Ek het ’n voëltjie hoor fluit oor die uitgebreide netwerk van staproetes en -basiskampe tussen eNtokozweni (Machadodorp) en eManzana (Badplaas) in Mpumalanga. Noem-noem, High Five, Mount Komati, Oom Paul, Bloutrein, Bermanzi, noem maar op... Een van die beste maniere om die Skurweberg in die verre noordooste van die Drakensberg te ervaar is op die High Five-oornagroete (voorheen die Noem-noem-roete).

Ek en my man, Hancu, het die roete twee keer in een jaar gestap én ’n paar van die dagroetes. Op dié roetes stap jy in die wind op die Hoëveldse eskarp, klim oor die rand, kronkel deur klipdoolhowe, vleg deur die gras en staan gereeld in die skadu van woudreuse.

Die kok-kok van die bloukuifloerie volg jou dwarsdeur die bos. Die gladde boomwortels dwing jou oë afwaarts, maar uit die hoek van jou oog flits rooi vlerke van tak tot tak. Bo die roesbruin berghange sweef ’n kransaasvoël hoog bo jou kop. Langs die Komatirivier tree jy weer suutjies oor nat klippe. Jy moet jou ore spits om die bruinkopvisvanger te hoor; daai klee-klee-klee ding mee met die gedruis van water. Ja-nee, jy hoor beslis voëltjies fluit op die High Five!

DAG 1: 8,6 km (sowat 4½ uur), King’s Highway

Die hange waarlangs die King’s Highway-roete loop, verander dramaties van seisoen tot seisoen. Ná die somerreën word die oranje veld en bruin alwyne groen met spatsels pienk proteas.

Mount Komati na Candlewood

Ons vertrek laatoggend uit Mbombela (Nelspruit) en kom net ná 12 vm. by die Mount Komati-basiskamp aan. Ons moet dadelik begin stap, want Pieta Wessels van Escarp Hiking Trails het gewaarsku dis sowat ses tot sewe uur se stap vandag.

Ons moes eintlik al gister gekom het, want dis ’n mooi kamp en die Komatirivier vloei hier verby.

Ons spring weg op die King’s Highway langs die rivier, hop oor klippe en beweeg dan deur grasveld en stukkies bos, teen die voue van die berg op. Sowat 45 minute later loop ons deur ’n klipkraal versteek tussen bome. Hierna kronkel die pad geleidelik langs die kruin tot bo.

As jy omkyk, sien jy hoe die Komati deur die vallei draai. Ons sien ook hoe aalwyne aan die droë, suidelike hang van die berg groei en hoe suikerbossies die natter, noordelike hange verkies. In die somer pronk die suikerbossies maroenpienk. In die winter is die aalwyne weer geklee in hulle oranje gewaad – op hulle heel mooiste in Mei.

Op die platorand keer ’n kol struike en bome die wind af; die ideale halfpadpunt vir ’n blaaskans. Vyf tot tien minute verder steek ons ’n stroompie oor; hier is ’n bordjie met drie pyltjies: Ons volg die aanwysings vir HF CW (High Five, Candlewood) en hou links, stroomop.

Die res van die roete is taamlik gelyk en kort-kort vergesel ’n trop blouwildebeeste of sebras ons oor die vlaktes. Jy loop verby Veewagterspos (die klipstapel wat ’n grot vorm staan al van die Anglo-Boereoorlog af) tot by Treasure Stones (waar die rotsformasies soos wolkekrabbers bo ’n mens uittoring) en deur ’n stukkie woud wat in ’n rotsskeur floreer (hier groei ’n paar reuse, onder meer ’n stokou geelhoutboom).

Die roete begin daal en jy sien die Uitkomst-waterval in die verte – dis waar die Candlewood-kamp lê, maar hokaai voordat jy opgewonde raak. Die pad daal eers al langs waterstrome die kloof in en weer uit voor jy by die kampie op die lip van die platorand aankom.

Die hout-en-sinkhutjies klou aan die rand van die eskarp en kyk uit oor ’n diep kloof met loodregte kranse. Die Uitkomstwaterval se dun wit sliert hang 85 m teen die skeur af.

’n Mens voel onbeskut by Candlewood, maar dis deel van die kamp se bekoring – hier waar ons op die houtdek sit met ’n glasie sjerrie in die hand voel jy deel van die landskap.

In die winter waai hier ’n ysige wind; om buite te stort voel soos ’n extreme sport – dele van die waterval vries soms in die winter! En in die somer lewer die donderstorms ’n vuurwerkvertoning wat snags die hele vallei belig. Wie’ t nou Showmax nodig?

Op dag een reeds sien stappers ’n groot geelhoutboom in een van die skeure.
’n Veewagterspos wat tydens die Anglo-Boereoorlog gestig is.
Ons noem-noem dit High Five

Die Noem-noem-roete het in 2010 oopgemaak toe drie plase ’n vyfdagstaproete in die Skurweberg geskep het.

Mettertyd het van die blyplek onderhoud begin verg, en stappers het soms die paaie byster geraak. In Augustus 2018 koop Pieta Wessels se familie een van die plase, knap dinge op, stig Escarp Hiking Trails en die High Five-roete sien die lig.

Twee van die Noem-noem-kampe – Wathaba en Bermanzi – word nou afsonderlik as stap-basiskampe bestuur.

Daar is wel oornagroetes tussen dié twee en van die High Five-kampe.

Aloe Kaya (oorspronklik God’s Window), Candlewood en Pongola Express is steeds deel van High Five. Mount Komati het bygekom as ’n vierde oornagkamp. Van dié kampe bied dagstaproetes.

Die Uitkomstwaterval wat van die dek by die Candlewood-kamp af gesien kan word.

G’n uitkomst

Dis sowat 20 minute se stap van Candlewood na die Uitkomstwaterval – dit staan ook bekend as Bride’s Leap Waterfall. Die naam kom van Kootjie van den Heever se boek Die Waters Roep en die storie loop dat die wind ’n bruid hier afgewaai het – op haar troudag!

Dag 2: 6,3 km (sowat 4 uur), Pom Pon Way

Met die afdaal na Pongola Express het stappers ’n onbelemmerde uitsig van die Skurwebergpas wat teen die berg af na die Vygeboomdam lei.

Candlewood na Pongola Express

Die volgende oggend giggel ons in die kombuis oor die wasbak se instruksies. Die een kraan lees “hot” en die ander “no hot”. Een van die stappers vertel hoe sy no hot gekry het gisteraand; volgende keer bring ons meer komberse saam.

Ons stap in die rigting van die waterval en draai 10 minute later regs tussen die klippe in, op pad Aalwyntuin toe. Rondom ons hang die aalwyne aan kwartsietrotsformasies – die oranje blomme verfraai die klippe wat hóóg uitstrek. Sowat 20 minute later loop die paadjie tot by ’n tweespoorpad, en ’n paar treë verder by ’n aanwysingsbord Pongola toe.

Die paadjie kronkel al langs ’n lip met ’n uitsig oor die Skurwebergpas en daal dan kloof in tot ons uiteindelik aan die voet van ’n krans vasklou. “Danger/Pasop” lees die bord. Só hou ons aan om dieper in die kloof met ’n houtleer af te klouter tot by die Khulu-kiepersol – ’n gepaste naam, want khulu beteken groots in Zoeloe.

Ons beweeg geleidelik uit die bos uit, maar ’n uur later is ons weer in ’n woud en stap tot by Gentlemen Open The Door – ’n boom wat deur ’n verroeste kardeur groei. “Iemand het te veel gepak,” spot Hancu, en gly versigtig verby. Dit voel asof die natuur jou waarsku... sit net lank genoeg stil en die bome sal jou toegroei.

Ons klim weer tot by ’n kristalhelder bergstroom wat mens kloofop lei met houtlere. Die laaste en langste leer spoeg jou by die woud uit – dié plek se naam is Albert’s Tumble. Op die bordjie staan: ‘Albert Bossert, the trail builder, fell here in 2006 and broke…’. Ons groep wonder wat Albert hier gebreek het – ’n been, arm of hopelik net sy stapstok? (Later sou ons uitvind hy het sy voet gebreek.)

Dis ’n halfuur tot by Pongola Express en die roete daal nou na die R541. Jy steek die teerpad oor (wees gerus, dis nie ’n besige pad nie) en regs van Wathaba Hiking Trails se ingang volg jy die voetslaanpad vallei af. Die laaste paar treë is al langs ’n kabbelende stroom tot by Pongola se twee statige treintrokke. Die waens dateer uit 1911. Dit voel skoon asof ’n aandrok of ’n deftige pak hier gepas sal wees.

’n Ou aandetespyskaart hang teen die muur; ’n sesgangmaaltyd met koffie of tee kos net R3,12. “Bestel ’n goeie wyn om aan ’n goeie ete reg te laat geskied,” raai dit aan. Gelukkig het ons oorgenoeg wyn saamgebring – dankie tog vir ’n slenterstaproete!

Wat sê die mense?

Marle Coertzen, sielkundige

“Die roete verg matige inspanning. Die sowat 8 km op en af per dag is haalbaar, en kinders van 10 jaar en ouer sal saam kan loop.

“Aloe Kaya is my gunsteling vanweë die ligging, en dan Candlewood oor die mooi uitsig.”

Philip Simpson, boer

“Of jy nou saam of sonder kinders stap, sal ek jou aanraai om die slenterstapopsie te kies – die prys is sowaar billik! Ma en Pa hoef net die kinders se padkos aan te dra en jy kan meer bestanddele vir jou etes inpak.

My gunstelingdele van die roete is waar jy langs water loop, en dis baie! Die watervalle by Candlewood en Pongola Express is asemrowend, en om in die dam by Aloe Kaya te kan swem was besonders.”

Albert Bossert, staproetebouer

“Die omgewing bied ’n groot verskeidenheid. Jy sien die Uitkomstwaterval – die naashoogste in die Laeveld – en loop deur sandsteendoolhowe en inheemse woude, met mooi uitsigte en besonderse klipformasies. Daar is ’n verrassing om elke hoek en draai.”

Dag 3: 7,5 km (sowat 3½ uur), Bergbasroete

Hancu Louw klouter deur die Passage Steps op die Bergbasroete.
Die Pongola Express se eetwa dateer uit 1911.
’n Hoogtepunt by die Aloe Kaya is die buitestorte.
’n Mens sien vele aalwyne op die Hell’s Bells-sirkelroete (8 km).
Die Crossberry- en Nanaberry-hut tussen kwartsietrotse by Aloe Kaya.

Pongola Express na Aloe Kaya

Met die wegspring na Aloe Kaya stap ons terug na die R541 en klim weer ’n kloof uit plato toe. Ons stap by ’n groot klipkraal verby en volg ’n stroompie op na sy oorsprong.

Ons loop aan die linkerwand van die vallei. Onder in die vou sien jy ’n huis, groentetuin en boerbokke wat wei. Dis Percy Nkosi se plek. Hy is die opsigter van die Pongola Express. Percy het in die omgewing grootgeword en kan die staproete toe oë hardloop (ja, hy het al deelgeneem aan die Num-Num Challenge, ’n 32km-veldwedloop).

Na die Last Water-bord (die fontein wat Percy se tuin voed) klim jy vir ’n halfuur tot by die Passage Steps; hier klouter ons deur ’n smal klipgang in die bos, bo-oor die klippe en tot op die plato.

Ons volg versigtig die berghelling se rand (mooi loop – jy val ver as jy hier struikel) en beweeg saam met die Skurwebergpas in Badplaas se rigting. Nes ons dink die roete raak maklik, daal ons weer by ’n stywe helling af.

Onder in ’n stukkie inheemse woud hoor ons ’n gehyg. “Wie sukkel so?” vra iemand . Ons staan tjoepstil en hou asem op, maar hoor steeds ’n spookagtige geluid. Bo in die bome raas twee bloukuifloeries met ons – dis immers húlle bos! Vir ’n uur en ’n half beweeg jy styf teen die krans se voet verby en klim op en af deur lappies woud tot by die aanwysingsbord na Aloe Kaya en die Hell’s Bells-dagstap. 

Vir die laaste 20 minute kronkel die pad deur kwartsietrotse. Laf gestap speel ons die sand is warm lawa, en klouter of spring van klip na klip tot by die kamp.

Ons gooi ons sakke neer en sluk gou-gou middagete af; daar wag iets meer opwindend as kaassmeer en crackers... ’n Kort wandeling van Aloe Kaya af lê ’n dam. Hier is ’n hand vol foreldamme op die plaas, maar Pieta hou dié een as ’n plonspoel vir stappers.

Die water is silwerskoon en dit voel asof jy in ’n bergmeer iewers in Switserland swem – dis ysig! Net die regte raad vir lam en tam bene. Ons spoor mekaar aan, spring in, vlieg uit en drentel terug kamp toe. Vanaand braai ons onder die sterre met rotsreuse wat rondom ons saamdrom.

Dag 4 : 8 km (sowat 4 uur), Queen’s Highway

By die Drukkies-en-soentjiesboom word stappers gevra om die ou boom te respekteer deur nie aan die takke te hang nie, maar “drukkies en soentjies” is welkom. Agter bruis die Komatirivier verby wat ná goeie donderstorms sorg vir opwindende stroomversnellings – hier is ’n binneband!

Aloe Kaya na Mount Komati

Ons het ietwat laat sterre gekyk gisteraand. Om wakker te word slurp ek aan ’n sterk koppie boeretroos en drentel stort toe. Die buitestorte (of “open air canyon showers”) skuil in ’n smal rotsskeur naby die kombuis. Ek voel soos ’n bos-nimf onder ’n waterval, maar hierdie stroom is heerlik warm.

Aangetrek en gepak laat trap ons op die Queen’s Highway na Mount Komati. Die pad neem ons verby die yskoue dam van gister; na vanoggend se stort voel ons plaaslike Polar Bear Plunge nog meer absurd!

Die roete klim geleidelik deur grasvelde tot by ’n aanwysingsbord. Mount Komati, Candlewood, Bermanzi en Pongola Express wys almal in dieselfde rigting, en van hier af loop jy vir ’n halfuur deur rotse wat jou na Aloe Kaya laat verlang. Die pad daal nou in die Vallei van Verbeelding in en gou kom jy by die kruising na Mount Komati en Candlewood – jy hou links, soos die bord aandui.

Vir ’n ruk loop ons weer op die King’s Highway (in die teenoorgestelde rigting), verby Veewagterspos tot by die stroompie wat ons oorgesteek het op dag een.

Jy volg die bordjie ‘HF MK’ (High Five, Mount Komati) en die pad wat links van die water bly tot by ruwe klippe en die bopunt van ’n waterval. Met bykans twee uur se stap oor is hierdie ’n goeie plek om jou peuselhappie met ’n sluk koeldrank af te spoel.

’n Paar treë verder staan ’n bord wat die roete kamp toe aandui, asook een van Mount Komati se dagstappe genaamd Rondomklip. Rondom-klip neem jou na die voet van die berghang, reg onder ’n kransaasvoëlkolonie se broeiplek.

Ons volg die aanwysing kamp toe en klouter met lere al langs die waterval af. Sodra die bos jou uitspoeg, kan jy terugkyk na die kranse en sien waar die aasvoëls woon – massiewe wit blertse loop by die klippe af.

Die pad kronkel deur ’n woud terug in die oopte in, verby ’n kiepersol wat op ’n rotsstapel groei. Die boom staan uit tussen die grasveld, maar bêre jou fotovernuf vir die Drukkies-en-soentjiesboom wat jy oor 10 minute gaan raakstap. Dié breë kiepersol se takke kronkel in alle rigtings en lyk soos Medusa se slangkapsel.

Ons wandel die laaste 45 minute geleidelik bergaf deur grasvelde en kolle bos, verby die sebras en blouwildebeeste tot by die Komati.

Ons vertoef ’n rukkie langs die rivier. Ons wil nie by die kamp aankom nie, want dan is die avontuur verby en ons is nog nie gereed om te groet nie. ’n Mens sal dink een ysswem per avontuur is genoeg, maar nee… ons Polar Bear Plunge gou ’n laaste keer in die Komatirivier. Ons loop sleepvoet kamp toe, maar ons hande hou ons hoog – ’n high five vir die High Five!

WEET VOOR JY WAAI

Waar? Die High Five-staproete lê suidoos van eNtokozweni (Machadodorp). Pongola Express is die enigste kamp reg langs die R541 en is 22 km van die dorp af. Die ander drie kampe word bereik deur grondpaaie – Escarp Hiking Trails stuur vir jou aanwysings. Jy kan by enige kamp begin stap. As jy die slenterstapopsie kies, moet jy jou bagasie by Pongola aflaai.

Afstand

Ons het sowat 30 km in 4 dae gestap. Jy kan by enige kamp begin stap en die oornagroetes (2 tot 4 nagte) na hartelus kombineer met die op buurplase. Escarp Hiking Trails wil hê stappers moet eie inisiatief neem. Of jy kan ’n basiskamp vir ’n naweek (nie langnaweke nie) bespreek en net dagstappe doen.

Wanneer

Dit is gemakliker om in die winter te stap: Dis koeler, die paadjies en wild is meer sigbaar in die veld. Al is dit droog, vloei die strome en riviere nog sterk. In die somer sien jy meer voëls, die omgewing is lowergroen, en daar is meer daglig om te benut. Herfs is glo die beste tyd – daar is nog baie water (sonder die storms) en dit is koeler.

Blyplek

Mount Komati en Pongola Express het krag, en Candlewood en Aloe Kaya sonkrag. Al die hutte het gemeenskaplike badkamers met warm water; Mount Komati het privaatbadkamers en by Candlewood moet julle ’n donkie stook. Die hutte het gemeenskaplike kombuise met eetgerei, stowe en yskaste; by Candlewood is ’n koelboks met ys en Mount Komati se Tarentaal-chalet het ’n eie kombuis.

Elke kamp het ’n snoepie wat op ’n eerlikheidsbasis werk: hier kan jy lekkernye, hout of koue bier koop. Die matrasse op die beddens is netjies – onthou ’n slaapsak en kussing. Hier is slaapplek vir ’n stapgroep van 20 mense (Aloe Kaya en Pongola se treine het plek vir 24 en 22 stappers). Blaai om vir meer besonderhede oor die spesifieke blyplekke.

Kinders

Kinders is welkom. Pieta sê sesjariges het al gestap. Hy sê die roetes is middelmatig tot moeilik.

Koste

Blyplek: R220 p.p.p.n.; R380 p.p.p.n. in Tarentaal-chalet by Mount Komati. Dit kos R110 per krat per dag vir die slenterstap (Escarp Hiking Trails voorsien die 85 liter-kratte; ’n koelboks tel as ’n krat).

Besprekings: 082 663 6168; info@ecotrail.co.za (Eco Trail SA).

Navrae: 082 950 2417; 071 710 8835; hikehighfive@gmail.com; mountkomati@gmail.com 

STAPKAMPE

CANDLEWOOD-KAMP
MOUNT KOMATI
Plante losgewoel deur ystervarke.
Vere van kransaasvoëls onder hulle broeiplek.

MOUNT KOMATI-BASISKAMP

Slaapplek 20 mense Die grasdakhuise is uit klip gebou – hier’s ook ’n swembad. Twee van die hutte kan vier elk akkommodeer en is taamlik luuks vir stapblyplek: Die Mojaji-hut het twee stapelbeddens en ’n private badkamer; Tarentaal-chalet het ’n dubbelbed, twee enkelbeddens, ’n badkamer, kombuis, ’n leefgebied en ’n houtdek.

Wildebees en Idube het slaapplek vir ses elk in stapelbeddens, met ’n gemeenskaplike badkamer (Mojaji, Wildebees en Idube deel ’n kombuis).

Hier is ook binnebande om in die Komatirivier te baljaar.

Staproetes

Op Rondom-klip (12,7 km) stap jy onder meer op rotslysies, al langs ’n krans, onder kransaasvoëlneste verby. En bo op die plato het jy ’n uitsig oor die ganse Komativallei.

Klein-Parradys (4,5 km) word met paddavoete aangedui. Jy klouter in ’n kloof op en klim al langs ’n reeks klein watervalle en strome.

CANDLEWOOD-KAMP

Slaapplek: 20 mense Die twee hutte op die rand van die plato het elk slaapplek vir 10 mense en is aan weerskante van die gemeenskaplike kombuis en binnebraai. Hier is ’n kort staproete na die Uitkomstwaterval. Weg se keuse:

WEG SE KEUSE: ALOE KAYA - BASISKAMP

Slaapplek: 24 mense

Die kwartsietrotse staan soos tamaai pilare om die twee houthutte met gemeenskaplike kombuis en badkamers. Die dubbelverdiepinghuise lyk asof dit hier hoort en die rotse vorm selfs trappies na die boonste kamers.

As jy na privaatheid smag, is dit die plek. Die hutte is ver uit mekaar, goed weggesteek in die klipdoolhof en het elk ’n eie braaiplek (die kombuis het ook ’n binnebraai en twee buitevuurmaakplekke).

Elke hut het slaapplek vir 12 mense (ses mense per kamer, op stapelbeddens). Hier is ook ’n Loo With A View-toilet (die voorkant is oop en jy tuur oor die Komativallei), asook “open air canyon showers” tussen die rotsformasies.

Staproetes

Hell’s Bells (8 km) loop al langs ’n riviervallei af tot onder in die kloof, en weer terug. Jy stap onder meer deur inheemse woud (die aalwyne groei hier dig) en klouter by ’n leer af na die onderpunt van ’n waterval.

Die Oom Paul-roete (20 km) is ’n tweedagstap tussen Aloe Kaya en Bermanzi op ’n naburige plaas. Die roete loop verby Candlewood en die Uitkomstwaterval, en is genoem na Paul Kruger wat tydens die Anglo-Boereoorlog hier grond besit het. Dit kos R250 p.p.p.n. en jy dra jou eie rugsak (geen slenterstap-opsie nie).

Tref reëlings met Escarp Hiking Trails of kontak Attie en Marietjie van Niekerk by Bermanzi 082 856 1942; bermanzi.co.za

PONGOLA EXPRESS- BASISKAMP

Slaapplek: 22 mense

Hier is ’n eetsaal en ’n slaapwa met 22 opvoubedjies (2 tot 4 per kajuit). Die beddens is gemaklik en die trein is snoesig in die winter, maar as jy 1,8 m of langer is (soos my man en ons vriend, Phil) dan slaap jy maar in die fetusposisie.

’n Breë houtdek strek van die twee treine af tot by die gemeenskaplike kombuis. Die houtdek (met tafels, bankies en ’n braai) is beskut teen reën met ’n uitsig oor die Schoonspruitvallei.

Staproetes

Die Kokoboom-roete (7 km) styg en daal deur die Schoonspruitvallei. Jy stap gereeld langs die stroom verby groot poele en twee watervalle: die Maningi-valle is sowat 15 minute weg en die Mac-waterval lê teen die einde van die roete. As jy vinnig by Mac wil uitkom, stap die Kokoboom agterstevoor om – dit is dan sowat 40 minute weg.

Die Bloutreinroete (7 km en 10 km) lê tussen Pongola Express en Wathaba Hiking Trails. Dit is R500 p.p. vir ’n naweek vir die slenterstap en R440 as jy jou rugsak dra. Reël met Escarp Hiking Trails, of kontak Wathaba Hiking Trails. 079 877 6909; wathaba.co.za