FOTO'S: SHELLEY CHRISTIANS

Dis ’n mistige Saterdag en die winterson sak in ’n pienk gloed terwyl die Bloutrein die Kaapse voorstede agterlaat en haar weg deur die granietkoppies van die Paarl baan. Van hier waar ek in die uitkykwa sit – die agterste wa met groot vensters aan drie kante – sien ek die silhoeët van die Taalmonument skuins ná vyf verby flits.

Net ’n klein groepie van die sowat 30 passasiers aan boord van die 1 660 km lange rit van Kaapstad na Pretoria (oor twee nagte) sit hier in die leunstoele na die boorde en wingerde van die Boland en kyk. Die res is reeds aan die tittewyt vir vanaand se viergangete. (Vroeër het ’n vrou benoud gefluister: “Moet ons regtig balrokke aantrek?”)

’n Mens kan in die trein rondbeweeg vir verskillende uitsigte op die omliggende landskap.

Die ys in my skemerkelkie rinkel saggies saam met die wieg van die trein. Die klik-klak van die wiele, die Texas-twêng van ’n Amerikaanse paartjie langs my, en die lang vokale van die groep Australiërs in die hoek vorm – snaaks genoeg – strelende agtergrondmusiek.

Die trein het skaars ’n uur gelede weggetrek en reeds kan ek voel hoe my stres wegsmelt saam met die laaste lig. Oor die volgende 41 uur sal die trein skuins oor Suid-Afrika sny, deur plekke soos Beaufort-Wes, De Aar, Kimberley, Klerksdorp en Johannesburg.

Die Bloutrein is ’n vyfsterhotel op wiele en is al agt keer as die beste luukse trein ter wêreld aangewys by die World Travel-toekennings (en dit dra ook al die afgelope tien jaar die titel as die beste luukse trein in Afrika). Die Amerikaanse ontwerper David Barrett het in die laat jare negentig die trein se binneruim versier – dis ’n kombinasie van ouwêreldse glans en safari-sjiek, en dit wat nie met ’n houtpaneel uitgevoer is nie, is verguld. Die Bloutrein is ’n statige ou dame, maar sy dra nie meer die jongste modes nie. “Dié gordyne is in 1997 gehang en so laat staan,” hoor ek een van die passasiers mor.

Mosa Matlhatsi, die kos- en drankbestuurder aan boord, werk al sowat 15 jaar op die Bloutrein en sorg dat die sjef en haar span voorsiening maak vir gaste se spesiale dieetvereistes en hou ook ’n oog oor die drie kroeë op die trein.

Ek was ’n bietjie senuagtig toe ek vooraf lees oor al die weelde wat wag... Ek het ook gewonder of ek ’n balrok iewers moet leen en of ek sal weet watter mes en vurk om vir watter gang te gebruik. Mense soos press. Nelson Mandela en Cyril Ramaphosa, die supermodel Naomi Campbell en sanger Elton John het immers al met die Bloutrein gery.

Maar ek het verniet geïntimideer gevoel: Die Bloutrein is luuks, maar dis nie ’n stywe affêre nie. Ons butler, David Malinga, het my en die fotograaf Shelley Christians flink na ons De Luxe-suite begelei en gewys hoe alles werk. Dis reg, jy het ’n persoonlike butler om jou te help met wat jy ook al nodig het, of jy nou jou haardroër by die huis vergeet het of jou bloes gestryk wil hê.

Bedags is al die passasiers netjies-formeel geklee en saans moet mans ’n baadjie en das na die eetsaal dra terwyl die meeste vroue ’n elegante broekpak of rok aantrek. Die balrok is dus oorbodig, hoewel niks jou keer ingeval jy ’n bietjie wil pronk nie...

Bedags vou die bed in jou suite op om ’n gemaklike sitbank te vorm.

Grootse vlaktes en ’n groot gat

Terwyl ons knus onder wit donsduvets geslaap het, het die trein spoed opgetel deur die Hexriviervallei tot op die Karoo-plato (sy kan tot 90 km/h haal). Toe ons vroegoggend die blinding voor die venster in ons suite ooptrek, skuif die wye vlaktes en koppies naby Beaufort-Wes verby – vir die eerste keer wens ek die vensters kon oopmaak sodat ek die bossiereuk kan inasem.

Ná ontbyt trek die uitkykwa my weer. Sommige passasiers sit en staar na buite, ander drink koffie en blaai deur tydskrifte. Daar is Wi-Fi aan boord, maar dis meestal óf baie stadig óf buite ontvangs; dus sien jy selde iemand op hulle selfoon speel.

Ons is ’n uiteenlopende spulletjie: Amerikaanse toeriste op pad na die Sabi Sand-wildreservaat; ’n Australiese viertal wat nie uitgepraat kan raak oor Botswana nie; paartjies van Kaapstad, Johannesburg en Pretoria met ’n verjaardag of ’n huweliksherdenking op die kalender...

Toe ons rondom tienuur die De Aar-stasie binnerammel, is die kontras tussen die weelderige trein, die vullis wat teen ’n draad wapper en die stukkende bankies op die perron skril. Die platteland is mooi, maar trek meestal swaar.

Die boere woeker egter ten spyte van die droogte: skape en springbokke wei in die veld en daar staan katoenbale by die GWK-graansuiers op Modderrivier opgestapel.

Die kenmerkende blou-en-goud waens van die Bloutrein op die Kimberley-stasie.

Die treinbestuurder, Bonga Mhlongo, is net so hard aan die werk in die eetsaal, besig om toe te sien dat alles eksieperfeksie lyk vir middagete (bobotie of Weskustongvis is op die spyskaart). “Ja, my werk is om seker te maak die gaste het alles wat hulle nodig het, van tandestokkies tot die beste Suid-Afrikaanse wyne.” Hy stryk sy hande oor die wit tafeldoek.

“Ek geniet dit om mense se drome te help waar maak – sommige gaste spaar jare om op die Bloutrein te ry en baie Suid-Afrikaners vier spesiale geleenthede aan boord. Dit gaan alles oor die details.”

Dié besonderhede is oor die afgelope sowat 70 jaar verfyn, maar die Bloutrein se geskiedenis strek selfs verder terug, na die 1920’s toe die Union Limited- en Union Express-stoomtrein die Kaapstad-hawe met die diamant- en goudvelde van Johannesburg verbind het. Die oorspronklike houtwaens is in 1937 met saffierblou staalwaens vervang en in 1946, ná die Tweede Wêreldoorlog, is die naam amptelik na die Bloutrein verander. Daar is tans twee elektriese lokomotiewe wat onder die Bloutrein-vaandel ry – hulle is in 1997 en 1998 bekend gestel.

Jy kan meer leer oor die geskiedenis van die diamantvelde op die uitstappie wat op die roete aangebied word. Toe die trein net voor 3 nm. by die Kimberley-stasie intrek, staan bussies gereed om ons na die Groot Gat en die Kimberley-mynmuseum te neem (sien kassie). Ná ’n kort fliek oor die myn, vat ’n gids ons om die myngat en ’n versameling diamante te sien. De Beers het glo R50 miljoen aan die spoggerige museum bestee – ek wens ons kon meer tyd hier deurbring, maar ons moet terug stasie toe.

Terwyl jy rustig slaap in jou suite, maak die treindrywer, Bradwill van Staden (links), en sy assistent, Melvin Malebo, seker jy bereik jou bestemming veilig.

Net ná sonsondergang sit ek en Shelley aan vir aandete met ons neuse so te sê teen die ruit: Dis donker buite, maar ons hoop om die flaminke by Kamfersdam, sowat 10 km buite Kimberley, te sien. Shelley is oortuig sy kan die buitelyne van dié watervoëls teen die stadsliggies uitmaak.

Ek sien niks en konsentreer eerder op my hoofgereg: ’n Hoenderborsie gevul met pikantrissies en fetakaas. Kelners beweeg flink op en af in die wiegende eetsaal, waar ’n klein lamp by elke tafel die porseleineetservies, kristalglase en silwermessegoed in ’n sagte gloed baai.

Ek het ook gewonder of ek ’n balrok iewers moet leen en of ek sal weet watter mes en vurk om vir watter gang te gebruik. Mense soos press. Nelson Mandela en Cyril Ramaphosa, die supermodel Naomi Campbell en sanger Elton John het immers al met die Bloutrein gery.

Esther Ndlovu, die sjef, en haar span kook met elke ete fynproewersgeregte, en ek het vanaand moeilik gekies tussen die hoenderhoofgereg en die bieffilet met biltong en bloukaas. (Ek het op die ligter gereg besluit, want ’n mens ly beslis nie honger op die Bloutrein nie – dit voel asof ons net minute gelede aan handtertjies en komkommertoebroodjies gesmul het met die middagtee in die kroegwa.)

Ná ete kan jy in die klubwa met ’n Kubaanse sigaar en konjak ontspan, maar almal blyk moeg te wees vanaand en verdwyn na hulle kamers. Die rit staan einde se kant toe en die atmosfeer is gedemp. Laataand hoor ek die droefgeestige note van ABBA se “Chiquitita” deur die houtmuur syfer. “Chiquitita, tell me what’s wrong...”

Reis in styl

Die Bloutrein het verskeie waens waar passasiers kan uitspan – hier geniet passasiers middagtee in die kroegwa.

Treinry maak jou hande én jou oë los. Jy hoef nie te bestuur nie en beweeg stadig deur die landskap – jy sien die bloukraanvoëls wat jy sou miskyk teen 120 km/h op die N12. En jy kan rondbeweeg tussen die waens vir verskillende perspektiewe op die omgewing.

Jy kry ook ’n voorskou van menige interessante streek: Die berge van die Wes-Kaap, die woestynagtige vlaktes van die Noord-Kaap, die doringveld van Noordwes, die grasvelde van Gauteng...

Die trein is om 6.30 vm. deur Eikenhof in Johannesburg en op die stasies, wat nou vinniger opmekaar volg, wag duisende op ’n trein om hulle werksweek te begin.

Ons bereik die Pretoria-stasie om 10.30 vm. Terwyl ons afklim, dink ek aan Bonga se woorde vroeër: “Elke rit is anders, vir die gaste en ook vir my. As ek sien almal klim met ’n glimlag van die trein af, weet ek ons het ons goed van ons taak gekwyt.”

Ek kyk na my medepassasiers en sien net tande.

WEET VOOR JY WAAI

Die Bloutrein-span staan altyd reg om jou rit so gerieflik as moontlik te maak. “Die gewildste drankie wat ek bedien, is ’n G&T,” sê Prince Mashangoane, die kroegman.

Hoe werk dit? Die trein ry twee tot agt keer per maand die roete tussen Kaapstad en Pretoria (gaan na www.bluetrain.co.za vir spesifieke datums).

Dit vertrek gewoonlik op ’n Donderdag of ’n Saterdag om 4 nm. uit die Kaapstad-treinstasie in Adderleystraat. Draai in by Old Marine-rylaan en meld by die Bloutrein-ontvangslokaal aan. Die trein bereik die Pretoria-stasie in Salvokop om 10.30 vm. op die derde dag van die reis.

Ander roetes? Die Bloutrein ry ook van Pretoria af na Kaapstad. Jy kan die trein huur (“charter”) vir ritte na onder meer Sun City, die KwaZulu-Natalse Middelland en die Krugerwildtuin.

Ry die Gautrein: Daar heers spanning tussen die bestuurders van Uber-taxi’s en gewone motortaxi’s in Pretoria en dis gevaarlik om van dié dienste by die stasie gebruik te maak. Die Gautrein-stasie is net ’n paar treë van die Bloutrein-ontvangslokaal af.

Jou persoonlike butler sal jou ook na jou suite vergesel op die Kaapstad-stasie.

Hoeveel kos dit? ’n Eenrigting-kaartjie vir twee nagte in ’n De Luxe-dubbelkamer kos vanaf R18 405 p.p. wat deel; ’n Luxury- dubbelkamer kos R23 050 p.p. wat deel. Halfprys vir kinders 6-11 jaar; gratis vir kinders jonger as 5. Dié pryse geld buite seisoen en styg in Januarie 2020. Die spitsseisoen is van 1 September tot 15 November. Die bedrag sluit alle etes, drankies, versnaperinge en die uitstappie na die Groot Gat in. Franse sjampanje, kaviaar en telefoonoproepe is uitgesluit.

Is dit die geld werd? Dit hang af waarvan jy hou. Vir ’n spesiale geleentheid, ’n bederf vir ’n treinentoesias of as ’n rustige, weelderige uitstappie al lank op jou droomlysie is – ja! Maar as jy wik en weeg of jy eerder jou geld op ’n oorsese reis moet uitgee, moet jy in ag neem dat dié aardige bedrag ook vir jou twee weke in Turkye (en ’n groter verskeidenheid dinge te sien en doen) kan koop...

Hoe lyk die kompartemente? Die Luxury-suite (5 x 2 m) het twee enkelbeddens of een dubbelbed met ’n bad. Die De Luxe-suite is kleiner (4 x 2 m) met óf twee enkelbeddens en ’n stort óf ’n dubbelbed en ’n bad. Die beddens vou op om bedags sitbanke te vorm (jou butler doen dit vir jou).

Die kompartemente is maar knap; pak dus een oornagtas en stoor die res van jou goed in die bagasiewa.

Onthou, net een van die treine is toeganklik vir mense wat rolstoele gebruik. Doen vooraf navraag.

Kontak: 012 334 8459 (Pretoria); 021 449 2672 (Kaapstad); www.bluetrain.co.za

Bykomende bronne: seat61.com; trainsafari.co.za

Martinette en Shelley het as gaste van die Bloutrein gereis. Weg het ’n deel van die koste betaal.

Dis Kimberley se Groot Gat!

Op die tweede dag vertoef die Bloutrein vir sowat vier en ’n half uur op die Kimberley-stasie en diegene wat belang stel, kan die Groot Gat en die Kimberley-mynmuseum besoek.

Die Kimberley-myn was byna ’n eeu lank die rykste ter wêreld en 2 720 kg se diamante is tussen 1871 en 1914 hier ontgin – sowat drie koekepanne vol! Die Groot Gat is ook een van die diepste myngate ter wêreld wat met handearbeid gegrawe is en beslaan ’n oppervlakte so groot soos 17 rugbyvelde.

Op ’n begeleide toer kan jy die Groot Gat sien, meer leer oor mynwese en diamante van nader bekyk in die reuse-brandkluis. Jou kop gaan draai van al die blink!

Ek wil op my eie gaan! Die museum is in Tuckerstraat en is elke dag oop van 8 vm.-5 nm. R120 p.p.; R80 per kind 4-12 jaar. thebighole.co.za; 053 839 4600