak vir verder ry, haal ons net die kar uit rat uit en free in die geel lyn in, off into the sunset ... ” sê ek. Ek kry ’n kyk wat sê ek moet eerder my gedagtes by bestuur bepaal.

Kwart voor agt hardloop ons by die Checkers in die Mountain Mill Mall in Worcester in en die sekuriteitswag maak die deur agter ons toe, want dis amper toemaaktyd. Nogsteeds gedruk vir tyd, dink ek, terwyl ek esse kap met die trollie deur die rakke soos ek hardloop om braaivleis, hout, Blitz en peuselgoed vir vanaand en môre op te raap. Sam kom uitasem terug met ’n sespak bier wat sy op die nippertjie by die drankwinkel kon kry. Ek is meteens bitter trots op haar.

Uiteindelik stilte en rus (en ’n swembad!)

Ek het vroeër die middag vooruit gebel om te laat weet ons sal laat wees, en die reservaatbestuurder het vir my ’n kode gegee vir ’n sleutelboks langs die ingangshek na Vrolijkheid. En die oomblik toe ons deur daardie hek ry, ná amper 5 ure op die pad, val al die dag se opgegaarde frustrasies meteens weg.

Dis doodstil, rustig, en dit lyk asof dit net ons en een ander motor met GP-nommerplate in die hele plek is. Ook maar goed, want ek is in elk geval nog so half kwaad vir die hele Kaapstad.

Ons huis, Ichelesi, is die tweede eenheid in ’n ry van vyf wat lekker ver van mekaar staan.

Dis ’n dubbelverdieping met vier kamers en ons giggel vir mekaar oor dié fancy plek, want ons bly in knap woonstelle en as ons natuurreservate besoek slaap ons gewoonlik in ’n tweemantentjie.

Ek het op die webtuiste gelees dat van die huise jacuzzi’s het en verken elke hoek, maar ontdek helaas nie dié luuksheid nie. Maar toe ek die buitelig by die braai in die agterplaas aanskakel, glinster ’n swembad langsaan.

Put-put nostalgie en leë damme

Die volgende dag het ons niks wat ons jaag nie, maar is nogtans vroeg op om die meeste van ons tydjie hier te maak. Ek blaai deur die inligtingsboek in die sitkamer en beraam planne vir die dag terwyl Sam toebroodjies maak.

Ek sien daar is drie dagroetes in die reservaat. Die Heron-roete is ’n kort 3 km stappie na twee damme met voëlskuilings. Die eerste kilometer daarvan oorvleuel met die Braille Trail, ’n nuwe roete vir blindes.

Dan is daar die 19 km-lange Rooikatroete en die 14 km Boesmanskloof-roete tussen Greyton en McGregor. Laasgenoemde is ’n punt-tot-punt roete, dus moet jy vervoer reël om jou af te laai en te kom haal. Dit gaan lol met net twee van ons, so ons besluit om te gaan kyk hoe lyk die Heron en die Rooikat. 

Terwyl ons opruim en die kar pak, ontdek ek ’n stel tennisrakkette en twee put-put stokke in die sitkamer. “Daar is ’n baan hier buite,” sê Sam. Ek en sy het mekaar ontmoet op ’n put-put baan (’n storie vir ’n ander dag...), dus is ’n vinnige rondetjie voor ons gaan stap in orde. Sy wen weer, nes daardie eerste keer.

Ons ry oor die pad na die oostelike deel van die park waar die piekniekplek, staproetes en damme is. Hier is g'n mens nie, maar die hek is nie gesluit nie en in 'n houthutjie langs die parkeerarea is 'n permitboek wat ons self invul.

Teen die mure is daar plakkate oor skerpioene, slange en "die wie’s wie van Wes-Kaapse skilpaaie". Daar is ook roetekaarte, ’n fotostaat-boekie oor die park se plante en ’n lys van voëls. 

Op ’n stappie in die veld

Ons besluit om eerste die Heron te doen. Dis ’n baie netjies uitgemerkte roete met verskeie inligtingsbordjies oor die fauna en flora. Elke bord het ook ’n Braille-inskrywing. Dis iets wat ek nog nie voorheen in ’n park gesien het nie.

Dit beïndruk my en maak my aandagtig op my ander sintue – die klanke, reuke en teksture van die veld romdom my. Daar is ook ’n voëlskuiling ’n entjie verder op die Heron-roete wat rolstoel-vriendelik is.

By die eerste dam en voëlskuiling gekom, sien ons dat die dam dolleeg is. Dis net riete wat dans in die wind langs ’n gekraakte bruin ovaal. Dis jammer, want dit lyk na die ideale plek om watervoëls dop te hou. 

Ook die tweede dam is leeg en ons kan nie veel vanuit die voëlskuiling (die rolstoel-vriendelike een) sien nie. Inteendeel, behalwe vir ’n koei tussen die twee skuilings het ons nog nie enige wild gesien behalwe ’n bosduif of twee nie.

Ons teoretiseer hieroor, maar is nie seker of dit die weer of die vakansiedag is nie. Daar is wel wild soos klipspringers, ribbokke, springbokke, ystervarke, skilpaaie en minstens 175 voëlspesies iewers in die veld. Miskien respekteer hulle net ons privaatheid.

Aan die einde van die Heron verdwaal ons eers ’n bietjie en vind dan ’n grondpad wat ons na die Rooikat-roete lei. Die hele roete neem 7 tot 8 ure, en daarvoor het ons nie tyd nie, so ons besluit om net ’n gedeelte te doen.

Hierdie is ’n taaier sirkelroete wat om ’n deel van die Elandsberge kronkel met skitterende uitsigte oor die Langeberge en Riviersonderendberge. Die brosjure waarsku oor somerhitte, maar vandag is dit bewolk en matig (ons sal later met rooi gebrande nekke besef die son byt deur daai wolke) en ons loop teen ’n lekker pas tot by die 542 m-hoë Kanonkop.

Hier gaan sit ons op ’n rots vir middagete en bekyk die wêreld om ons. Dis die saligheid self, die antitese van die stadslewe waarin ons 24 uur gelede gesit het. 

Wanneer ons nou omdraai en weer berg-af stap kar toe begin die huiswaartse reis, maar my batterye is nou herlaai en ek het nie meer verkeer-angs nie. Ek besef dis alles die moeite werd.

’n Mens moenie hierdie kleiner reservate miskyk of vlak kyk nie. Hulle het soms meer waarde vir die siel as die groter, meer bekende CapeNature reservate, juis omdat hulle soveel minder mense op ’n slag lok. Dis nie altyd lekker om op dieselfde tyd na dieselfde plek as ’n horde ander mense te gaan nie. Vra maar vir daai klomp op die N2.

Ek wil ook gaan

Dagbesoekers is welkom. Die staproetes, inligtingskantoor en piekniekarea is oorkant die pad van die ontvangskantoor en selfsorghuise, en het ’n aparte ingangshek.

As jy voor- of na-ure of op vakansiedae wil kom stap, piekniek hou of die voëlskuilings wil besoek, maak seker jy vul ’n toegangspermit by die houthut in by die ingang na die reservaat. Jy betaal ook die bewaringsfooi, R40 vir volwassenes en R20 vir kinders, binne-in die hutjie op ’n eerlikheidstelsel. 

Daar is ’n piekniekplek onder skadubome met braaiplekke, maar jy sal hout en al jou eet- en drinkgoed moet saambring want die naaste winkels is in Robertson.

• Vrolijkheid het vyf selfsorghuise wat tot 8 mense elk kan huisves in vier kamers, twee met dubbelbeddens en twee met enkelbeddens.

Die kombuise is goed toegerus met breekgoed en eetgerei, so jy hoef nie elke aand te braai nie! Daar is ook ’n yskas, stoof, mikrogolf, broodrooster en ketel en daar is beddegoed en handdoeke.

Al die huise het ’n kaggel binne en ’n buitebraai met ’n rooster, maar jy moet jou eie hout bring. Ichelesi het ’n swembad en as jy in Luiperd of Rooikat bly, het jy ’n jacuzzi!

Die Ichelesi, Rooikat en Luiperd huise kos R1200 per nag vir die eerste 6 mense (R1990 in spitsseisoen) Die ander twee huise, Bakoorvos en Silwervos, kos R1000 vir die eerste 6 mense (R1600 in spitsseisoen).

As jy nie ’n Wild Card het nie, moet jy ook ’n daaglikse bewaringsfooi van R40 per volwassene en R20 per kind betaal.

Hoe kom ek daar?

Die reservaat lê 14 km suid van Robertson. Draai uit Voortrekkerstraat buite die dorp op die McGregor-pad (oorkant Reitzstraat) en ná 10 minute sal jy die bord vir Vrolijkheid natuurreservaat langs die pad sien.

Vir meer inligting en besprekings, klik hier