Erns se terugblik

Op my heel eerste werksdag by Weg (1 Desember 2008) moes ek jaag na die Kaapstad-hawe vir ’n storie oor die MSC Rhapsody, ’n plesiervaart na Lüderitz.  

Ja, dit klink na ’n idilliese werk en dit is ook tot ’n groot mate. Maar ’n Weg-joernalis werk vrek hard vir ’n goeie storie. En daar is min plekke waar jy so baie rondhardloop en met soveel mense gesels soos op ’n plesierskip. Hier is hordes aktiwiteite en doendinge.

As ’n beginnerjoernalis by Weg wou ek by ál hierdie aktiwiteite uitkom – dit sluit in: tafeltennis, bingo, ’n gim-klas, ’n komedievertoning deur Dowwe Dolla, ’n danspartytjie, ’n speletjiesaand vir enkellopendes, en ’n uitstappie na Lüderitz.

Ses jaar later het ek weer my hand opgesteek om op die MSC Opera te vaar na Portugese Eiland en Maputo. Die tweede vaart was selfs meer intens, want ek het dié keer ook self foto’s geneem. 

Ná vier mal dae op die skip, moes ek deur twee Moleskine-boekies se notas werk, meer as twee uur se klankopnames en meer as 2000 foto’s. Dit het sowat 8 werksdae (en minstens 3 nagte) geneem om deur alles te sif en die sowat 3 300 woorde te skryf wat jy hier onder kan lees. 


Soms dreig die “regte lewe” om ’n mens onder te kry. Ek staan in ’n tou van meer as tweeduisend mense en wag in Durban se hawe. Ek het pas ’n SMS gekry wat lees: “MSC Cruises apologises for embarkation delays caused, due to loadshedding.” Die snikhete son vat dooierus op my. Sug.

Maar ek hou moed en lawe myself met sonroom en droom oor daai eerste piña colada...

Rondom my is massas mense – oud, jonk, wit, swart, bruingebrand én rooiverbrand – vakansiegangers getooi in lawwe hoede of Hawaiise blomkranse, geruite hemde wat span oor bierpense (hier is darem enkele six-packs), jeans, kleurryke T-hemde en sjoebroekies.

Die stereotipe van hordes bleekbeen-pensioentrekkers wat op ’n tamaai plesierskip deur die Karibiese eilande dryf, geld nie hier nie. Trouens, ek het lank laas só ’n advertensie vir trots Suid-Afrikaanse vakansiegangers gesien.

Seker ’n honderd meter voor ons troon die MSC Opera uit bo die geroesemoes en frustrasies – my en 2 059 ander gaste se “huis” vir die volgende vier nagte.

Die MSC Opera is ’n moewiese, drywende hotel. Dit weeg meer as 58 000 ton: 251 m in lengte en 28 m breed, met 9 passasiersdekke (13 in totaal) en 867 kajuite. Tog is die MSC Opera tans die kleinste van MSC se 12 passasierskepe wat wêreldwyd op die waters vaar.

Seker ’n honderd meter voor ons troon die MSC Opera uit bo die geroesemoes en frustrasies – my en 2 059 ander gaste se “huis” vir die volgende vier nagte.

Plesiervaarte raak al hoe meer gewild regoor die wêreld, ook hier by ons. ’n Paar jaar gelede was die seisoene heelwat korter, met kleiner skepe. Maar oorvol besprekings en ellelange waglyste het MSC genoop om in alle opsigte groter te gaan.

Hierdie is reeds die 39ste vaart vir die seisoen en elkeen is tjokvol bespreek: Meer as 80 000 mense – byna deur die bank Suid-Afrikaners – het die afgelope somer op die water vakansie gehou.

Hoe dan anders? Dis puik waarde vir geld. Jou kaartjieprys (vanaf R3 000 p.p. as jy vroeg bespreek) sluit al jou maaltye en vermaak in (en kinders onder 18 reis gratis!).

Die opwinding is tasbaar. Ons sien uit na die oopsee, ’n besoek aan Mosambiek se bedrywige hoofstad, Maputo, en mengeldrankies op Portugese Eiland. En Eskom vaar nie saam nie. Beurtkrag, waar’s jou angel?

Maritieme nasiebou

Die oomblik wat jy die trappies bestyg waar Sophia Loren (ja, sy is die skip se “peetma”) op 26 Junie 2004 die MSC Opera se lint geknip het, los jy egter die land en die lewe se roetine vir ’n paar dae agter. Jou ontvlugting begin in Dek 5 se glinsterende ontvangslokaal, vol marmer, ’n swierige kristalkandelaar en luukse afwerkings. Om te pas by die Opera-tema het die skip se dekke name soos Tosca, La Traviata en La Boheme. Dek 5 is Aida.

Hier kry jy ’n vaartkaart wat jou ID, beursie en kajuit se sleutel is. Eers teen die einde van die vaart betaal jy jou uitgawes – soos drankies, aktiwiteite tydens ekskursies en vele ander verleidings – met ’n kredietkaart of kontant.

Dis tyd vir middagete en ek sit aan by die La Caravella-restaurant – hier’s 3 restaurante en 8 kelkiekamers. Jy kan maar behoorlik skouers oopmaak wat die à la carte-spyskaart se vele Mediterreense, Indiese en selfs vegetariese opsies betref. Hier is selfs melktert vir nagereg.

Jesús Sandres van Honduras kom neem my bestelling. Die 700 personeellede van die skip kom van regoor die wêreld. Dit dra ook by tot die MSC Opera se sjarme en internasionale atmosfeer. Wanneer laas het iemand met die naam Guissepe in ’n swaar Italiaanse aksent na jou welstand verneem? Hier is baie onsigbare helde op die skip – soos die man wat pligsgetrou die traprelings poets. Of die skoonmaker, Havana Rasoarahona Leoncina van Madagaskar, wat verskeie kere per dag my kajuit regruk en op een of ander duister manier altyd weet wanneer ek nie daar is nie.

Saam met my aan tafel is Braam en Elmarie Fourie van Henneman in die Vrystaat.

Hulle was al tevore op nóg ’n geliefde skip langs ons waters, die MSC Sinfonia. “Soms is daar buitekant ’n groot rumoer, maar ons kom om te rus,” sê Braam. “Jy maak ook baie vriende so op die skip. Almal is vriendelik en in ’n vakansieluim.”

Watse soort mense kom op sulke vakansies, het ek gewonder. Alle soorte! Hier is enkele wittebroodspaartjies, ’n woelige matriekklas van Ashton College in Ballito, (met tien onderwysers), ’n paartjie wat ’n kompetisie in The Witness gewen het, groot familiereünies oor generasies, ’n 40ste huweliksherdenking, die ingenieursfirma Spoormaker & Partners vier ’n halfeeu van sake.

Hier is selfs ’n bemarker wat die meeste John Deere-stropers oor ’n tydperk verkoop het en nou as beloning op die MSC Opera kan ontspan.

En dan is daar die mense wat vir ’n tweede of selfs derde keer op die skip kom ontsnap. As die vaargogga jou eers gebyt het, is jou volgende paar vakansies blykbaar geboek.

Hier is ook 351 kinders op die skip. Baie gesinne kuier heeltyd saam, maar die skip het ook ’n knap span oppassers en ’n omvattende vermaakprogram vir verskeie ouderdomsgroepe – van inkleur en Lego vir die kleintjies tot Xbox-speletjies vir tieners.

Ná middagete mik ek vir my kajuit vir ’n middagslapie. Die kajuit is ruim met ’n dubbelbed en ’n balkon. As dinge op die dek te bedrywig raak, kan jy hier kom boeklees of sommer net sit en na die oopsee staar. En snags slaap jy soos ’n klip in jou waterwieg.

Teen 3 nm. vaar ons uit Durban se hawe. Die goeie weer en die skip se stabiliseerders maak dat jy net vaagweg bewus is van ’n bietjie wieg. Ek het nie eens pilletjies teen seesiek ingepak nie.

Die grootste gros van die passasiers staan nou op die groot buitedek – wat spog met ’n restauant, ’n kafeteria, twee kroeë, twee swembaddens én twee borrelbaddens. Dis dan ook die plek waar die Sail Away-partytjie begin!

Een van die sangeresse, Emma Kate, en haar orkes trek weg met “Hey, Soul Sister” terwyl die skip se vermaakspan die skare gou-gou aan die dans kry.

Of jy nou ’n wilgerlatlyfie wikkel of jou love handles driftig soos deeg dril, is van nul tot geen belang, want almal baljaar saam op die dek in ’n massa Conga-lyn. Want hier is die lewe ’n lied en die MSC Opera duld geen inhibisies nie.

As daar nou een liedjie is wat niemand na al die jare kan weerstaan nie, is dit die treffer “Y.M.C.A.” Trouens, die meeste liedjies op die skip se inleiding klink asof dit enige oomblik kan oorslaan in ’n heerlike “Y.M.C.A.”.

Hier is die lewe ’n lied en die MSC Opera duld geen inhibisies nie.

En as Desmond Tutu ooit ’n voorbeeld van ’n jolige Reënboognasie wil sien, kan hy gerus op die MSC Opera kom kyk hoe Suid-Afrikaners saam kuier en dans – veral toe almal die diski-dans doen of later met mening lyf swaai op Michael Jackson se treffer “Black & White”. Jinne, as ons nou maar net so lekker kon saam kuier op land.

Doendinge by dosyne

Om presies te verstaan wat die vier dae in die bykans fantasiewêreld op die water inhou, woon ek die inligtingsessie by. Dit word aangebied deur Stephen Cloete, die skeepsdirekteur, wat pa staan vir al die vermaak op die skip.

“Vir die volgende vier dae hoef jy niks skoon te maak, kos te maak of jou eie bed op te maak nie,” verduidelik Stephen. “Jy is weg van E-tol en beurtkrag en jy kry al jou energie terug!” Soos een man antwoord almal met ’n luidkeelse: “Yay!”

Stephen is ’n fenomeen in dié bedryf en werk al 17 jaar lank op die water. Die MSC Opera is sy 12de skip. Hy het al 66 lande besoek en meer as ’n miljoen mense vermaak.

Stephen is ook ’n komediant en het oor die jare sy eie genre van plesierskiphumor ontwikkel. Tydens inligtingsessies en aandvertonings in die Teatro Dell’ Opera deel hy graag van sy ervarings en staaltjies.

Van die vreemder vrae wat hy al gekry het van passassiers: Hoe laat sien ons die dolfyne? Help, hoe kom ek uit my kajuit? Genereer die skip sy eie elektrisiteit? Woon die personeel aan boord?

En vir diegene wat bekommerd is oor koolhidrate en kalorieë bied hy ’n rympie as troos: “Forget about your diet / you’re gonna put on weight / you enter as a passenger / you leave as freight.

Hoe lyk ’n dag op die oopsee? Jy kry reeds die vorige aand ’n dagprogram onder jou kajuit se deur. Soos met alles op die skip is verskeidenheid die wagwoord.

Jy kan vroegoggend ’n Zumba-klas op ’n dek bywoon, weglê aan ’n buffet-ontbyt in een van drie restautante, of leeglê op die dek, in jou kajuit of in een van die kelkiesitkamers.

Ek het probeer om oor die vier dae by elkeen van die agt kelkiekamers uit te kom en ’n ietsie daar te drink.

Jy kan vroegoggend ’n Zumba-klas op ’n dek bywoon, weglê aan ’n buffet-ontbyt in een van drie restautante, of leeglê op die dek, in jou kajuit of in een van die kelkiesitkamers.

Eers op die laaste dag het ek die Caruso Lounge op Dek 7 “ontdek”, maar dit was helaas toe omdat ’n konferensie vir Sewendedag-Adventiste daar aan die gang was...

Die skip het ook ’n spa, haarsalon, gimnasium, biblioteek, casino, fotowinkel (’n hele troppie fotograwe en ’n videograaf dokumenteer die hele plesiervaart, teen ’n prys) en ’n blink inkopiesentrum met verskeie boetiek-, klere-, en juwelierswinkels van bekende handelsmerke.

Vir diegene wat alleen reis, is hier ’n Fast Friendship-aand wat jou bekend stel aan ander alleenlopers (ek het helaas daardie aand te vroeg in my kajuit aan die slaap geraak...)

Die program is propvol vermaakitems op die dek en in die kuierkamers: vasvrakompetisies, Bingo, skemerkelkie- en servetvoudemonstrasies, wat vir die buitestaander dalk ’n bietjie verspot klink, maar heeltemal sin maak binne die leefwêreld van die MSC Opera.

Elke aand speel die Teatro gasheer vir ’n verskeidenheidskonsert met name soos “Sweet Dreams”, “Mytheon” en “Bollywood”.

Die konserte herinner nogal aan die tipiese Extravaganzas in casino’s met ’n oormaat vere en blinkers, maar elke aand is hier ook verrassings: twee lyfvlegters uit Mongolië wat mekaar in koeksistergrepe vleg dat ’n mens wonder of hulle ooit weer gaan ontknoop – gaste het vir dae daarna hieroor bespiegel. Of ’n genie op ’n eenwielfiets en ’n vrou met wilde hare wat byna onwettige bewegings met hoelahoepels uitvoer...

Ná die konsert is dit tyd vir aandete. Almal is saans ingedeel by dieselfde restaurant en tafel. My tafel was eklekties: Van die ander gaste was ’n Afrikaanse speurdervrou en doktor in genetika uit die Kaap en drie gawe Hindoesusters, al drie huisvroue uit Durban.

Op ’n skip soos die vind ’n mens vinnig gedeelde ervarings om oor te gesels en tydens die Italiaanse tema-aandete het ons almal jolig ons servette in die lug geswaai.

Ons kry ook tydens die Gala-aand (Aand 2) waar almal opgetof is in skemerkelkrokke en pakke, kans om kaptein Paolo Russo se hand te skud buite die Teatro en vir ’n foto te poseer.

Die kleurvolle Tropical Party (Aand 3) op die boonste dek, met Stephen en sy vermaakspan aan die spits, is nóg ’n hoogtepunt. Dit is teen dié tyd geen verrassing dat Kurt Darren se “Kaptein” ’n treffer op die dansvloer is nie – hoe dikwels sien ’n mens Zoeloes sokkie?

En as jy laataand nog honger is, kan jy jouself tot 2 vm. help by ’n buffet. Vir die wat nog stamina het, speel DJ Q’Ba saans tot in die vroeë oggendure treffers in die Babylos Disco.

As al hierdie aktiwiteite, Conga-lyne en samesyn tussen vreemdelinge jou hartkloppings gee, laat ek dadelik kwalifiseer: Niemand druk enige agenda in jou keel af nie. Jy besluit self hoe jy jou tyd (en geld) op die skip bestee.

Die skip is jou heelal en jý die onbetwiste middelpunt.


Die wonder van die MSC Opera is dat jy selfs met 3 000 sterflinge aan boord nooit ’n vertrapping ervaar nie. Dit raak in die dag bedrywig by die swembaddens en dekstoele, maar die skip het verskeie stiller sitkamers, kroeë, hoekies en selfs ’n klein biblioteek waar jy kan afsaal en deur ’n groot, ronde venster na die eindelose waters kyk.

Nóg ’n lekker stil plek is op die 13de dek by die mini-gholfbaan, veral vroegoggend. Dit is meestal net jy en die oopsee en miskien ’n parate fiksheidsfoendie wat flink verbydraf en jou liggies laat skuldig voel oor gisteraand se laatnag-pizza en piña colada.

En as jou kajuit ’n buitevenster óf nog beter, ’n balkon, het, is jou vrede gewaarborg. Ek het een middag ’n lui voet sien hang oor ’n reling van ’n buurman se balkon – met die reuse-skuimstreep in die agtergrond soos die skip deur die water klief. Dís mos vakansie!

Plesier in ’n poskaart

Die twee ekskursies op hierdie plesiervaart is na Maputo en Portugese Eiland. Die subtropiese Portugese Eiland is skaars 2,5 km² groot en naby die groter Inhaca-eiland, op sy beurt sowat 40 km oos van Maputo.

Op dag 2 gooi die MSC Opera vroegoggend anker buite Portugese Eiland.

Klein opblaasbote werk oortyd om al die passasiers op vaarte van ses minute elk na die eiland te neem – jy kry ’n nommer en vertrektyd en als gebeur baie ordelik.

Dié eiland is heeltemal verlate, behalwe vir MSC se groot grasdaklapa waar middagete bedien word.

Op skool het jy geleer van die warm Mosambiekse seestroom – en hier ervaar jy dit by die bron. Honderde mense baljaar in die water, ander baai luilekker in die son en die energiekes verken die eiland verder – dis sowat 6 km om rondom die eiland te stap.

Nes op die skip, is hier ook ’n rits aktiwiteite soos seekajak, dolfynkyk, snorkel en ’n besoek aan Inhaca se klein nedersetting. Ek het nog nooit tevore gesnorkel nie en bespreek vir die uitstappie na die Santa Maria-koraalrif op Inhaca-eiland – teen $40 (R480).

Ek snorkel saam met Chris en Anje van Rooyen van Bloemfontein. “Ons is letterlik Saterdag getroud!” vertel Chris opgewonde.

Dié jong paartjie geniet hulle wittebrood op die water terdeë. Ons besluit ook die reddingsbaadjie-tan is die nuwe boere-tan.

Eers vaar ons sowat 16 km tot by die rif.

Ek het laas in die tagtigs in ’n swembad op Uitenhage ’n duikbril, snorkel en “paddavoete” gedra.

Ek druk my kop onder die water. Ek hoor die vissies knibbel aan die korale en my asemhaling deur die snorkel. Massas helderkleurige vissies – hulle lyk almal soos ekstras uit Finding Nemo – glip voor my verby. Ek is ’n drywende afloerder van ’n wonderwêreld.

Terug op Portugese Eiland lê ek weg aan braaivleis en stuur ’n cocktail bokveld toe. By die lapa speel ene Sheron treffers op kitaar soos “Pata Pata” en “Gimme Hope Jo’anna”. Partytjiegangers vorm nóg ’n jolige Conga-lyn. 

Massas helderkleurige vissies – hulle lyk almal soos ekstras uit Finding Nemo – glip voor my verby.

Hier is heelwat smouse van Inhaca wat sarongs, T-hemde, juweliersware, handsakke, hoede, bier, rum en selfs houtmodelle van die MSC Opera verkoop. Ek koop ’n kokosneut (R30), druk ’n strooitjie daarin en sit salig terug.

Ek wil nog in dié poskaart vertoef, maar die mense staan reeds tou by die bootjies. Doer op die oopsee wag ons drywende hotel.


Dis ons laaste aand op die MSC Opera. In die Teatro Dell’ Opera eindig die Bollywood-konsert met ’n spreekwoordelike knal. “If you love what you do and do what you love, you never work a day in your life,” sê Stephen van die verhoog af.

Stephen en sy span sing “Always look on the bright side of life”, die skip se indoenas sluit aan op die verhoog, blink papiertjies reën neer uit die dak, die gehoor is op hulle voete en gee staande applous.“Time to say goodbye” is die gepaste encore. Dis tyd om die borrel van die MSC Opera te groet. Wanneer ons oor ’n paar uur wakker word, sal die skip reeds in Durban se hawe wees, en wag die “regte lewe” weer op ons.

Ja, soms raak dinge ’n bietjie laf en lawaaierig op die skip, maar op watter ander vakansie kan jy ontvlug na ’n wêreld in die oortreffende trap: waar die lewe elke dag ’n lied is, waar alle Suid-Afrikaners saam kuier en diski-dans, en beurtkrag ’n buitelandse probleem is...

Ja, soms raak dinge ’n bietjie laf en lawaaierig op die skip, maar op watter ander vakansie kan jy ontvlug na ’n wêreld in die oortreffende trap?


Weet voor jy waai

Wanneer? MSC se Suid-Afrikaanse plesiervaarte is seisoenaal. Die 2017-’18-seisoen is van 3 Desember 2017-15 April 2018. Die MSC Sinfonia vaar hierdie seisoen op ons waters. 

Waarheen? Die meeste vaarte vertrek uit Durban en wissel van 3 tot 4 nagte na bestemmings soos Portugese Eiland en Pomene. Daar is ook korter Nowhere-vaarte (2 nagte) wat van Kaapstad vertrek. 

Hoeveel kos dit? Kajuite – jy kry binnekajuit, see-uitsig, balkon en suite – begin van R 3520  p.p. ’n Kajuit met ’n see-uitsig kos vanaf  R 6 560 p.p. en ’n balkon kan by R 7150 p.p. of duurder gaan draai. (Hierdie is slegs voorbeelde van pryse op sekere vaarte, besoek www.msccruises.co.za vir ’n volledige uiteensetting van al die opsies.) Dit hang af van die bestemming en aantal nagte van jou vaart. 

Jy betaal ook ’n hawetarief van ’n paar honderd rand. Kinders jonger as 18 reis gratis, maar daar is voorwaardes. Prys sluit blyplek en alle etes en vermaak in. Drankies en spesifieke aktiwiteite kos ekstra. Jy kan tot 50% afslag op die kaartjieprys kry as jy vroeg bespreek. Doen navraag oor spesiale aanbiedinge, veral vir groepe.

Geldsake op die skip? Die geldeenheid op die skip is die Amerikaanse dollar. Hier is verskeie spesiale aanbiedinge en pakkette waarmee jy jou rande kan rek, maar neem kennis van die fynskrif: Byna elke transaksie op die skip sluit ’n bykomende “dienstarief” van 15% in...

Wat bring ek saam? Onthou jou paspoort, hoed, sonroom en sonbril. Pak lig, maar bring iets deftigs saam vir die gala-aand. Jy wil nie noodwendig in Crocs rondtrippel as jy die kaptein se hand skud nie. Onthou ook om voor die tyd geld te trek – kontant (rande is voldoende) is koning op Portugese eiland. 

Wenk Pak ’n deeglike apteektassie met basiese medisyne. 

Kontak? www.msccruises.co.za * 087 075 0850

Hierdie storie het oorspronklik in Weg #129 (Julie 2015) verskyn.

Ondersteun ons

Hier by Weg wil ons aanhou om vir julle, ons lesers, uitstekende stories wat jy nêrens anders kan kry nie, te produseer. Maar soos jy nou gelees het – dié stories verg harde werk en dit kos geld. 

Die wêreld is vinnig aan’t verander, en Weg moet ter wille van sy eie voortbestaan saam verander en nuwe planne maak. Dit maak finansieel geen sin om ons kosbare stories gratis in die digitale wêreld weg te gee nie. Dis hoekom die meeste van ons stories op die webwerf nou agter ’n betaalmuur is.

Vir slegs R99 p.m. het jy nou toegang tot ál Weg en ons sustertydskrif Weg Ry & Sleep se tydskrifstories aanlyn asook ander puik Afrikaanse titels soos Huisgenoot, Sarie, Landbouweekblad, Baba en Kleuter, Rapport en 35 ander Afrikaanse koerante... Ondersteun ons asseblief sodat ons kan aanhou stories vertel. 

Klik hier as jy nog vrae het oor die betaalmuur.