Marie van Schalkwyk van Durbanville skryf: Ek het wonderlike herinneringe aan seevakansies in Namakwaland. As kinders het ons geweet as ons by die Clanwilliamdam se petrolpomp intrek, is die see nie meer ver nie.

Net ná Koekenaap vat ons die grondpad en wanneer ons deur die hekke duskant Skaapvleiplaas ry, rek ons nekke soos skilpaaie s’n om eerste die see te kan sien. Ons adem die koel soutseelug in, soos ’n dier wat windop prooi ruik.  

En dan draai ons af na Gert du Toit se Baai. Die blou dam met sy ruwe kus lê soos ’n skildery voor ons. Nou volg daar dae van pret en plesier. Jy staan vroegoggend op en eet koffie en beskuit. Daarna word ons “gepleister” met sonbrandroom, want net honger en dors bring ons terug kamp toe. 

Ek het dikwels stoksielalleen vir kilometers van rots tot rots gespring en met laagwater die helder getypoele verken. Of saam met my broers, niggies en nefies geswem in die sloepe waar die see tussen die rotse deur spoel.  

Laatmiddag, wanneer die son in die see begin verdrink, drom ons saam om die vuur in die skerm tussen geure van vars vis op die kole.  
En die beste van alles – ek hou nog steeds daar vakansie!

Het jy ou foto’s van gesinsvakansies en -reise uit toeka se dae? Stuur dit na suzaan.hall@media24.com en ons gebruik dit dalk in die tydskrif!