Anelenie Smit 

Smeer ’n lagie Vaseline aan jou voete en dra goeie sokkies. Dit help dat jy nie blase kry van die stap nie.

Albert Smit 
Vang die ervaring op ’n kompakte videokamera vas en herleef dit by die huis.

Adri Visser
Dit was verfrissend om in stilte te stap (die gidse verkies dit so). ’n Mens klets dikwels so baie op ’n staptog jy loop dinge mis. Dit het gevoel asof ’n mens net weer jou liggaam en siel kan “reset”.
Die handigste ding wat ek ingepak het was ’n buff – dis koel in die oggende en laatmiddag op die wildkykvoertuig (ons het in Junie gestap).

Richard Mayne
Oorweeg om die aand voor en ná die staproete ook in die wildtuin te oornag. Tegnies kan ’n mens van Gauteng af ry in ’n dag, maar dis ’n dolle gejaag. 

Charlotte Mayne
Maak seker jou kamera en slimfoon is gelaai en bring ’n ekstra battery of kragbank. Glo my, jy gaan duisende foto’s neem.

Gert van Dyk
Dis asof jy terugstap in tyd. Die landskap het duisende jare gelede ook só gelyk. Van die bome waar jy verbystap, staan al jare hier. 

Estelle van Dyk

’n Langbroek waarvan die pype kan afrits, is ’n goeie idee, sowel as kamaste – hier’s baie klitsgras. 

’n Mens wil nie onnodige goed saamdra nie, maar goeie veldgidse is van waarde, ook vir ander stappers, veral as daar oorsese besoekers in jou groep is, vir wie ’n mens die k.b.v.’s (klein bruin voëltjies) kan wys. Ons Guide to BIRDS of the Kruger National Park het byval gevind. O ja, en onthou ’n soetwyntjie vir die aande om die kampvuur. 

Esma Marnewick 

Al jou etes is ingesluit, maar as jy lief is vir peusel, pak neute, biltong en droëwors in, en jellie-lekkers. En bring genoeg bier, veral in die somer. Nog ’n ding wat in jou dagsak moet wees, is ’n verkyker. Die diere laat spaander sodra hulle bewus word van jou, maar sal dan gewoonlik weer ’n ent verder stilstaan en dan kan jy hulle met ’n verkyker bekyk.


Henk Seevinck 

Dis ’n voorreg om so eksklusief te bly en stap in die wildtuin. As ek iets kon verander, sou ek ’n kollig op die wildkykvoertuig sit vir as ’n mens in die aande terugry na die boskamp toe.

 

Grieta Boshoff 

Die terrein is soms klipperig – moet dus nie met tekkies kom stap nie. Stapstewels is nie ’n moet nie, maar maak seker jou skoene is stewig.

Christa Seevinck
Stap verkieslik met ’n langbroek, want die lang gras krap jou bene. Die twee manne wat kamaste gedra het, het nie gesukkel met grassade in hulle kouse nie.

Bart Seevinck
Ek is verbaas hoe baie diere ons gesien het. Saans is hier amper so baie sterre soos op my plaas noord van Vryburg! Dis food for the soul, soos die Engelse sê…

Ewout Verschoor, staptoerveldgids

Elke seisoen het sy bekoring. In April en Mei is die weer gematig. Die veld is nog mooi met baie veldblomme en skoenlappers. Dit kan wel swaar dou. 
Voëlkykers moet in die somer kom, dan is al die trekvoëls hier, die veld is op sy mooiste, en hier’s baie jong diere. Maar onthou dis ook dan reënseisoen. 

Paklysie

Stapskoene

Plakkies

Hemp

Kortbroek en kamaste, of ’n afritslangbroek

Klere vir by die boskamp

Sonhoed

’n Mus of buff

Warm baadjie

Dagrugsak

Verkyker

Kamera

Voëlgids

Sonroom

Koplamp

Muskietweerder

Malariapille

Poncho in die reënseisoen (somer)

Klik hier vir nog inligting oor die wildtuin se wildernis-staproetes.

Lees die volledige storie in Weg se Oktober-uitgawe wat tans op die rakke is of bestel een hier

Of bestel Weg se 2017 Krugergids hier vir R55 en beplan ’n lekker la-a-ang vakansie in die Bosveld.