Die uitsig van die Hang Mua-uitkykpunt af.

Ná 14 uur op ’n oornagtrein kom ons vroegoggend aan op die dorpie Ninh Binh in die noorde van Viëtnam.

Jy het waarskynlik al foto’s gesien van grys kalksteenkoppe oortrek met tropiese plantegroei wat uittoring tussen rys-landerye met riviere wat tussendeur kronkel... Ninh Binh, sowat 95 km suid van Viëtnam se hoofstad, Hanoi, lê in die middel van dié eiesoortige landskap.

Boonop is hier bekostigbare verblyf en ’n verskeidenheid doendinge – dié wenkombinasie lok die afgelope paar jare al meer toeriste hierheen.

Van die treinstasie af ry ons met ’n taxi die sowat 10 km na die kleiner toeristedorpie Tam Coc. Ons gaan twee dae by die Tam Coc Bungalow afsaal saam met ons vriende Wessel van Wyk en Shivani Ghai. Die gastehuis is versteek tussen bome langs ’n rivier en het ’n stoep wat uitkyk oor die einste kalksteenkoppies.

Ná ’n middagslapie en ’n warm stort is almal weer vars en reg vir avontuur. Ons huur twee bromponies en ry deur die dorp. Die hoofstraat wemel van restaurante en kroegies; elkeen propvol jong reisigers wat saamkuier. Ons ry uit die dorp tot tussen die ryslande en kleinhoewes – Google Maps lei ons op smal paadjies. Ons hou stil langs ’n dam waar eende saamtrek om die mooi te geniet. Later kyk ons hoe die son agter een van die kalksteenkoppe sak. Daarna keer ons huiswaarts vir aandete. Die res van die aand speel ons pool en drink bier. Ons is immers op vakansie!

’n Viëtnamese vrou trap haar fiets deur die hoofstraat van Tam Coc.

Die torings van Tam Coc

’n Trang An-bootrit neem ’n mens deur verskeie berggrotte en duur sowat drie uur.

Ons is vroeg uit die vere, want ons wil voor sonsopkoms by die Hang Mua-uitkykpunt wees. Dié uitkykpunt is bo-op ’n kalksteenkoppie en ons wil die 500 trappe soontoe aanpak terwyl dit nog koel is.

Dit neem ons sowat ’n halfuur om tot bo te kom waar ons beloon word met ’n panaromiese uitsig oor die Tam Coc-vallei. Die son loer oor die mistige horison. Rondom ons verrys honderde kalksteenkoppe uit ryslande so ver as wat die oog kan sien.

Van Hang Mua af klim ons op die bromponies en ry sowat 4 km verder na die Trang An-gebied. Dié gebied is in 2014 aangewys as ’n Unesco-wêrelderfenisgebied danksy die uiteenlopende ekostelsels en geskiedkundige tempels. Dit is hier waar Kong: Skull Island verfilm is, en daardie mooi foto’s van kalksteenkoppe en rivierkanale geneem word!

Die beste manier om die landskap te verken is op ’n bootvaart op die Sao Khe-rivier. Daar is drie roetes wat elk na verskeie grotte en versteekte pagodas lei. ’n Pagoda is ’n dramatiese veelvlakkige toring wat gewoonlik as Boeddhistiese of Hindoe-tempel gebruik word.

Ons kies roete 2 waar jy vier grotte en drie pagodas besoek. Met non-la’s (’n tradisionele Viëtnamese hoed) op die kop klim ons in die roeibootjie. Die bootrit is salig. Ek vergaap my aan die gids, ’n tannie wat lyk asof sy anderkant 70 is, wat al die roeiwerk doen. Ons vaar in by die bek van ’n grot in ’n berg. Die grot is ’n kilometer lank en jy moet gedurig koes vir stalagtiete. Hoe dieper die bootjie grot-in vaar, hoe meer drukkend en bedompig raak dit. Die pagodas is ’n gans ander ervaring. Die oomblik wat jy een betree, daal ’n rustigheid om jou heen. Tradisionele Viëtnamese musiek swewe tussen die geboue deur, oor die grasperke en riviere. ’n Mens kan nie anders as om iets geesteliks te ervaar nie.

Joubert voor die toring van die Bai Dinh-pagoda; dit het 13 verdiepings en is 100 m hoog.

Terug op Tam Coc skarrel ons om ’n hotel of restaurant op te spoor wat die Wêreldbekerrugbytoernooi uitsaai. Dis September 2019 en Suid-Afrika speel teen Nieu-Seeland in sy eerste wedstryd van die toernooi. Ongelukkig weet die Viëtnamese so min van rugby soos ’n kat van saffraan. Dankie tog vir tegnologie.

Op die ou einde stream ons die wedstryd op ’n skootrekenaar. Op ons laaste dag op Tam Coc besoek ons die indrukwekkende Bai Dinh-pagoda, die grootste geestelike pagoda-kompleks in Viëtnam.

Pelgrims kom van reg oor die wêreld om die tempels en tuine te besoek. Binne die 5,4 km²-kompleks is meer as 500 standbeelde van Boeddha, meesterlik uit die kalksteen van die omgewing gekerf. Die terrein is ook die tuiste van die grootste Boeddhistiese toring (100 m) én die grootste goue Boeddha-standbeeld in Suidoos-Asië, die Shakyamuni-Boeddha. Dit weeg 100 ton en is meer as 10 m hoog!

Staptog in Sapa

Ker, Jacqueli, Wessel en Shivani stap die diep kloof af na ons oornagverblyf.

Omstreeks 9 nm. klim ons op ’n oornagbus en reis verder noord. Dié oornagbusse is ’n gewilde en bekostigbare vervoermiddel vir toeriste. Die sitplekke is verstelbaar sodat jy jou bene kan strek en gemaklik slaap. Hier’s selfs gratis Wi-Fi!

Die rit duur sowat 10 uur en ons arriveer vroegoggend op Sapa, ’n dorp in mistige berge in die noordwestelike hoek van die land, na aan die grens met China. Hier woon vyf etniese minderheidsgroepe in die gebied, onder meer die Black Hmong- en die Red Dao-volk.

Op Sapa ontmoet Viëtnamese en Chinese invloede en met die intrapslag sien jy die dorp het ’n eiesoortige karakter – dit voel amper asof jy in ’n ander land is. Dis nie meer so bedompig nie, maar mistig en koud. Hier’s vele Chinese bouprojekte en hotelle. Die mense van die Black Hmong- en Red Dao-volk lyk anders as ander Viëtnamese, en het elk unieke kleredrag en taal.

Vanweë die koel klimaat en bergagtige landskap is Sapa ’n gewilde stap-bestemming. Ons is juis hier om ’n begeleide tweedagstaptoer (19 km) deur die Hoang Lien Son-berg in die Muong Hoa-vallei aan te pak. Die roete is nie vas nie; dus kan jy kies hoe ver jy elke dag wil stap. Ons toergids, Ker, is ’n lid van die Black Hmong-volk.

Dag een begin by Sapa se mark waar ons vars tamaties, wortels en spinasie aanskaf. Die roete kronkel op en af deur groen ryslande, verby dorpies en oor riviere.

Ker vertel meer oor haar kultuur en wys hoe hulle materiale met die indigoplant kleur. Die Black Hmong-volk is bekend vir mooi, tradisionele handgemaakte klere waarop unieke patrone borduur is. Hulle dra dit elke dag; nie net op spesiale dae of gesellighede nie. Van die baadjies en materiaalbelde neem tot ’n jaar om te voltooi.

Kort voor middagete klim ons ’n steil heuwel uit en stap deur ’n woud tot by Ker se huis. Dis eenvoudig. Hier is geen krag nie en alles word op vuur en gasplate gaargemaak. Tog berei sy vir ons ’n feesmaal voor met die proviand wat ons vroeër gekoop het: rys, roerbraaigroente, groenboontjies en ’n tamatie-en-tofoegereg.

Binne ’n oornagbus, ’n gewilde vervoermiddel vir toeriste in Viëtnam
Vrugte en groente by die Sapa-mark; die groep koop proviand voor ’n tweedagstaptog
Ker, ons stapgids se man, braai groenboontjies in ’n wok op die vuur vir middagete
’n Middagetefeesmaal by ons gids se huis in die berge.

Ná middagete stap ons verder oor die plato en verwonder ons aan die bergreekse rondom ons. Hier en daar lê ’n knolletjie huisies in ’n vallei, waar gesinne bly. Ons skuifel later weer stadig by die steiltes af tot diep in ’n kloof. Vanaand oornag ons in Ker se ouerhuis. Haar ma, ’n kruiedokter, en haar pa, ’n sjamaan, ontvang ons gul.

Ons het vandag 10 km gestap en dis tyd vir ’n warm stort en ’n stel vars klere. Later kom sit almal in die kombuis. Ons kyk hoe die gesin aandete maak, en deel stories en feite oor elkeen se kultuur. Ná ete sit die mans om die vuur, drink ryswyn en rook tabak in ’n lang pyp. Nie almal kan Engels praat nie, maar die aand is gesellig.

Op dag twee stap ons verder bergaf tussen die ryslande deur. Plek-plek steek ons klein riviere oor – dis warm, maar ons geniet die avontuur.

Dis net ons vier in die stapgroep; dus kan ons die pas bepaal. Die mense lei ’n eenvoudige bestaan, en ons val in by hulle tempo. Dis lekker om vir ’n slag uit die gejaag en geraas van stede te wees.

Dit was insiggewend om tyd saam met ’n Black Hmong-familie deur te bring. Hulle is gasvry en ’n mens ervaar dit terdeë.

Sapa, ’n dorp in die verre noorde van Viëtnam, het ’n unieke kultuur.

Halong Bay is vyfster

Middagete op ’n private strand in Bai Tu Long Bay.

Ná die staptoer groet ons vir Wessel en Shivani, en reis alleen verder na Hanoi. Daar gekom besluit ons op die nippertjie op ’n uitstappie na die beroemde Halong Bay.

Hier’s toere vir elke begroting. Ek en Joubert wil gróót gaan en bespreek twee nagte op die Dragon Legend wat vaar na die kleiner Bai Tu Long Bay.

Toe ons die baai binnevaar, hang ons monde oop. G’n Instagramfoto kan regtig dié plek vasvang nie. Jy moet dit eenvoudig self beleef: Honderde kalksteeneilande toring uit die spieëlgladde turkooisblou water... ons roei op kajakke, besoek drywende vissersdorpies en smul aan middagete op ’n private strandjie.

Aanboord word ons soos konings behandel: skemerkelkies, driegangmaaltye, wit handdoeke, ’n bad met ’n uitsig oor die baai...

Die bootreis was ’n vyfster-ervaring en die kersie op die koek om ons vakansie in Viëtnam af te sluit.

Viëtnam is ’n puik bestemming. Tussen die magdom mense en bromponies kry jy steeds hope rustigheid en beeldskone natuurtonele. Skryf dié land vandag nog op jou wenslysie!

Die groep saam met die vroue van die Black Hmong-gesin, van regs: Joubert, Ker se ma (die kruiedokter), Jacqueli, Ker (die stapgids), Ker se skoonsuster, Shivani en Wessel.

Vinnige feite

Hier is ons onkoste vir elke dorp en aktiwiteit. Met ons toer in 2019 was die wisselkoers 1 533 VND teenoor R1, en die bedrae hieronder weerspieël wat die VND/R-wisselkoers in 2019 was. Dis tans sowat 1 506 VND vir R1.

TAM COC

Tam Coc Bungalow

193 500 VND (R126) p.p.p.n. Ons vier het ’n en suite-kamer gedeel. Die kamer is eenvoudig maar netjies, met twee dubbelbeddens en lugverkoeling – die prys sluit ontbyt en Wi-Fi in.

Hang Mua-uitkykpunt

100 000 VND (R65) p.p. Toegangstarief vir die Bai Dinh-pagoda 60 000 VND (R40) p.p. Trang An-bootrit 200 000 VND (R130) p.p.

Bromponie130 000 VND (R85) per dag Oornagbus vanaf Tam Coc tot Sapa 700 000 VND (R456) p.p.

SAPA

Twee dae lange staptoer van ETHOS (ethosspirit.com) R950 p.p. Bus van Sapa na Hanoi 380 000 VND (R248) p.p.

HALONG BAY

Bootvaart op die Dragon Legend (indochina-junk.com) R4 000 p.p.

Joubert en Jacqueli Tulleken

Jacqueli (bekend as Jackie) is ’n digitale bemarker en Joubert (bekend as Juba) is ’n siviele ingenieur. Hulle reis deur Suidoos-Asië was deel van ’n jaar lange reis wat hulle in 2019 aangepak het. Hierdie droomreis het in Suider-Afrika begin waar hulle ses maande lank ’n kamptoer onderneem het in hulle Land Rover (genaamd Mkulu).

Daarna is hulle vir twee maande na Suidoos-Asië. Hulle het vooraf drie jaar lank gespaar en beplan aan die groot avontuur.

Volg hulle op Instagram by @jubasjourney en @jackienotinthecity en kyk hulle reisvideo’s op YouTube by youtube.com/jubasjourney