Foto's Evan Naudé

Zambië het ’n besonderse natuurskoon, en met sy 20 uiteenlopende nasionale parke is dit glad nie vreemd dat dié land ’n gewilde bestemming is nie. Daar is onder meer twee parke op die oewer van die Zambesirivier, in November krioel die Luiwavlakte met migrerende wildebeeste, en tussen Oktober en Desember sak miljoene vlermuise toe op Kasanka in die noorde. Dis dalk te veel plekke om in ’n enkele besoek te beleef, maar sodra jy by een of twee parke was, sal jy kort voor lank terugkeer om by die ander ’n draai te maak.

’n Goeie manier om jou verkenningstog in dié deel van die wêreld te begin is om by twee van Zambië se bekendste parke, Suid-Luangwa en Kafue, te begin. En omdat Malawi net om die draai is, is ’n besoek aan die vasteland se derdegrootste meer ook nie te versmaai nie.

Ons het 16 dae lank dié besonderse stukkie van Afrika saam met Bhejane 4x4 Adventures gaan verken.

HALLO ZAMBIË. Die toer begin by Kamp Nkwazi (eerste, tweede derde en vierde foto) op die Zambesirivier vóór die konvooi pad vat (laaste fotor) ooswaarts deur Zambië. Kort voor lank word kamplewe (links) die orde van die dag en moerkoffie op die vuur (insetsel) ‘n oggendinstelling.

Weswaarts uit Livingstone

Die toergroep, wat uit 10 voertuie bestaan, ontmoet mekaar by Kamp Nkwazi op die oewer van die Zambesi. Om hier te kom is op sigself vir almal uit Suid-Afrika ’n lang reis, en daarom bring ons die eerste aand gesellig om ’n kampvuur deur vóór die toer die volgende dag in erns begin.

Die konvooi vertrek vroegoggend met die M10 in Livingstone se rigting. Die pad lei jou deur die Mosi-oa-Tunya- nasionale park. Dis ’n klein park, maar dit is wel die tuiste van een van Afrika se bekendste verskynsels: die Victoriawaterval. As jy nog nie hier was nie, moet jy ’n plan maak. Jy sal nie spyt wees nie. As jy jouself régtig wil bederf, bespreek vir jou ’n begeleide toer deur die park. Jy stap saam met ’n veldwagter, en die kanse dat jy ’n leeu of renoster gaan teëkom, is min of meer 100%.

Jou brandstoftenk behoort nog propvol te wees as jy in Kazungula in Botswana volgemaak het (brandstof is goedkoper hier), maar daar is ook vulstasies en supermarkte in Livingstone waar jy kan volmaak en proviand aanskaf vóór jy Zambië behoorlik invaar.

Van Livingstone af ry jy noordwes met die T1-teerpad deur die dorpies Kalomo en Mazabuka na die T-aansluiting met die T2, waar jy noord mik deur die dorpie Kafue tot in Lusaka.

Onmiddellik begin jy ’n paar dinge langs die pad sien wat kenmerkend is van die toer deur Zambië: Feitlik oral is die veld aan die brand of aan’t smeul en ’n rookmis hang van soggens tot saans in die lug. Dit is weens die verouderde geloof dat grasveld jaarliks gebrand moet word om nuwe groei te bevorder. Tog, wanneer dit té gereeld gedoen word, lei dit tot grootskaalse ontbossing en die vernietiging van habitatte, ’n probleem waarmee Zambië baie sukkel. Jy sien ook sakke houtskool oral langs die pad wat te koop aangebied word – die produksie hiervan beteken die einde van al wat ’n groot ou boom is. Die houtskoolproduksie spruit uit armoede, maar ’n mens kan nie help om te dink as hier nie gou plan gemaak gaan word nie, gaan daar binnekort nie ’n enkele boom oor wees nie.

WELKOM IN ONS LAND! Wanneer jy langs die pad vir middagete stilhou, is dit nie lank voor daar ‘n groepie nuuskierige toeskouers op jou toesak nie. In Lusaka moet jy lig loop vir AK47’s agterop polisiebakkies en voertuie met spoggerige wielvellings.

Die volgende ding wat jy begin opmerk, is grootskaalse boerderye. Die regering het in onlangse jare onder meer koring-, suikerriet-, mielie- en kassaweproduksie begin subsidieer en boere uit Suid-Afrika, Zimbabwe en selfs Argentinië ingevoer om te kom help.

Een van die reuse in die Zambiese ekonomie is die koperbedryf, en jy sal ’n byna oneindigende rits vragmotors op die paaie teëkom wat dié metaal suidwaarts na Suid-Afrika vervoer. Hulle is waarskynlik die rede dat jy op netjiese teerpaaie kan reis, maar hulle toets ook vir seker jou geduld en bloeddruk met hulle wilde bestuurstyl.

Lusaka is ’n miernes van bedrywigheid. Anders as in die landelike gebiede lyk dit of hier grootskaalse vooruitgang is, hoewel dit meestal te doen het met inkopiesentrums. Oral in die stad staan blinknuwe geboue met al wat ’n bekende Suid-Afrikaanse handelsnaam is – selfs Food Lover’s Market – en dis asof die stad probeer om soveel as moontlik advertensieborde in elke beskikbare spasie langs die pad in te prop om elke produk onder die son aan jou te probeer verkwansel.

Suid-Luangwa is bekend vir sy hoë konsentrasie wild, en die diere in die park is min gepla met voertuie. Dit beteken uitstekende wildkykritte.

Anderkant Lusaka mik die konvooi ooswaarts met die T4-pad na die Luangwa-rivier digby die Mosambiekse grens. Nadat jy met die brug oor die rivier is, wag daar sowat 50 km se padwerk op jou, voordat ’n splinternuwe teerpad jou tot in Chipata neem. Dit vat twee dae om tot hier te ry, maar dis die moeite werd, want net om die draai wag een van die toer se groot hoogtepunte op jou.

Suid-Luangwa- nasionale park

Van Chipata af is dit sowat 120 km noordwes met die D104 tot by Suid-Luangwa se Mfuwehek. Hier slaan ons kamp op vir die volgende drie nagte by die Croc Valley-kamp op die suidelike oewer van die Luangwarivier. Met die intrapslag hoor jy die genurk van seekoeie in die rivier. Jy is nou in húlle agterplaas – snags kom maak hulle en die olifante selfs in die kamp ’n draai. En bêre maar al wat ’n eetding is, ver weg, – selfs bedags – want die blouape is ook lastig.

Suid-Luangwa is bekend vir sy hoë konsentrasie wild, en die diere in die park is min gepla met voertuie. Dit beteken uitstekende wildkykritte byna enige tyd van die dag, hoewel vroegoggend en skemertyd uiteraard die beste is. Die wild is volop en die kans is goed dat jy leeus, luiperds, groot troppe olifante, buffels, koedoes en waterbokke gaan sien. Wees ook op die uitkyk vir die unieke Thornicroft-kameelperde en die oulike poekoes – dié bokkies lyk amper soos wollerige rooibokke. En as jy lief is vir voëls, is hier meer as 400 spesies in Suid-Luangwa wat jy in jou voëlboek kan afmerk.

Dit is die moeite werd om ’n dag opsy te sit om die Nsefudeel van die park te verken. Die storie loop dat oudpres. Kenneth Kuanda ’n huis hier wou bou, maar eers ’n boorgat gesink het. Toe die water uitkom, was dit vuurwarm en onbruikbaar. Vandag loop die water ewe warm, en die uitloop van die bron het intussen ’n pragtige vleiland gevorm wat wemel met voëllewe.

Koste by die grenspos

Verskeie tariewe is betaalbaar by die Zambiese en Malawiese grensposte.

Met ons besoek was R1 = ZMW0,7 (Zambiese kwatcha) en R1 = MWK53 (Malawiese kwatcha).

Bring genoeg kontant (die Zambiese grenspos het ook ’n kitsbank waar jy kan onttrek) en vermy eerder die lastige geldsmouse op die grens.

Zambië

Die pont oor die Zambesi van Botswana af kos ZMW150.

By die grens aan die Zambiese kant moet jy koolstofbelasting in Zambiese kwatcha betaal: ZMW200 of ZMW275 vir enjingroottes bo 3 l.

Jy moet ook ’n raadsheffing (council levy) van ZMW60, plaaslike derdepartyversekering (sowat ZMW300) en padbelasting in Amerikaanse dollar ($20) betaal.

Hou jou padbelasting se betalingsbewys byderhand in die kar, want jy moet dit by padblokkades en tolhekke aan wetstoepassers wys.

Malawi

In Malawi het jy ’n tydelike invoerpermit nodig wat MWK10 000 kos, sowel as plaaslike derdepartyversekering van sowat MWK25 000. As jy weer terugkom na Zambië, sal jy weer die raadsheffing en padbelasting moet betaal.

Malawi en Kaap Maclear

Van Suid-Luangwa af is dit sowat 500 km tot by Kaap Maclear op die Malawimeer, maar dit is beter om die afstand oor twee dae af te lê en in Lilongwe oor te slaap – ’n mens weet nooit hoeveel tyd jy by die grens gaan verloor nie. Ons konvooi van 10 voertuie het byvoorbeeld 3½ uur geneem om deur die grens te kom, en gevolglik het ons eers laatmiddag in Lilongwe aangekom.

WAAR DIE WILD VOLOP IS. Die kampplek by Croc Valley is op die oewer van die Luangwarivier. Suid-Luangwa- nasionale park is een van die hoogtepunte van die toer. Sit ‘n paar dae opsy om die park te verken en bring jou kamera, want jou kanse is goed om onder meer kameelperde, buffels, seekoeie en selfs luiperde te sien. Net 4x4’s word in die park toegelaat.

Nes Lusaka is Lilongwe ’n bedrywige plek, en die verkeer dwing ons om teen ’n kruipspoed deur die stad te ry. Die pluspunt hiervan is dat jy kans kry om ’n bietjie rond te kyk. Gehawende tuk-tuks skarrel op en af met haastige passasiers. Op elke straathoek is daar een of ander informele markie met ’n magdom uiteenlopende produkte. By ’n verkeerslig slaan ’n man met ’n boerbok agterop sy motorfiets ankers aan om ’n ou met ’n kruiwa vol piesangs kans te gee om die pad oor te steek. Honderde fietsryers vleg moeiteloos tussen die verkeer deur met vragte wat wissel van boumateriaal, yslike sakke kassawe en stapels hout wat hoog bo hulle kop uittroon. En wanneer ons die stad met die M1 suidwaarts verlaat, kry ons beeldhouers wat die pragtigste houtspeelgoed langs die pad verkoop. In ’n klein landjie met bitterbaie mense moet elkeen probeer om op ’n unieke manier vir oorlewing te sorg.

David Livingstone het die Malawimeer die Lake of Stars genoem, en op ons eerste aand by Kaap Maclear kan ons sien hoekom. Teen sononder vaar dosyne vissersbote uit, elk met drie of vier houtkano’s dwars oor die boot gelaai. Hierdie kano’s word dan plek-plek in die meer afgelaai en hulle vang deur die nag vis. Elke kano het ’n lantern op wat die visse lok en dis dié liggies wat in die donker soos sterre op die meer lyk.

Ons bring drie aande by die meer deur. Kaap Maclear het ’n rits lodges al langs die meer waar jy luilekker aan iets kan teug, onder palmbome in ’n hangmat ’n uiltjie kan knip, en soveel vis-en-tjips eet as wat jou hart begeer. En dan, wanneer jy lekker uitgerus is, kan jy gaan snorkelduik, skubaduik, kajakry, visvang en swem in die meer. Daar is operateurs wat daguitstappies reël na die Thumbi- en Domwe-eiland waar jy ’n tradisionele visbraai kan geniet.

TUSSEN DIE WILDE DINGE. By Croc Valley kom maak die olifante gereeld ‘n draai in die kamp, so bêre maar jou eetgoed diep weg! Suid-Luangwa is ook die tuiste van die oulike poekoe, ‘n medium-grootte wildsbok.

Jy kan ook teen sononder op ’n katamaran seil na Tumbi-eiland en kyk hoe visarende – wat die skippers al name gegee het – langs die boot kom visvang. As jy nog altyd ’n aksiefoto van ’n roofvoël wou neem, is dit ’n besonderse geleentheid. Vir voëlkykers is daar die Kaap Maclear-natuurreservaat waar jy ’n begeleide voëlkykstaptoer kan doen.

LEWE LANGS DIE WATER. Die mense van Malawimeer (bo) voer hulle bestaan deur vis te vang op die meer. Jy kan ook die meer per boot verken en die sonsondergang van die oewer af geniet.

Kafue- nasionale park

Ons groet Malawi en mik weer wes deur Zambië vir twee lang dae agter die stuur om uiteindelik by die Kafue- nasionale park uit te kom.

Wanneer jy die park binnery, begin jy ’n idee kry van hoe die res van die land se bome lyk. Hier staan mopanie-, kiaat-, miombo-, vaalboom- (cluster leaf), raasblaar- (bush willow), en msasabome groot en ruig. Almal beskerm.

Kafue is ’n yslike park – teen 22 400 km2 selfs groter as die Krugerwildtuin. Jy gaan dus ’n bietjie moet rondry om wild te sien. Terselfdertyd moet ’n mens byvoeg die wildbevolking hier is betreklik laag vir ’n park van dié grootte. Vermoedelik is een van die redes hiervoor dat die park so te sê omring word deur sogenoemde wildbestuursgebiede wat veronderstel is om as buffersone vir die park te dien en ’n gebied te skep waarin diere vrylik heen en weer kan beweeg. Ongelukkig word baie diere in dié sones gejag en hulle is uiters wantrouig teenoor mense en voertuie. Moenie eens probeer om so naby aan olifante te kom soos in Suid-Luangwa nie... hulle sal jou gou laat verstaan wat hulle van jou dink. Ons bring twee aande in die park deur en slaap die eerste aand by die mooiste kampeerplek van die hele toer: Kasabushi. Die eienaars, Andy en Libby Wilson, het ’n skitterende kamp, lodge en chalets in die sentrale deel van Kafue gebou wat voorheen nie vir toeriste toeganklik was nie. Kasabushi sit op die oewer van die Kafuerivier en ’n bootrit saam met Andy teen skemer is ’n moet.

Die volgende oggend vertrek ons suidwaarts deur pragtige kiaatwoude en vorder later al langs die westelike oewer van die Itezhi-Tezhimeer. Die donker silhoeëtte van dooie bome troon bo die water uit terwyl lechwes en poekoes aan die sappige grasse op die oewer peusel. Dis werklik skilderagtig.

In die namiddag mik ons na ons kampplek by Nanzhila Plains in die suidelike punt van die park. Op pad daarheen vou die landskap oop in wye grasvlaktes... en ewe skielik is die wild volop. Ons hou gereeld stil om foto’s te neem van troppe wildebeeste, ribbokke, sebras, waterbokke, bastergemsbokke en swartwitpense. Ons sien selfs ’n familie grootgrysmuishonde wat doodluiters naby ’n stroompie in die gras rondsnuffel.

TOTSIENS MALAWI. Die toergroep groet die Malawi-meer met ‘n braai op die strand en ‘n laaste bootrit.

Later die aand, nadat almal al gaan inkruip het en die laaste kooltjies van die kampvuur al hoe dowwer in die donker smeul, is daar ’n geskarrel in die kombuis. By nader ondersoek sien ons dis ratel se kind. Wegjaag help nié; hy is hardekwas en hardloop net in sirkels om die tente en weer terug op soek na nóg buit. Ons los hom maar; dis tog sy huis dié. Ons het in elk geval slaap nodig, want môre vat ons weer die pad suidwaarts. Hierdie keer al die pad suid, terug huis toe.


Ek wil ook gaan!

Beste tyd om te gaan Junie tot Desember is die beste tyd vir Suid-Luangwa en Kafue, want dit reën in die somer en die meeste van die parke se paaie is onder water en dus gesluit.

Het ek ’n 4x4 nodig? Nie op die pad nie, maar wel in die nasionale parke. Hierdie roete is feitlik heelpad teerpad of goeie grondpad, maar in die Suid-Luangwa- nasionale park word jy nie met jou eie voertuig toegelaat as dit nie ’n 4x4 is nie. In die Kafue- nasionale park is daar plek-plek los sand en tweespoorpaadjies waarvoor ’n 4x4 verkieslik is.

Kan ek met my sleepding kom? Ja, jy kan die roete met ’n sleepwa of boswa doen.

Hoe ver gaan ek ry? Ons het bykans 4 000 km op hierdie roete gery. Dit is sonder die afstand na en van die beginpunt in Zambië. Maak dus seker jou voertuig is gediens vóór jy vertrek.

Brandstof Maak vol by Kazangula in Botswana vóór jy die grens oorsteek, want dis goedkoper as in Zambië. In Zambië is daar vulstasies in Livingstone, Lusaka, Chipata, Mfuwe (Suid-Luangwa- nasionale park) en Mumbwa (Kafue- nasionale park). In Malawi kan jy in Lilongwe volmaak.

Het ek ’n visum nodig? Suid-Afrikaners het nie ’n visum nodig om Botswana, Zambië of Malawi te besoek vir ’n vakansie nie.

Kaart of kontant? Bring verkieslik kontant of onttrek by ’n kitsbank om brandstof in te gooi, want in Zambië is kaartmasjiene onbetroubaar en in Malawi sien jy hulle amper glad nie. Waar jy wel met ’n kaart kan betaal, (verblyf, restaurante, en dies meer) gaan jy nie met ’n MasterCard regkom nie; bring eerder ’n Visa.

Waar het ons gekamp?

  • Kamp Nkwazi (Livingstone) 00 260 973 048 830; info@campnkwazi.com; GPS S17.83074 E25.64537
  • Pioneer-Kamp (Lusaka) 00 260 966 432 700; mail@pioneercampzambia.com; GPS S15.2378 E28.2702
  • Mamarulas (Chipata) 00 260 965 790 225; beatrichards@gmail.com; GPS S13.58245 E32.61031
  • Croc Valley (Suid-Luangwa) 00 260 216 246 074; reservations@crocvalley.com; GPS S13.10098 E31.79489
  • Woodlands (Lilongwe) 00 265 991 775 203; GPS S13.96711 E33.78678
  • Chembe Eagles Nest (Kaap Maclear) 00 265 999 966 507; enquiries@chembenest.com; GPS S14.01236 E34.85054.
  • Kasabushi (Kafue- nasionale park) info@undiscoveredzambia.com; GPS S15.25931 E25.97114
  • Nanzhila-Plein (Kafue- nasionale park) 072 536 1337; res@nanzhila.com; GPS S16.28197 E25.91946.

Om dié toer saam met Bhejane 4x4 Adventures te doen bespreek by 044 535 9033 of bookings@bhejane.com.