Hy is ’n bekende gesig op televisie en plaaslike verhoë, maar hy is ook ’n adrenalienverslaafde wat altyd op soek is na sy volgende avontuur. Én dan is Paul du Toit ’n kampeerder in murg en been.

Daarom kan ’n mens skaars dink aan ’n beter aanbieder vir die nuwe kampprogram Kom ons kamp, wat vandeesmaand op Via (kanaal 147 op Dstv) begin. In dié werklikheidsreeks neem drie spanne per episode aan ’n reeks uitdagings deel in die hoop om uiteindelik as die kampkampioene gekroon te word.

Ons was by die verfilming van ’n hand vol episodes en het Paul uitgevra oor sy gunstelingkampbestemming. Sonder om vir ’n oomblik te aarsel het hy geantwoord Mdumbi is boaan sy lys.

Vertel ons meer van Mdumbi.

Dis net een van daardie plekke wat elke keer jou asem wegslaan as jy hier kom. Dit lê in die hartjie van die Transkei, met een van die mooiste strande waarvoor jy kan vra in een van die mooiste dele op ons vasteland, en jy word omring deur die natuur.

Hulle bedryf dinge op ’n ekovriendelike manier en is baie betrokkie by die ontwikkeling van die plaaslike gemeenskap – en dís iets waarby ek aanklank vind. Die personeel is vriendelik en behulpsaam, en hier heers oor die algemeen ’n kalmerende atmosfeer.

Hoe lyk die kampterrein?

Ons het met ’n tent kom kamp en hier skort niks in die kampterrein nie. Die staanplekke het ’n goeie mate van privaatheid, jy kamp op gras en hier is ’n toegeruste gemeenskaplike kombuis en ontspanningskamer.

Dis net een van daardie plekke wat elke keer jou asem wegslaan as jy hier kom.

Is die ablusiegeriewe voldoende?

Die geriewe is basies en Spartaans, maar jy het in elk geval nie veel meer as ’n stort, wasbak en toilet nodig nie. Die sonpanele sorg vir die warm water en die badkamers word ook deurgaans skoon en netjies gehou.

Waarmee hou ’n mens jou besig wanneer jy hier kamp?

Hier is ’n magdom doendinge. Ek is versot op aksie en avontuur, en is veral gaande oor branderry. Dit is een van my gunstelingbestemmings met my branderplank. Maar jy kan ook hier kom swem, snorkelduik en hengel.

Of sommer net op die strand ontspan. In die oord se ontspanningskamer kan jy balle op die pool-tafel rondjaag, jou voor die televisie tuismaak of ’n boek in die biblioteek kry en onder die bome gaan ontspan. Hier is ook ’n speelpark vir die kinders en selfs ’n spa waar jy vir ’n masseersessie kan gaan aanklop.

Is hier verblyf vir nie-kampeerders?

Ja, hier is rondawels, voltydse tente en gemeenskaplike kamers, oftewel dorms, soos die rugsakreisigers dit noem.

Is hier ’n winkel?

Ja, jy kan basiese dinge hier koop, en as jy die slag nie lus voel om in die gemeenskaplike braaideel jou eie vleis te braai nie, kan ek die oord se restaurant ten sterkste aanbeveel. Hulle bederf jou hier met heerlike tuisgekookte etes. Jy bestel ontbyt en middagete van die spyskaart af, maar die aandete is vasgestel en jy kan enigiets van braaivleis tot garnaalkerrie verwag. Hulle het eenkeer selfs marog en potbrood voorgesit!

Hoe lyk die pad?

Dit is die ou Transkei en dit kan nogal uitdagend raak, maar ons het dit met ’n 4x2-bakkie baasgeraak. Ek sou sê jy moet minstens ’n stewige kar met ’n goeie grondvryhoogte hê.

Kontak 083 461 2801; mdumbi@mdumbi.co.za; mdumbi.co.za

GPS S31.940301 E29.214367