Foto's: Evan Naude

Al drie se natuurskoon is onbetwisbaar: bergpieke wat jou kop laat duisel, valleie wat so stil is jy hoor die gras in die wind ritsel, watervalle en rotspoel op rotspoel op rotspoel! 

Ts’ehlanyane- nasionale park
Sethlabathebe- nasionale park.
Bokong-natuurreservaat.


Behalwe vir Ts’ehlanyane waar die agtermekaar Maliba Lodge bedryf word, was die stand van sake by die ander twee parke maar stowwerig. By Bokong (foto onder) het die besoekersentrum leeggestaan, staproetes was nie duidelik gemerk nie en die staphutte naby die waterval was verwaarloos. Die personeel was vriendelik, maar het nie juis geweet wat in die park aangaan nie. 

Bokong-natuurreservaat

By Sehlabathebe (foto onder) is die geboue splinternuut – hier is ’n groot ontvangskantoor, ’n netjiese ry huise vir die parkbeamptes, ’n groentetuin en selfs ’n motorwerkswinkel. Nes Bokong staan die meeste geboue egter leeg en in die ontvangskantoor moet die beampte eers die permitboek in ’n ander kamer gaan opspoor.

’n Paar jaar gelede is ’n nuwe lodge, selfsorgeenhede en ’n besoekersentrum in die park gebou, sowat 2 km van die hek af. Dié lodge word onderhou, maar volgens die parkbeamptes is dit vir tyd en wyl gesluit vir opknappings.
Hier is dus tans net twee basiese rondawels by die ingangshek vir besoekers om in te oornag.

Sethlabathebe- nasionale park

Was jy onlangs by een van die plekke? Wat was jou ervaring? Laat weet ons by esma.marnewick@weg.co.za